US hou lentebal in Johannesburg ten bate van die HOOP Projek
ʼn Suksesvolle lentebal ten bate van die Universiteit Stellenbosch (US) en sy HOOP Projek het Saterdagaand (1 September 2012) in Johannesburg plaasgevind.

Van links, dr Tito Mboweni, me Beryl Botman, prof Russel Botman, me Fumani Mthembi en mnr Rupert Mthembi by die US-Lentebal. (Foto’s: STEVE WAGNER)
Sowat 220 gaste het dié spoggeleentheid by die Wanderersklub in Illovo bygewoon. Twaalf maatskappye en vyf individue het saam 23 tafels geborg, en 19 wynkelders en ʼn juwelier het items geskenk wat vir fondsinsameling aangewend is (sien lys onder).
Prof Russel Botman, die rektor en visekanselier, het die gaste vir hul ondersteuning bedank. “Ons is trots daarop dat die Universiteit tot die ontwikkeling van ons land en vasteland bydra,” het hy gesê.
Mnr Johann Fourie van Steinhoff het by navraag gesê hy het ʼn tafel geborg want “die HOOP Projek-verdien steun, en elke bydrae kan ʼn verskil maak aan die toekoms van jong studente”.
Van die wyn is opgeveil ten bate van die Rektor se Uitstygtoekennings, waarmee jaarliks erkenning gegee word aan studente wat akademies uitblink ondanks struikelblokke soos moeilike sosio-ekonomiese omstandighede, beperkte geleenthede of liggaamlike gestremdheid.
“Dit was ʼn heerlike aand. Beide Soli (Philander, die seremoniemeester) en die musikante (Jonny Cooper Orchestra) was baie goed. Ek kan nie onthou wanneer laas ek op die maat van ‘n swing-orkes gedans het nie,” het me Beth van Heerden van FirstRand gesê.
As blyk van waardering het die damesgaste ʼn pashmina ontvang waarop die HOOP Projek-kenteken geborduur is. Die mans het ʼn gestreepte strikdas ontvang, wat herinner aan die gestreepte kleurbaadjie wat Maties jare gelede tydens intervarsity gedra het.
“Al die mans aan ons tafel het dadelik hul strikdasse met dié van die US vervang. Hulle het baie oulik gelyk,” het Van Heerden gesê.
Botman het gesê die feit dat skenkers tot die HOOP Projek bydra, wys dat hulle voorstanders van ontwikkeling is, en die posisionering van die US as die samelewing se kennisvennoot steun.
“Een van ons belangrikste uitdaging nou is om ons vordering volhoubaar te maak. Die snelle pas van verandering in die 21ste eeu vereis ʼn kwantumsprong van ons,” het Botman gesê.
“Ons grootste prioriteit is om die US te omskep in dié plek waar ons land en vasteland se volgende geslag leiers gevorm word. En daarvoor het ons top-fasiliteite nodig.
“Ek kan vanaand onthul dat ons ʼn nuwe onderrig- en leersentrum beplan. Ons beoog ʼn veeldoelige, aanpasbare gebou met moderne lesinglokale en elektroniese toerusting vir ʼn dinamiese, interaktiewe ervaring.”
Die US is voornemens om dié nuwe gebou – met ʼn ondergrondse parkeergarage – op die huidige parkeerterrein agter die Neelsie Studentesentrum op te rig.
Botman het voornemende skenkers versoek om die US te help om die pas aan te gee met “leer-, leef- en werkruimtes wat tred hou met die vereistes van die hede én die toekoms.”
Tafelborge (in alfabetiese volgorde) volg onder.
Maatskappye: Busmark 2000, Deloitte & Touche, FirstRand, Investec, Media24, Naspers, Oud-Maties Gholfklub (Gauteng), PricewaterhouseCoopers, Remgro, Sanlam, Standard Bank en Unitrans.
Individue: mnr Johann Fourie, mnr Jorrie Jordaan, mnr Andrew le Roux, dr Tito Mboweni, me Jane Slabbert, en verskeie alumni.
Wynskenkers: Anthonij Rupert Wyn, Asara, Delaire, Delheim, Distell, Jordan Wyn, Ken Forrester Wyn, Kleine Zalze, La Motte, Louis Wyn, Neil Ellis Wyn, Overgaauw, Paul Cluver Wyn, Phizantekraal, Simonsig, Tokara, Waterford, Welgevallen en Yonder Hill.
Daneel Diamond Manufacturers het juweliersware geskenk, wat deur middel van ʼn geluktrekking aan ʼn gas toegeken is.

September 3, 2012 


Geen kommentaar tot op hede nie...