Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




US Viserektor gehuldig by nasionale GI Forum


Die Universiteite Stellenbosch se Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, prof Julian Smith, is onlangs by die formele loodsing van die South African Higher Education Community Engagement Forum in Durban uitgesonder vir die leidende rol wat hy gespeel het in die totstandkoming van hierdie nasionale forum en vir sy denkleierskap ten opsigte van gemeenskapsinteraksie by hoër onderwysinstellings in Suid-Afrika.

Net ʼn jaar gelede is gesprekke rondom die moontlike stigting van ʼn nasionale liggaam om gemeenskapsinteraksie by Suid-Afrikaanse universiteite te ondersteun en te bevorder begin by STIAS op Stellenbosch. Hierdie gesprekke is opgevolg met nog ʼn rondte vroeër vanjaar by die Universiteit van die Vrystaat en die droom van ʼn nasionale liggaam is onlangs in Durban verwesenlik.

Al 23 openbare hoër onderwysinstellings asook een private instelling was verteenwoordig by die formele loodsing in Durban wat deur die nasionale loodskomitee in samewerking met Mangosuthu Universiteit van Tegnologie georganiseer is.

Volgens prof Smith is die toekenning aanduidend van die “leidende rol wat die universiteit die afgelope paar jaar begin speel het ten opsigte van ʼn vernalatigde akademiese kernfunksie”.

“Ek dra dit graag op aan kollegas in die Bestuur, wat GI as volwaardige akademiese funksie aanvaar en bevorder; aan die afdeling Gemeenskapsinteraksie, wat nougeset beslag gee aan die institusionele beleid; aan Dekane en akademici in die algemeen, wat entoesiasties die beklemtoning van die akademiese grondslag van GI aanvaar het; en aan opeenvolgende studenteleiers in die Studenteraad wat hul prioriteite en aktiwiteite by die Gi-beleid aangepas het.”


Plaas u kommentaar

*