US kry nuwe Raadslede
Ses toonaangewende Suid-Afrikaners is tot die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) verkies – vier deur die Konvokasie, tewete prof Wannie Carstens, dr George du Toit, adv Jan Heunis en dr Rhoda Kadalie, en twee deur die donateurs van die Universiteit, naamlik mnr George Steyn en prof PW van der Walt.
Die US het Dinsdag (30 Maart 2010) die uitslag van sy Raadsverkiesing bekend gemaak. Lede van die Konvokasie en donateurs kon vanaf 1 tot 25 Maart 2010 stem vir die ses vakatures op die Raad. Stemgeregtigdes kon hulle stemme per pos, per faks, per elektroniese aanlyn-stemming of via e-pos uitbring, of deur ʼn stembrief per hand af te lewer.
Die vermelde vakatures op die Raad het onstaan as gevolg van die verstryking van raadslede se dienstermyne asook twee bedankings.
Prof Carstens is die direkteur van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit, dr Du Toit is ʼn ginekologiese onkoloog, adv Heunis is ʼn senior advokaat, en dr Kadalie is die besturende direkteur van die Impumelelo Innovations Award Trust en het vroeër hierdie maand ʼn eredoktorsgraad van die US ontvang.
Mnr Steyn is die besturende direkteur van die Pep-kleinhandelgroep, en prof Van der Walt is ʼn emeritus professor in elektroniese ingenieurswese aan die US en is tans as bedryfsleier verbonde aan Reutech Radar.
Altesaam 5 661 konvokasielede en 612 lede van die kieskollege van die donateurs het geldige stemme uitgebring. Dit is beduidend meer as die vorige verkiesing in 2008 toe 2 664 lede van die Konvokasie aan die verkiesing deelgeneem het, maar dit is minder as die 2006-verkiesing toe meer as 7 000 stemme uitgebring is.
Dr Paul Cluver, Voorsitter van die US Raad, het gesê hy verwelkom die nuwe lede en sien uit na hul kundige bydraes om die effektiewe funksionering van die Raad te verseker.
Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, het sy dank teenoor die alumni van die Universiteit uitgespreek vir hul aktiewe deelname aan die verkiesing. Hy sê hy glo die nuwe Raadslede sal help verseker dat die Universiteit in die 21ste eeu sy uitmuntendheid handhaaf en terselfdertyd ʼn relevante bydrae tot die samelewing lewer.
Die kiesbeampte en Registrateur van die US, mnr Johann Aspeling, het sy tevredenheid met die verkiesing uitgespreek. Die interne ouditeure van die US was nou by die monitering van die proses betrokke. Mnr Aspeling het gesê die integriteit van die verkiesing is deurentyd getoets en was enduit bo verdenking.
Die nuwe raadslede se termyn strek van 2 April 2010 tot 1 April 2014.

Ek verneem graag die motivering en die redes waarom die stemtotale wat op elke kandidaat uitgebring is, nie bekend gemaak word nie? In die lig van die Wet op die Toegang tot Openbare Inligting en deursigtigheid, is dit broodnodig dat die stemtotale bekend gemaak sal word.
Die uitslag gee ‘n baie helder boodskap aan die US.
Ek is beïndruk met die kundigheid wat die nuwe raadslede na die raad toe bring, insluitende ervaring en kennis om sinvolle bydraes te lewer tot die verskillende Raadskomitee, insluitende die Oudit- en Risikomitee.
Ek wys graag daarop dat die dankwoord deur die Rektor aan die “alumni van die Universiteit uitgespreek vir hul aktiewe deelname aan die verkiesing” nie korrek is nie; nie alle alumni is lede van die Konvokasie nie (wat 4 lede aangewys het), en om as donateur stemreg te hê hoef jy nie ‘n alumnus te wees nie.
Dit is tog noodsaaklik dat die US bekend maak presies hoeveel stemme elke kandidaat gekry het sodat die ware betekenis van die uitslag ontleed kan word. Hoekom word dit verswyg?
Ek is bly om te sien die verkose raadslede is almal ten gunste van ‘n Afrikaans-sprekende universiteit. Ek sien uit om my kinders die voorreg te gun om aan die uitstekende universiteit te studeer waaraan ek en my vorige 4 generasies gestudeer het.
As ‘n huidige student by ons geliefde universiteit vind ek dit tog kommerwekkend dat hoog aangeslane en kundige mense gekomplimenteer word oor slegs een aspek van hul kandidaatskap en dit die taal. Ek sien uit om te sien hoe hulle elkeen op verskillende vlakke en maniere hul eie unieke bydraes sal maak om te verseker dat die US werklik ‘n ruimte en tuiste vir elkeen van haar studente word.
US is meer as net Afrikaans, dit is die plek waar ek leer sokkie het, die bergklim ekspedisies begin geniet het en waar ek nou nog stelselmatigheid die goeie gebruik- let wel nie misbruik- van goeie wyne beleef.
So my hoop is dat ons nou sal besluit om uit ons verskeie intellektuele groepe tog wel die ander se punte kan insien en so kan verseker dat ons tog hierdie utopia van onderrig ‘n werklikheid vir almal kan maak.
Groetnis,