Bonsai-versameling in US se Botaniese Tuin kry amptelike naam

Met sowat 300 bonsai-boompies spog die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin waarskynlik met een van die grootste versamelings in die land.

En die versameling, waarvan die oudste boom 72 jaar oud is, kry nou vir die eerste keer ‘namptelike naam: Die Wes-Kaapse Bonsai-Erfenisversameling. Die naam word by die Suid Afrikaanse Botaniese Vereniging  geregistreer.

“Die versameling bestaan uit uitheemse en inheemse bome en ons wou daaraan ’n identiteit gee deur ’n formele naam te registreer,” sê mnr Fritz Joubert, ’n lid van die Bolandse Bonsai Kai. Die Kai het geruime tyd gelede al ’n ooreenkoms met die Botaniese Tuin aangegaan waarvolgens lede die Bonsai-versameling sal versorg. Joubert besoek die tuin sowat twee keer per week.

Een van die indrukwekkendste bome in die Bonsai-versameling in die US Botaniese Tuin. Die Koeniebos (Rhus Undulata) is in 1973 deur Louis Nel gevorm. (Foto’s: Stephanie Nieuwoudt)

Dit bevat onder meer die uitgebreide denne- en sederboomversameling wat deur wyle Becky Lucas geskep is. Sy was die eerste vrou in Suid-Afrika wat Bonsai beoefen het. Die Bonsai-skeppings van ds Gerjo van der Merwe is ook in die versameling opgeneem en bestaan onder meer uit olienhoute, kei-appelbome en Chinese olms. Sedert Maart vanjaar het die bome van wyle Louis nel van Pretoria die nuwe fokuspunt van die versameling geword. Nel, wat as die Buddleia-koning van Suid-Afrika bekend was, het die vorige jaar in ’n ongeluk gesterf. Daarna het sy dogter, Zonia, wat op Stellenbosch woon, die uitgebreide versameling op permanente bruikleen aan die Botaniese Tuin geskenk.  

“Die bome het ’n nuwe dimensie aan die versameling gegee. Van die bome het internasionale toekennings gekry,” sê Joubert.

“’n Bonsai moet aan bepaalde estetiese vereistes voldoen. Dit is ’n lewende kunsvorm en die versorger moet weet hoe om die boompies korrek te snoei. Die boom se lyne moet vloeiend wees en dit moet lyk soos ʼn miniatuurboom in die natuur. Dit moet nie soos ’n paal regop staan in die grond nie. Daar moet ritme in die stam en takkies wees en die stam moet van dik na dun gevorm wees. Daar moet harmonie wees.”

Die versorger moet ook bedag wees op allerlei insekte en siektes soos witvlieg, blaaspootjie, rooispinnekop en wortelvrot wat ʼn bedreiging vir die boom inhou.

‘n Bonsai kan in hoogte wissel van mame (heel klein) wat enigiets van 7,5 tot 10 cm hoog kan wees tot shohi met ‘n hoogte van 30 cm tot ongeveer 1 meter en chumono met ‘n hoogte van 1 meter en meer.

Mnr Fritz Joubert snoei een van die boompies.

Volgens me Viola Calitz, administratiewe beampte en regterhand van die tuin, is die Bonsai-versameling ‘n groot aantrekkingskrag vir besoekers.

“Mense hou van miniatuurvoorwerpe. Daarby is Bonsai ook ‘n kunsvorm waardeur iets mooi geskep word.”

Benewens Suid-Afrikaanse besoekers, is die versameling ook gewild onder die Britte, Duitsers, Skandinawiërs en Nederlanders.

Volgens oorlewering is die oudste voorbeeld van ‘n Japanse Bonsai sowat 1000 jaar oud.

“Dit getuig van toewyding van verskeie generasies van dieselfde familie,” sê Calitz. “Ons Bonsai-versameling moet bewaar word sodat dit ook aan verskillende generasies plesier kan verskaf.”

Joubert voeg by: “Die versameling wys waartoe Bonsai-kwekers in staat is. Daar is mense wat meen dit is die beste in die land, en ons is baie trots daarop.” – STEPHANIE NIEUWOUDT

Een kommentaar op “Bonsai-versameling in US se Botaniese Tuin kry amptelike naam”

  1. Ydalene Coetsee September 13, 2012 om 8:39

    Wanneer kan ‘n mens hierdie versameling te sien kry?

Lewer kommentaar

*