Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




Laserfisikus vir haar werk vereer


Universiteit Stellenbosch (US) laserfisikus dr Christine Steenkamp is vereer met die gesogte Silwer Medalje van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika (SAIF), wat erkenning gee aan die prestasies van navorsers jonger as 35 jaar.

Die toekenning gee erkenning aan haar uitmuntende bydrae tot eksperimentele laser-spektroskopie in Suid-Afrika in ‘n toepassingsveld wat sy grootliks self ontwikkel het.

Tegnieke wat sy ontwikkel het om superverkoelde koolstofmonoksied (CO)-molekules te ondersoek, het sedertdien data verskaf wat deur die astrofisikagemeenskap gebruik kan word om resultate verkry vanaf ruimtestasiewaarnemings van die ruimte tussen sterre te interpreteer.

Dr Steenkamp, wat verbonde is aan die Lasernavorsingsinstituut in die US se Departement Fisika, is maar slegs die tweede Suid-Afrikaanse vrou om vereer te word met die SAIF Silwer Medalje sedert dit die eerste keer in 1981 toegeken is.

Sy volg in die voetspore van Stellenbosse fisici en navorsingsleiers soos prof Frederik Scholtz, direkteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NITHeP), prof Hendrik Geyer, direkteur van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) en prof Kristian Müller-Nedebock, direkteur van die Instituut vir Teoretiese Fisika in die US Departement Fisika, wat almal ontvangers van hierdie toekenning is.

Wat die baie hoë standaard van dr Steenkamp se wetenskaplike uitset nog merkwaardiger maak, is die feit dat geen navorsingsinfrastruktuur plaaslik op haar terrein van eksperimentele fisika beskikbaar was toe sy in die 1990′s met haar meestersgraadstudie aan die US begin het nie. Sy moes die meeste van die apparaat wat sy sedertdien in haar ondersoeke gebruik, self ontwerp en bou.

Dit sluit ʼn unieke verstelbare vakuum-ultravioletlaserbron vir die ondersoek van superverkoelde CO-molekules in.

“Hierdie fasiliteite het eenvoudig nie bestaan nie, en is steeds nie op enige plek ter wêreld in die handel beskikbaar nie,” sê departementsvoorsitter prof Erich Rohwer, wat haar baanbrekersvernuf en vermoë om uitmuntende eksperimentele wetenskap met skamele bronne te bedryf, geprys het.

Haar metodes het dit moontlik gemaak om rotasioneel-opgeloste spektra van elektroniese opwekkings vanaf die grondtoestand te bestudeer, en om die spektra van die skaars CO- isotopomere vir die eerste maal te meet.

In 2003 het sy ʼn Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-beurs gewen, wat haar in staat gestel het om die jaar daarna na die VSA te reis vir ‘n uitgebreide navorsingstydperk in die laboratorium van Nobel-bekroonde prof Carl Wieman.

Haar samewerking met hom het aanleiding gegee tot ʼn nuwe eksperimentele inisiatief, ondersteun deur die Afrika Lasersentrum, op grond waarvan sy ʼn projek gemik op die laserafkoeling van atome begin het.

Met die toekenning van die Silwer Medalje aan dr Steenkamp, het SAIF nie net haar navorsingsvermoë en -uitset geprys nie, maar ook haar inspirerende mentorskap van ‘n aspirerende nuwe geslag jong fisici aan die US waar sy as dosent werksaam is. Sy het ook waardevolle bydraes gelewer tot inisiatiewe soos die Afrika Lasersentrum en die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS) wat daarop gemik is om navorsing in Afrika te vestig en te verbeter.


Een kommentaar to “Laserfisikus vir haar werk vereer”

  1. [...] Verdere agtergrond inligting oor dr Steenkamp: Ontvanger van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika Silwer Medalje vir jong navorsers 2009 http://blogs.sun.ac.za/nuus/2009/08/13/laserfisikus-vir-haar-werk-vereer/ [...]

Plaas u kommentaar

*