Wenner van US-JIP Matrikulant van die Jaar-kompetisie aangewys
Die 2012 US-JIP Matrikulant van die Jaar wil graag verandering in Suid-Afrika teweegbring.
Lance van Rooy, hoofseun van The Settlers High School in Bellville, is Donderdag 30 Augustus aangewys as die wenner van die kompetisie tydens ‘n funksie wat by die Wallenberg Navorsingsentrum in Stellenbosch aangebied is. (Kyk video hier)

Die 20 finaliste in die US-JIP Matrikulant van die Jaar kompetisie, met die wenners voor. Hulle is Aldu Duminy, Llewellyn Stevens, Lance van Rooy, Anica Pretorius en Nane Zietsman. (Foto: Justin Alberts)
Hy was een van 20 finaliste wat deur die Universiteit Stellenbosch en JIP (jeugbylaag van Die Burger, Beeld en Volksblad) genooi is om na Stellenbosch te kom vir ‘n onderhoud en om die prysuitdeling by te woon. Lance het weggestap met onder meer ‘n beurs ter waarde van R40 000 en ‘n Dell-skootrekenaar ter waarde van R12 000.
Vier ander leerders het toekennings vir uitnemendheid (‘n beurs ter waarde van R30 000 en ‘n Dell-skootrekenaar te waarde van R12 000) ontvang. Hulle is Aldy Duminy van Hoërskool Langenhoven op Riversdal, Anica Potgieter van Hoërskool Oudtshoorn, Llewellyn Stevens van Hoërskool Vredendal en Nane Zietsman van Hoërskool Stellenbosch.
Die 15 ander finaliste het nie met leë hande weggestap nie. Hulle het almal ‘n beurs ter waarde van R10 000 van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Soos die seremoniemeester, Elana Afrika, dit gestel het: “Almal wat vanaand hier is, is wenners.”
Lance het in sy toespraak gesê hy hoop hy sal ‘n waardige ontvanger van die prys wees, en hy het ook sy dank uitgespreek teenoor sy ma, wat so baie vir hom opgeoffer het.
“Ek glo Suid-Afrika is in goeie hande wanneer ek na die matrikulante kyk wat hier is,” het hy gesê.
Sy ma, Mercia van Rooy, het gesukkel om die regte woorde te vind om uit te druk hoe trots sy op haar seun is. Maar sy het nog altyd geglo dat hy die potensiaal het om hoë hoogtes te bereik.
“In graad 8 moes hulle skryf hoe hulle hulself in 2012 sien. Toe sê ek ‘jy moet skryf jy gaan hoofseun van die skool wees’,” het sy gesê.
Lance is nie net die hoofseun van sy skool nie; hy is ook ‘n akademiese uitblinker en ‘n kranige sportman. Hy is die kaptein van sy skool se eerste rugby- en basketbalspan en speel ook krieket. Hy is verlede jaar opgeneem in die Suid-Afrikaanse o.18 basketbal-oefengroep. Hy het ook deelgeneem aan debatte en danskompetisies. Hy beplan om regte op Stellenbosch te studeer.
Prof Russel Botman, Rektor en Vise-kanselier van die US, het die leerders vertel die Apollo-era het geëindig met die afsterwe van die Amerikaanse ruimtevaarder Neil Armstrong en dat hulle nou deel is van die Curiosity-era (met verwysing na die Curiosity-verkenningstuig se missie na Mars).
“Wees Curiosity-mense. Gaan verder as voorheen. Laat jou spore op ‘n nuwe plek,” het hy hulle aangemoedig. Prof Botman het die leerders ook uitgenooi om hulle spore hier op Stellenbosch te laat.
Quintin van Staden, verlede jaar se wenner, is tans ‘n mediese student aan die US en het ook die funksie bygewoon.
“Ek kan nie vir jou verduidelik hoe hierdie toekenning my lewe verander het nie,” het hy gesê.
“Dit was tot dusver ‘n wonderlike jaar. Ek is steeds geskok dat ek gewen het, en ek kon nie my rug draai op ‘n instelling wat soveel vir my gedoen het voor ek enige iets vir hulle gedoen het nie.”
Quintin beskryf die geleentheid as ‘n hoogtepunt in sy lewe en het gesê Donderdag se funksie het hom net weer daaraan herinner watter talent daar in Suid-Afrika is.
Hy het die wenner aangeraai om sy sukses te geniet, die oomblik te koester en dit saam met sy geliefdes te vier.
Die ander wenners het almal saamgestem dat hulle oorweldig voel deur die feit dat hulle gewen het en het dit as ‘n groot eer en voorreg beskryf.
Die borge van die geleentheid was die Universiteit Stellenbosch, Kids Development Academy, Human & Rousseau, Tafelberg Uitgewers, Dell en ENB.

August 31, 2012 

Geen kommentaar tot op hede nie...