Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




Dr Johann Rupert aangewys as US Kanselier


Dr Johann Rupert, sakereus en entrepreneur by uitnemendheid, is Maandag deur ’n kieskollege van die Universiteit Stellenbosch (US) as die veertiende Kanselier van die US aangewys. Hy volg dr Frederik van Zyl Slabbert op wat vroeër vanjaar dié amp neergelê het.

Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, het die aanstelling van dr Rupert verwelkom en gesê dat dit vir die Universiteit Stellenbosch ‘n eer is om ‘n persoon van sy internasionale statuur, maar met stewige wortels in Stellenbosch, as Kanselier te hê.

Die Kanselier is die seremoniële hoof van die Universiteit en word volgens die Statuut van die Universiteit gekies. Die Kanselier ken onder meer grade in die naam van die Universiteit by gradeplegtighede toe, en vervul ander seremoniële pligte. ‘n Kanselier word vir vyf jaar aangestel, maar sy termyn kan eenmalig met nog vyf jaar verleng word.

Dr Rupert bring sy vroeë jare in Stellenbosch deur as die oudste seun van die bekende sakereus dr Anton Rupert. Hy begin sy studies in die Ekonomie en Maatskappyereg aan die US, maar skort sy studies op om sy sakevernuf in New York te gaan slyp voordat hy in 1979 na Suid-Afrika terugkeer. In dieselfde jaar stig hy Rand Merchant Bank (RMB), asook die Kleinsake Ontwikkelingskorporasie – ’n instansie wat sedertdien sowat 500 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika help skep het.

Rupert is verantwoordelik vir die stigting, samesmelting en herstrukturering van verskeie toonaangewende maatskappye. Hy dien in ’n bestuurshoedanigheid in ’n wye verskeidenheid instansies wat wissel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns tot die Daimler Chrysler Internasionale Adviesraad en Gold Fields Suid-Afrika. Nadat hy RMB en Rand Consolidated Investments saamsmelt, sluit hy in 1984 by die Rembrandt-groep aan, waar hy later ook die leisels as voorsitter oorneem. In 1988 stig hy die Switserse-gebaseerde luuksegoedere maatskappy Richemont, en in 2000 die waagkapitaal maatskappy Remgro en Venfin. Hy neem ook die eienaarskap oor van die wynlandgoed ‘LOrmarins van sy oorlede broer, Antonij, en ontwikkel dit ter ere van sy nagedagtenis.

Dr Rupert is die ontvanger van twee eredoktorsgrade. Die US ken in 2004 ’n eredoktorsgraad in die Ekonomie aan hom toe en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in 2008 ’n eredoktorsgraad in die Handel. Hy word ook vereer met die gesogte Wits Sakeskool se Toekenning vir Uitnemendheid in Bestuur in 2008. Rupert se uitmuntende sakeleierskap en visie het hom ook verskeie ander toekennings op internasionale en nasionale vlak besorg. Hy is onder meer drie keer as die Mees Invloedryke Leier in Suid-Afrika deur die voorste 100 gelyste maatskappye in Suid-Afrika aangewys; verkies tot Sakeleier van die Jaar deur die Sunday Times (twee keer); asook deur die Die Burger en die Kaapstadse Kamer van Koophandel, en uitgesonder as een van 200 internasionale leiers van die toekoms deur die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Een van sy jongste toekennings is dié van Internasionale Wynentrepreneur van die Jaar, wat toegeken is in Dusseldorf, Duitsland.

As sportliefhebber en voormalige krieketspeler, was dr Rupert onder meer die medestigter van die Instituut vir Sportwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, en het hy gehelp met die totstandkoming van die Laureus Sport for Good Foundation – ’n instelling wat 65 projekte wêreldwyd ondersteun en waarby veral minderbevoorregte kinders baat. Hy dien ook as voorsitter van die Suid-Afrikaanse PGA Tour en die Suid-Afrikaanse Gholfontwikkelingsraad.


2 Kommentaar to “Dr Johann Rupert aangewys as US Kanselier”

  1. Uitstekende keuse!

  2. Baie geluk Dr Johann Rupert. Die keuse dui op ‘n erkenning asook ‘n toekomsverwagting dat die US van krag tot krag sal gaan.

Plaas u kommentaar

*