Suid-Afrikaanse verbruikers word óók met vleisprodukte gekul bevind US-navorsing

Suid-Afrikaanse verbruikers word soms lelik om die bos gelei oor presies wat alles gebruik word om verwerkte vleisprodukte soos wors en hamburgervleis te maak.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het in 68% van die 139 produkte wat hulle getoets het, bestanddele gevind wat nie op hul voedseletikette aangedui is nie. Donkie, bok- en waterbuffelvleis is onder meer gevind in van die maalvleis, hamburgervleis, wors en gedroogde vleis wat getoets is. In ander gevalle is selfs plantmateriaal ontdek.

Hierdie bestanddele is nie spesifiek aangedui en verklaar op die produkte se etikette nie.

Die navorsers se bevindinge volg kort op die hakke van heelwat soortgelyke internasionale skandale waarin voedselprodukte die afgelope paar weke betrokke was.

’n Artikel hieroor het nou in die internasionale Food Control wetenskapsjoernaal verskyn. Dit is uitgevoer deur dr Donna-Maréé Cawthorn en prof Louw Hoffman van die Universiteit Stellenbosch se Departement Veekundige Wetenskappe, in samewerking met Harris Steinman van die Food & Allergy Consulting & Testing Services (F.A.C.T.S) in Milnerton.

“Ons studie wys dat daar heelwat bedrog voorkom in terme van die inligting wat op voedseletikette verskyn,” verduidelik prof Louw Hoffman van die US Departement Dierkunde. “Dis nie net ’n oortreding van regulasies rondom die etikettering van voedsel nie, maar hou ook ekonomiese, godsdienstige, etiese en gesondheidsimplikasies in.”

Die produkte wat getoets is, is almal afkomstig van slaghuise en plaaslike winkels.

Altesaam 139 produkte is getoets. Hiervan het 95 (68%) produkte spesies bevat wat nie op die produketikette verklaar is nie. Die grootste sondebokke was wors, hamburgervleis en delivleise.

Soja en gluten is in 28% van die produkte gevind, maar is nie sodanig spesifiek as plantmateriaal geïdentifiseer op die etikette van die vleisprodukte waarin hulle gevind is nie.

Heelwat gevalle is ook gevind van vleis wat as een soort verkoop is, maar eintlik van ’n ander spesie afkomstig is. Vark (37%) en hoender (23%) is die meeste wederregtelik gebruik.

“Spesies soos donkie, bok en waterbuffel is in ’n noemenswaardige hoeveelheid produkte gevind,” sê prof Hoffman, wat beskou word as die voorste navorser ter wêreld oor wildsvleissoorte uit Afrika. Hy het in Januarie die eerste Suid-Afrikaner geword wat deur die toonaangewende Amerikaanse vereniging vir Vleiskunde (AMSA) vereer is met hulle Internasionale Lektoraat-toekenning.

Die navorsers het verskeie DNS-gebaseerde molekulêre tegnieke gebruik om tussen vleissoorte te onderskei. Die ensiem-verwante immonosorbent-toets (ELISA) is gebruik om onverklaarde plantmateriaal soos soja en gluten in die produkte op te spoor.

Die studie vorm deel van ’n groter navorsingsprojek waarin dr Cawthorn en prof Hoffman DNS-gebaseerde spesie-verifikasie gebruik vir kommersiële visspesies en wildsvleis wat in plaaslike restaurant verkoop word. Hulle studies wys reeds dat die verbruiker in heelwat gevalle om die bos gelei word oor wat hulle opgedien word. Navorsing oor waarom dit gebeur, is nou ook onderweg.

“Ons bevindings wys daar’s definitief probleme binne die plaaslike vleisverspreidingsnetwerk,” glo prof. Hoffman. “Dit help nie net om regulasies in plek te hê om ons verbruikers te beskerm teen die verkoop van ‘vals’ produkte of produkte van ’n swak gehalte nie; dit moet ook toegepas word.”

“Dis duidelik dat verbruikers nie sonder meer kan aanneem dat die vleisprodukte wat hul koop die korrekte inligting op hul etikette dra nie,” voeg dr Cawthorn by, wat glo dat die vleisindustrie as geheel meer verantwoordelikheid moet neem en gehoor gee aan relevante regulasies. “Indien vleisprodusente nie belangrike inligting op hul produkte aanbring nie, sal hulle hul geloofwaardigheid onder verbruikers verloor, en sal die industrie as geheel in ’n swak lig gestel word.”

Sy glo teikens moet gestel word om etikettering op vleisprodukte te verbeter, en om voldoende moniteringmetodes in plek te stel om die egtheid van produkte te verseker. “Ek glo nie dat die huidige strawwe wat uitgedeel word aan oortreders hulle enigsins afsit om met vleisbedrog weg te kom nie,” voeg sy by.