Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




Besoek Suid-Afrika se oudste gerestoureerde woonhuis tydens ’BoschFees!


Besoekers aan die eerste ’BoschFees wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word, kan op Woensdagaand 9 Desember ’n aandwandeling deur die historiese middedorp van Stellenbosch meemaak wat ’n besoek aan Suid-Afrika se oudste gerestoureerde woonhuis, Schreuderhuis, sal insluit. Dié geskiedkundige woning, op die hoek van Kerk en Ryneveldstrate, is op 10 Desember 300 jaar oud.

Mnr Pietman Retief, bekende in bewaring- en erfeniskringe, onlangs aangewys as Suid-Afrika se top toergids, koördineer die wandeling wat deur die Stellenbosch Museum aangebied word.

Aandwandelings deur die historiese deel van Stellenbosch vind gewoonlik twee keer per jaar plaas, maar vanjaar sal daar drie stappe wees, sodat feesgangers hierdie gewilde stap op Stellenbosch se kutuurkalender kan meemaak.

Op 10 Desember 1709 het goewerneur Louis van Assenburg die erf – begrens deur die hedendaagse Ryneveld- en Kerkstrate – aan die sekretaris van die openbare meule van Stellenbosch, Sebastian Schröder, toegeken. Hierop het hy ’n beskeie pionierswoonhuis laat oprig.

Schröder was van Sakse in Duitsland afkomstig en was in diens van die Verenigde Hollandse Oos-Indië Kompanjie (VOIC). Waar hy aanvanklik na Stellenbosch gestuur is om as sekretaris van die openbare meule op te tree, het hy binne ’n jaar tot geregsbode van die Kompanjie in Stellenbosch en Drakenstein gevorder. Tipies van die tyd het die owerhede sy naam verhollands en sou hy voortaan Sebastiaan Schreuder heet.

’n Jaar na die toekenning van sy erf, moes Schreuder sy huis gedeeltelik oorbou, want die eerste groot brand wat Stellenbosch in 1710 geteister het, het sy beskeie woonhuis beskadig. In 1711 verhuis Schreuder na Kaapstad en in 1712 vertrek hy en sy eggenote terug na Europa.

Sedert Schreuder sy huis in 1712 verkoop het en 1970, toe die huis aan die bekende Stellenbosser, mnr Willem Lubbe, behoort het, was daar ’n stuk of agtien eienaars van hierdie huis en eiendom. Mnr AP Lubbe, die bekende skoenmaker wat duisende dorpsbewoners en baie geslagte Maties van skoeisel voorsien het, het die huis in 1940 aangekoop en dit met sy dood aan sy seun, Willem, in 1970 nagelaat. Op hierdie perseel het die Lubbes hul skoenonderneming bedryf.

Deur die eeue het feitlik elke eienaar een of ander verandering aan die oorsponklike woonhuis aangebring. Vanaf ’n eenvoudige platdak driekamerhuis het dit teen die einde van die negentiende eeu uitgebrei na ’n heelwat groter huis met ’n aantreklike wolfneusgewel bo die voordeur. In 1900 is die huis uitgebrei na ongeveer 18 kamers en is die voorkoms daarvan gevictorianiseer.

In Mei 1970 het die Lubbe-familie aansoek gedoen om die huis, wat besig was om in ’n redelik vervalle toestand te raak, eerder te sloop as om ’n aansienlike bedrag te betaal om dit te restoureer. Die gemeenskap van Stellenbosch het egter gevoel dat die huis vir die nageslag bewaar moes word en in 1972 is die huis, met die hulp van die Kaapse Provinsiale Administrasie, deur die Stellenbosch Museum van mnr Willem Lubbe gekoop. Dit is toe gerestoureer soos die huis oorspronklik tussen 1710 en 1720 sou gelyk het.

Dit het aansienlik argeologiese speurvernuf tussen 1973 en 1975 deur die Kaapse bewaringsargitek, mnr Gawie Fagan, geverg om vas te stel hoe die huis aanvanklik daar uitgesien het. Op grond van sy bevindings is die huis toe gerestoureer. In 1988 het mnr Hennie Vos, bekende historiese argeoloog, verdere opgrawings in en om die huis gedoen, nadat besluit is om die huis se misvloere – soos dit oorspronklik daar uitgesien het – met vloere te vervang wat nie soveel stof sou afgee soos die misvloer nie. Hiertydens het mnr Vos verskeie ontdekkings gedoen, wat daartoe gelei het dat die huis verder gerestoureer is en waarskynlik tans lewensgetrou daar uitsien soos wat dit aanvanklik in 1709 gebou is, toe die inwoners van Stellenbosch inderdaad nog ’n pioniersbestaan gevoer het.

Dit sal besoekers aan Schreuderhuis opval dat meeste kamers in die huis vir algemene woondoeleindes gebruik is. In dieselfde kamer is daar ’n sogenaamde ledekant – waar daar dus geslaap is – en ook ’n werksbank en gereedskap – waar timmerwerk verrig is. Gespesialiseerde kamers, soos slaapvertrekke, was destyds vrywel onbekend. Dit was net die kombuis waar alle werksaamhede rondom een aktiwiteit, naamlik kosmaak, gesentreer het.

Omdat glas en timmerhout aan die begin van die 1700’s skaars en duur was, is slegs die mees gegoede burgers se huise met glasventerruite, plankvloere en plafonne toegerus. Gewone burgers het dikwels grond- en misvloere, sparretjies of rietsolders en losraamvensters in hul huise gehad. Die los rame is met katoen bespan en dan met olie of byewas waterdig gemaak. Hierdeur is die stof en reën grootliks buite gehou en het terselfdertyd ’n pragtige sagte lig binnegelaat. Snags en met onweer is die houtluike toegemaak. Aan die straatkant is ’n soort venster wat reeds vroeg op Stellenbosch gebruik is, aangebring, naamlik ’n houtraam-swaaivenster met klein glasruitjies wat in loodstroke gegiet is.

Die Stellenbosch Museum beskik oor altesame vier huise wat elkeen ’n verskillende tydperk uit die dorp se geskiedenis verteenwoordig. Binne een staptog kan besoekers dus ’n oorsig verkry van die lewens van Stellenbosch se vooraanstaande inwoners vanaf die vroegste tot die Victoriaanse tydperke.

Die aandwandeling op 9 Desember hoofsaaklik aan die oudste gerestoureerde woonhuis in Suid-Afrika gewy.

  • Vir deelname aan die historiese stap, kontak me Esmé Adriaanse by die Stellenbosch Museum by tel. 021-887-2937. Die koste is R150 per persoon en sluit ’n ete by Erfurthuis in. Die stap begin om 19:00 by die kaartjieskantoor in die Dorpsmuseum in Ryneveldstraat.
  • Sien www.matiesalumni.net/boschfees vir meer inligting oor die ‘BoschFees.

Plaas u kommentaar

*