US-studente ontvang internasionale CFP-akkreditasie
‘n Uitgelese groepie van 20 studente, wat onlangs hul Nagraadse Diploma in Finansiële Beplanning aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het Maandagaand akkreditasie as Certificate Financial Planners (CFP®) ontvang.
Die studente het hul CFP-sertifikate tydens die jaarlikse induksieseremonie van die US en die Financial Institute of South Africa (FPI) in Stellenbosch ontvang. Die US is ʼn vennoot van die FPI ten einde formele nagraadse kwalifikasies aan te bied wat lidmaatskap tot die FPI en die internasionale CFP-akkreditasie bied.
Die syfers vir die aantal persone wat deur die FPI vir CFP-akkreditasie geselekteer is, is soos volg: 17 in 2006, 27 in 2007 en 30 in 2008. Vanjaar is slegs 20 studente gekies.
“Alhoewel aansienlik meer studente die CFP-eksamen suksesvol voltooi het, is die rede vir die afname in CFP-akkreditasie vanjaar die feit dat al hoe meer jong studente sonder die vereiste 3 jaar ondervinding vir ons kursus ingeskryf het en dus in ‘n later stadium vir CFP sal kwalifiseer. ‘n Groot persentasie van hierdie groep verteenwoordig die studente wat die afgelope 2 jaar hul B Comm-graad in finansiële beplanning aan die US verwerf het”, sê dr Ria Hugo, Programbestuurder van die Nagraadse Diploma in Finasiële Beplanning.
Prof Johann de Villiers, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het sy waardering uitgespreek op die suksesvolle samewerking tussen die FPI en die US in hierdie verband, en die voordeel wat dit vir die bedryf as geheel inhou.
Mnr Solly Keetse, Ondervoorsitter van die FPI, het op die toekoms van die nuwe finansiële beplanners in ‘n veranderende wêreldekonomie gewys en die US geloof vir hulle rol daarin.
Die CFP-sertifikaat is internasionaal die hoogste mylpaal wat betref finansiële beplanning kwalifikasies en stel finansiële beplanners in staat om erken te word as kundiges in finansiële beplanning en om in aanmerking te kom vir CERTIFIED FINANCIAL PLANNERS® akkreditasie.
Onderskrif: Hier is die drie top studente wat die CFP Professional Raadseksamen met lof geslaag het. Van links is Hester de Villiers, Rudie Botha en Maria Agenbach. (Foto: Anton Jordaan, SSFD).

Plaas u kommentaar