Universiteitsgemeenskap reik uit na slagoffers van Kayamandi-brand

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die afgelope week saam met die groter Stellenbosch-gemeenskap ’n helpende hand uitgereik na die duisende inwoners wat deur Vrydag se brand in Kayamandi geraak is. Finansiële ondersteuning vir die slagoffers is tot van alumni van so ver as die VSA ontvang.

Die brand het in die vroeë oggendure van 15 Maart uitgebreek en minstens 4000 mense is dakloos gelaat toe nagenoeg 1350 strukture afgebrand het.

Rebecca Matsie, Kelly Rosenkranz, Nina Keller, Erik Thompson, Lars Blomquvist, Anne Crosbie, Andrew Maile en Kelsey Smith het Dinsdagoggend hard gewerk om die skenkings wat by die Stellenbosch-brandweerstasie afgelaai is, uit te sorteer. Foto: Pia Nänny

Rebecca Matsie, Kelly Rosekranz, Nina Keller, Erik Thompson, Lars Blomquvist, Anne Crosbie, Andrew Maile en Kelsey Smith het Dinsdagoggend hard gewerk om die skenkings wat by die Stellenbosch-brandweerstasie afgelaai is, uit te sorteer. Foto: Pia Nänny

Die US se Matie Gemeenskapsdiens (MGD) het Vrydag reeds ’n beroep op personeel en studente gedoen om onder meer kos, klere, beddegoed, skryfbehoeftes en toiletware te skenk en hierdie donasies is Dinsdagoggend na die Stellenbosch-brandweerstasie vervoer.

Volgens Naweed Mullajie, ’n administratiewe beampte by MGD, moes hulle die Avanza wat hulle gebruik het om die goedere te vervoer, minstens vier keer vol laai.

Versamelpunte is ook Maandagaand by die hekke van die Danie Craven-stadion geskep waar toeskouers, op pad na die wedstryd tussen FNB Maties en FNB Pukke, donasies kon los. Altesame 15 bokse is van daar na die brandweerstasie geneem.

Hiér het studente-vrywilligers Dinsdag gespook om voor te bly om die skenkings te sorteer. ’n Bussie is beskikbaar gestel om studente om die uur na die brandweerstasie te vervoer om daar te help en volgens die organiseerders het hulle baie hande nodig, onder meer om kospakkies saam te stel uit die skenkings wat ontvang is.

Onder die studente wat Dinsdag laatoggend gehelp het met die sorteerproses, was Erik Thompson en Lars Blomquvist, internasionale studente van Noorweë en Nina Keller, ’n internasionale student van Duitsland. Sy is betrokke by ’n uitreikprojek in Kayamandi en die helfte van die kinders in die groep waarby sy betrokke is, is deur die brand geraak. Dit het haar laat besluit om by die hulpverleningspoging betrokke te raak. BA-studente Rebecca Matsie en Kelly Rosekranz wou ook graag hul deel doen, terwyl Kelsey Smith van die Elizabeth Galloway-modeontwerpskool en Andrew Maile, ’n alumnus van die US wat in Kaapstad woon, via Facebook uitgevind het dat hulp benodig word. Maile het met arms vol Pieke 2012-hemde gestaan wat deur dié privaatwyk van die US geskenk is.

Mullajie het gesê die reaksie vanuit die Universiteitsgemeenskap was besonder goed, en dat MGD ook heelwat oproepe van buite Stellenbosch ontvang het van mense wat graag wil help.

’n Deel van die skenkings wat ontvang is vir die inwoners van Kayamandi wat alles verloor het in Vrydagoggend se brand. Foto: Pia Nänny

’n Deel van die skenkings wat ontvang is vir die inwoners van Kayamandi wat alles verloor het in Vrydag se brand. Foto: Pia Nänny

Hestea de Wet, direkteur van die plaaslike kantoor van AIFS (American Institute for Foreign Study) by die US se Nagraadse en Internasionale Kantoor (NGIK), het laat weet dat ongeveer R32 000 al teen Dinsdag in die VSA ingesamel is. Meer as ʼn 1 000 Amerikaanse studente het die US in die afgelope 10 jaar deur AIFS besoek om vir ses of twaalf maande hier te studeer.

“Die nuus van die brand in Kayamandi het vinnig onder alumni in die VSA versprei. Ongeveer 90% van al my studente werk in Kayamandi as deel van ’n program wat die NGIK daar aanbied en daarom het hulle ’n besonderse band met die gemeenskap. Andy Clark, ’n alumnus van 2008 wat by Saint Michael’s College in Vermont studeer het, het vinnig ’n fonds gestig vir alumni in die VSA om by te dra,” het De Wet gesê.

Die uitvoerende hoof van AIFS het self $2000 bygedra wat die fonds teen Dinsdagmiddag op ongeveer R32 000 te staan gebring het. Die adres is: http://www.gofundme.com/KayamndiFire

Inwoners wat nog skenkings wil maak, kan dit óf na MGD neem of direk by die Rampbestuur-kantoor by Stellenbosch-brandweerstasie aflewer. Naas klere en kos, word basiese huisware soos onder meer potte en panne, eetgerei, beddegoed en matrasse ook benodig.