Top US-navorser in Vleiskunde ontvang toekenning van universiteit van in Wes-Australië
Prof Louw Hoffman van die Departement Veekundige Wetenskappe aan die Universitet Stellenbosch is benoem as vanjaar (2010) se ontvanger van die Hector en Andrew Steward Gedenkdienslesing wat deel uitmaak van die Instituut van Landbou: Voedsel en Landbou lesing reeks.
Hy het onlangs ‘n openbare lesing in Perth aangebied met die titel “Wild: meer as net vleis”. In sy navorsingsveld oor eksotiese vleissoorte geniet Prof Hoffman erkenning as ‘n wêreldleier en as akademikus is hy aktief en nou betrokke in die opleiding van nagraadse studente met veral ‘n fokus op die faktore wat die vleiskwaliteit van eksotiese wild- en volstruisvleis beïnvloed. Hy het reeds meer as 125 internasionale eweknie geëvalueerde artikels gepubliseer en het talryke toekennings vir sy navorsingsbydraes ontvang.
Uitvoere van wildvleis na Europa van beide Suid Afrika en Namibië het oor die laaste paar jaar bestendig toegeneem. Prof. Hoffman se lesing het die moontlike oorsake vir hierdie toename in die uitvoer van eksotiese vleissorte ondersoek, asook die invloed daarvan op wildgetalle in beide hierdie lande. Wildsvleis produsente het daarin geslaag om aan die behoefte van meer ingeligte eerstewêreld verbruikers ten opsigte van eksotiese vleis te voldoen. Hierdie vereistes sluit onder andere volhoubare en omgewingsvriendelike produksie, hul siening van ‘n klein koolstof voetspoor, etiese oesmetodes en eerstewêreld prosesseringsmetodes in om sodoende te verseker dat die vleis veilig is, geen residue bevat nie, asook gesond en voedsaam is. Wildgetalle het toegeneem weens die feit dat meeste produsente ‘n holistiese benadering tot produksie en bemarking volg wat beide benaderings van ekotoerisme sowel as voedselproduksie insluit. Die ekotoerisme benadering sluit onder andere fotografiese safari’ s in, terwyl voedselproduksie die verkoop van lewende hawe, gewone – sowel as trofeejag en kommersiële oes van wild insluit. Bedreigings vir die voortbestaan van die vleisbedryf, bv. ongeregistreerde “bos” abattoirs, is ook bespreek.

Plaas u kommentaar