Virtuele leerervaring vir jong aspirantrekenaarprogrammeerders
Leerders van nege Kaapse en Bolandse skole het onlangs ’n eerste kennismaking met rekenaarprogrammering gehad toe hulle ʼn oriënteringskursus van drie dae bygewoon het. Die naweekkursus is by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied, met van die dosente in Kaapstad wie se lesing via die internet aangebied is.
Die gratis oriënteringskursus oor die Python-programmeringstaal was ʼn gesamentlike projek van die US se Afdeling Rekenaarwetenskap in die Departement Wiskundige Wetenskappe, en die Universiteit van Kaapstad (UK) se Algorithm Circle, ʼn uitreikprogram wat weekliks beginnersklasse oor algoritmes aanbied.
Leiers van die Algorithm Circle het van die lesings uit Kaapstad behartig, terwyl ander lesings weer deur US-dosente aangebied is. Die leerders het die UK-lesings virtueel bygewoon deurdat dit oor die internet na ʼn rekenaarlaboratorium by die US gestuur is.

Assistente van die US was byderhand om die leerders met praktiese ervaring in programmering by te staan.
Die kursus was bedoel vir leerders in graad 8 tot 11 met weinig of geen kennis van programmering. Leerders van die hoërskole Eben Dönges, Belhar, Stellenbosch en De Kuilen, die Hoër Tegniese Skool Bellville, Spine Road- en Settlers-hoërskool, Islamia-kollege en die Sekondêre Skool Strandfontein het dit bygewoon.
“Python is ʼn betreklik maklike programmeringstaal en ʼn gewilde keuse om jongmense van rekenaarprogrammering te leer,” verduidelik dr Steve Kroon, US-dosent in Rekenaarwetenskap.
Volgens dr Kroon maak die projek deel uit van ʼn veldtog om rekenaarprogrammering reeds op skoolvlak aan te moedig. “Vir tegnologiese vooruitgang het ons in Suid-Afrika al hoe meer mense met programmerings- en probleemoplossingsvaardighede nodig. Rekenaarwetenskap konsentreer op hierdie kwessies, en ons by die US is trots daarop om met die UK kragte saam te snoer om leerders op skool reeds aan programmering, algoritmes en rekenaarwetenskap bekend te stel.”
Onderskrif: Maties rekenaarwetenskapstudent Jan Buys (tweede van links) staan Strandfontein Hoërskool leerders Mikhial Carollisen, Nazeer Parker en Raashaad Safiedien by tydens die Python opleidingskursus. (Foto: Steve Kroon).

Plaas u kommentaar