Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




US-vrou eerste Suid-Afrikaner om leisels van IFLA oor te neem


Me Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens aan die Universiteit Stellenbosch (US) word eersdaags ingehuldig as die nuwe President van IFLA (International Federation of Library Associations). Me Tise is die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie rol sal vervul.

Die geleentheid sal op 27 Augustus 2009  tydens die afsluitingsessie van IFLA se World Library and Information Congress in Milaan, Italië plaasvind.

Die IFLA-presidentskap is die hoogste sport wat ‘n professionele persoon binne die biblioteek- en inligtingsdiens omgewing kan bereik en die US  is trots om iemand uit sy eie geledere in hierdie posisie te sien. ellen-tise

Haar presidensiële tema, getiteld Libraries driving access to knowledge, fokus spesifiek op kliënte-oriëntering, die biblioteek as plek, die rol van biblioteke in gemeenskapsinklusiwiteit en die behoefte aan sterk vennootskappe.

Hoogtepunte van haar program sluit in die verteenwoordiging van IFLA by belangrike internasionale geleenthede, o.a. die bywoning van en optrede by die eeufeesvieringe van die Nasionale Biblioteek van China in Beijing in September, asook die lewer van die programrede by ‘n internasionale konferensie vir akademiese biblioteke in Nieu-Delhi, Indië, in Oktober.

Me Tise se termyn as president beloof om ook belangrik te wees binne die groter konteks van Afrika, aangesien dit die biblioteek- en inligtingsektor in Suid-Afrika en ander Afrika-lande onder die aandag van ‘n internasionale gehoor sal bring.


Plaas u kommentaar

*