Simposium belig gemeenskapsinteraksie by universiteite

’n Simposium oor die toenemend belangrike rol wat universiteite in gemeenskappe speel, is Donderdag (6 September) by die Universiteit Stellenbosch (US) gehou.

Die US se Afdeling Gemeenskapsinteraksie (GI) het dié simposium vanjaar vir die vierde keer aangebied sedert dié afdeling in 2006 begin is.

Dr Lis Lange van die Universiteit van die Vrystaat was die hoofgasspreker by die Gemeenskapsinteraksie-simposium. (Foto’s: Wayne Muller)

Vanjaar se tema was “Konseptualisering van gemeenskapsinteraksie vir ’n 21ste-eeuse universiteit”. Nagenoeg 100 verteenwoordigers van verskillende fakulteite en afdelings van die US, asook ander universiteite, het die simposium in die Akademia-saal op kampus bygewoon.

Die ses sprekers het vanuit verskillende perspektiewe die rol van universiteite in die samelewing en maniere van gemeenskapsinteraksie aangespreek.

In sy verwelkoming het prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, gesê sewe jaar gelede was daar net ’n stuk papier oor die US se planne vir gemeenskapsinteraksie. “Daar was net die strategiese raamwerk; nou het ons ’n handelsmerk en identiteit, asook ’n jaarverslag. Gemeenskapsinteraksie is ’n belangrike en relevante afdeling by die US wat ’n groot impak maak.”

Dr Lis Lange, Direkteur van Institusionele Navorsing en Akademiese Beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat, was die hoofgasspreker en het oor die konsep van die 21ste-eeuse universiteit gepraat. Sy het begin deur die ontwikkelingstadia van die universiteit te belig.

“Soos wat die samelewing verander het, het universiteite se rol ook verander. In die 1980’s tot 1990’s het universiteite meer korporatief geword met ’n groter skeiding tussen die bestuur en die akademie. Postmodernisme het veroorsaak dat die konsep ‘universiteit’ nie meer universeel is nie, maar dat daar teenstrydige menings is oor wat ’n universiteit is.”

Volgens haar het hierdie teenstrydighede tot ’n identiteitskrisis vir universiteite gelei. Dit is weens die blik van buite op die universiteit, maar sy meen universiteite moet van binne hierdie identiteitskrisis aanpak.

Suid-Afrika, sê Lange, het nie ’n massa-hoëronderwysstelsel nie, maar ’n elite-stelsel in terme van toegang, sukses en pedagogie. Plaaslike universiteite lewer ook min, indien ooit, kommentaar op die toestand van die land.

“Ons universiteite se verhouding met die publiek is nie goed nie. Hoewel die universiteite openbare instellings is, help hulle nie leiding gee oor debatte in die land nie. Suid-Afrika se hoëronderwysstelsel is nog in die 20ste eeu. Ons het ’n idee van ons (interne) krisisse en kla daaroor, maar is nie bekommerd oor die krisisse daarbuite nie. Die uitdaging is dat instellings nie hulself van buite laat definieer nie, maar van binne,” het sy gesê.

Prof Catherine Odora Hoppers, wat die SARChI-leerstoel in Ontwikkelingsopvoeding aan Unisa beklee, het groeipunte vir gemeenskapsinteraksie belig. Sy het in 2010 ’n beroerte gehad en een van haar PhD-studente het haar toespraak voorgelees.

Hoppers het universiteite gekritiseer dat hulle inheemse kennis ignoreer en hul etiese rol verontagsaam. Sy meen universiteite skep kennis blitsig soos in ’n kweekhuis en verkry slegs korttermynresultate, omdat hulle studente bloot vir ’n loopbaan voorberei.

“Universiteite moet eers ’n gesprek met hulself hê voordat hulle met die gemeenskap in gesprek tree. ’n Nuwe sosiale kontrak moet ontwikkel word,” aldus Hoppers.

Prof Ronelle Carolissen van die US se Fakulteit Opvoedkunde het die konsep “gemeenskap” aangespreek. Sy sê studente en dosente definieer “gemeenskap” te dikwels in terme van eienskappe soos ras, gender en klas, en dat hulle gemeenskapsinteraksie nie baie ernstig opneem nie.

“Gemeenskapsinteraksie is ’n akademiese aktiwiteit en is deel van die kern van onderrig en leer,” het sy gesê.

Afgevaardigdes by die Gemeenskapsinteraksie-simposium in gesprek.

Die Shopfront-model van gemeenskapsinteraksie by die Sydney Universiteit van Tegnologie is deur dr Antoinette Smith-Tolken, Adjunkdirekteur: Gemeenskapsinteraksie aan die US, verduidelik.

Sy het daarop gewys dat dié model anders werk as die US se model van uitreik na die gemeenskap. “Volgens die Shopfront-model nooi die universiteit die gemeenskap om sy kwessies en uitdagings na die universiteit te bring. Toegang tot die universiteit word dus geskep, in plaas daarvan dat die universiteit die gemeenskap met sy projekte nader.”

Me Barbara Schmidt van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Knowledge Co-Op het verduidelik dat die UK die afgelope twee jaar al die Shopfront-model volg. “Organisasies uit die gemeenskap nader die universiteit om navorsing te doen oor hul uitdagings. Ons by die Knowledge Co-Op bring hulle dan in kontak met studente en studieleiers wat dié deelnemende aksie-navorsing kan dryf.”

Die GI-simposium is afgesluit met ’n skemerkelkie-geleentheid.

Geen kommentaar tot op hede nie...

Lewer kommentaar

*