Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




Kampusgesondheid monitor masels


“Dit wil voorkom of gevalle van masels-infeksies in die jongste tyd toegeneem het in die Wes-Kaap – veral die gebiede rondom die Kaapse metropool. Dit beteken dat personeel en studente aan sodanige infeksies blootgestel is en gegewe die aansteeklike aard daarvan kan dit impakteer op klasbywoning, toetse en die daaglikse werksprogramme van die kampusgemeenskap. Ons het duidelike riglyne en prosedures in plek vir die hantering van sodanige infeksies en moniteer die voorkoms en aanmelding van enige sodanige gevalle via ons kampusstrukture,” sê dr Pierre Viviers, Hoof van Kampusgesondheidsdiens (KGD).

Dit volg op die aankondiging van die Wes-Kaapse Provinsiale Regering ‘n paar dae gelede van ‘n masels-uitbraak in die provinsie. Masels is ‘n aanmeldbare siekte. Kinders word meestal geaffekteer, met gevolglike blootstelling en infeksies vir ander lede van die gesin.

Dr Viviers sê in die normale gang van sake sou ‘n mens verwag dat meer as 90% van studente wel oor immuniteit beskik, maar tog is daar sporadies gevalle wat onder die studentegemeenskap voorkom. In die afgelope week is reeds 3 gevalle by KGD op die Stellenbosch kampus bevestig. Studente word ook wyd blootgestel aan moontlike infeksies in hospitale, klinieke en woonplekke in die gebiede waar die insidensie toegeneem het.

Op die oomblik is entstof, vir gevalle waar mense kontak met geaffekteerdes gehad het en vir massa-immunisasie, in die privaatpraktyk feitlik onverkrygbaar. Openbare gesondheidsdienste beskik oor die nodige entstof en gevolglik het personeel en studente slegs daartoe toegang by provinsiale klinieke en hospitale, sou hulle voldoen aan die riglyne wat deur die Departement van Gesondheid in plek gestel is, sê dr Viviers.

Hy beveel aan dat enige studente of personeel wat die simptome van masels toon – hoë temperatuur, loperige neus en die tipiese vel-uitslag – hulle onverwyld by Kampusgesondheid moet aanmeld vir behandeling. KGD is gerat om die nodige ondersteuningsdiens aan studente op die hoofkampus en Tygerberg te verleen.

“Daar is uiteraad geen rede tot kommer en paniek nie. As mense meen dat hulle die simptome van masels onder lede het, hoef hulle net by KGD aan te meld en ons staan gereed om die gepaste behandelings- of ondersteuningsdiens te lewer. Ons koshuishoofde en studenteleierskapstrukture is reeds ingelig om met die aanmeld en verdere hantering van infeksie-gevalle te help en die universiteit beskik oor ‘n Gebeurlikheidskomitee onder leiding van prof Julian Smith, Vise-Rektor (Gemeenskapsinteraksie en Personeel), wat deurlopend in kontak is met die kundiges van die Infeksiesiekte Sentrum op Tygerberg, wat die situasie monitor en die hanteringsriglyne en kommunikasie sal bestuur soos wat die groter prentjie in die provinsie ontwikkel.

• Die kontaknommers vir Kampusgesondheidsdiens: hoofkampus – 021 808 3946 / 3494 en op die Tygerbergkampus: (021) 938 9590.


Een kommentaar to “Kampusgesondheid monitor masels”

  1. ??impakteer op klasbywoning?? ! Wat het geword van “klasbywoning beïnvloed” ?
    (Ai, ons arme Afrikaanse taal …)

Plaas u kommentaar

*