Nasionale Navorsingstigting hernu Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch kondig graag aan dat die Nasionale Navorsingstigting (NNS) die Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid hernu het.

Die stoel, wat deur prof  Servaas van der Berg beklee en deur die Departement Ekonomie gehuisves word, sal fondse vir ‘n verdere tydperk van vyf jaar van die NNS ontvang.

Dié ondersteuning is ‘n pluimpie vir die man wie se werk ‘n beduidende uitwerking het op Suid-Afrikaners se begrip van armoede en opvoeding in die land. Onder prof. Van der Berg se leiding het ‘n sterk span navorsers en nagraadse studente die afgelope vyf jaar tersaaklike navorsing gedoen oor kwessies rakende die sosiale en ekonomiese uitdagings wat die land in die gesig staar.

Die navorsingstoel het bygedra tot die befondsing van en geleenthede vir 11 Honneurs-, 15 Meesters- en 10 PhD-studente en een postdoktorale genoot. Die stoel het prof Van der Berg in staat gestel om ‘n groot getal vroulike en manlike studente van alle rasse tot op PhD-vlak te mentor. In 2010 het een van sy PhD-studente, Carlos Maia, ‘n nasionale navorsingskompetisie in Mosambiek (sy vaderland) gewen, terwyl verskeie studente beurse vir voortgesette studie in die buiteland gewen het.

Van die studies wat die navorsingsgroep onderneem het, het die volgende ingesluit: ‘n ondersoek na die uitwerking wat die internasionale ekonomiese krisis op kinderarmoede in Suid-Afrika gehad het; tot watter mate die fondse wat aan vroeё kinderontwikkeling toegeken is in werklikheid die uitkomste vir kinders in skole en crèches beЇnvloed het; ‘n kosteberekeningsoefening om die fiskale lewensvatbaarheid van die omstrede Nasionale Gesondheidsversekeringsplan te bepaal; en die daarstelling van ‘n basiese indeks vir dienste om te bepaal of munisipaliteite in staat was om munisipale dienslewering te verbeter.

Een van die veelseggendste prestasies is moontlik die feit dat die navorsingstoel bykomende fondse van meer as R10 miljoen gegenereer het hoewel dit dikwels krities staan teenoor huidige beleid en die status quo in die ekonomie. Belanghebbendes regoor die openbare, private en nie-regeringsektore ag die werk van die stoel van groot waarde. Daarby sluit die lys finansiers plaaslike en nasionale regering, die privaat sektor, internasionale finansiёle instellings en die Verenigde Nasies in.

Dit is hierdie kombinasie van relevansie en navorsing wat die NNS met hernude ondersteuning beloon het. In die motivering vir sy besluit noem die NNS dat die leerstoel se ondersteuning en opleiding van studente indrukwekkend en die koers van voltooide Meesters- en PhD-grade hoog was; dat daar belangwekkende navorsingsprestasies was en dat die navorsing vir die ontwikkeling van sosiale beleid aangewend is; en dat die stoel goeie samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), Umalusi (die sertifiseringsliggaam vir opvoeding) en die Wêreldbank bewerkstellig het.

Prof Servaas van der Berg

Die Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid word deur die NNS befonds as deel van sy Suid-Afrikaanse Navorsingstoelinisiatief (SARChI). Dit is ‘n vlagskipprojek van die regering om navorsing en innovasie aan te moedig en die kapasiteit van hoёgraadse postdoktorale studente te bevorder. Sedert dit in 2005 van stapel gestuur is, het die regering meer as R1,1 biljoen in SARChI belê.

3 Reaksies op “Nasionale Navorsingstigting hernu Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid”

  1. I think it is funny that this photo was taken like 6 or 7 years ago, but professor still looks exactly the same.

    It is rather his PhD students who look old with gray hairs (especially the student who is crazy about dogs), wrinkles, etc. What a harsh but productive reality…

  2. Congratulations Professor! You really deserve it. The research done by your team uncovers many socio-economic aspects existing in South and Southern Africa. Your skills in discovering and cultivating talent are also impressive!

  3. Ydalene Coetsee September 7, 2012 om 7:42

    Baie geluk, prof van der Berg en studente! Hierdie navorsing maak ‘n groot verskil waar dit regtig saak maak.

Lewer kommentaar

*