Prof Julian Smith nuwe voorsitter van CHEC
Prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, aan die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs as die nuwe Voorsitter van die Cape Higher Education Consortium (CHEC) aangestel.
CHEC verteenwoordig die vier hoër onderwys instellings in die Wes-Kaap: die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KPUT).
Prof Smith sê “dit is ’n voorreg en eer om waarskynlik die mees suksesvolle Suid-Afrikaanse Hoër Onderwysstreekkonsortium vir die volgende twee jaar te kan lei.”
Prof Smith sê sy voorsitterskap gee aan die US ʼn “direkte blootstelling” tot CHEC.
“Daar is nou die geleentheid om die visie en prioriteite van die Universiteit sterker op streeksprioriteite te laat inspeel. Ek wil graag verseker dat suksesvolle gevalle van samewerking, soos in die geval van die US se biblioteek (Calico) en kopiereg (PLO) sal voortgaan.”
Volgens prof Smith is dit ook nodig dat daar ernstig gebou word aan die betroubaarheid en geloofwaardigheid van vennootskappe soos dié met die provinsie en die Stad Kaapstad.
Prof Smith is ook van mening dat hy met sy ervaring van inter-institusionele samewerking en vennootskapsbestuur, wat oor baie jare strek, groot waarde tot CHEC kan voeg. “Ek sal ook kan bydra tot die bou van geloofwaardige vennootskappe wat streeks-en nasionale belang bo institusionele belang stel asook die bevordering van die benadering dat akademici slegs baie selektief betrek behoort te word met betrekking spesifieke projekte van hoë prioriteit en met ’n groot potensiële impak.”

Plaas u kommentaar