Drietalige sokkerwoordelys laat Suid-Afrikaners die taal praat
Of jy nou van ‘n handbal, ‘n kopskoot of ‘n driekuns praat, sokkertaal is dikwels deurspek met interessante en selfs verwarrende terme wat waarskynlik net die spelers kan verstaan. Om die taal van Suid-Afrikaanse sokker te bevorder, het die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met ‘n aantal afrigters en navorsers, ‘n nuwe sokkerwoordelys-boekie aan die vooraand van die 2010 FIFA Wêreldbeker bekendgestel.
Die boekie is die uiteinde van maande se navorsing oor voetbalkultuur, formele sokkerterme en die huidige omgangstaal wat spelers en sokkerbewonderaars gebruik. Dit word in Afrikaans, Engels en isiXhosa uitgegee, en is deur die Universiteit se Taalsentrum opgestel. Die doel is om ‘n definitiewe lys te verskaf van al die sokkerterme wat jy nodig sou hê as jy na jou gunstelingspan in aksie kyk.
“Ons praat dikwels van die merkwaardige gees wat kenmerkend is van hierdie land,” sê prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, wat ook vir sport aan die US verantwoordelik is. “Ons sien die boekie as ‘n uitbreiding hiervan – wat ondersteuners, spelers en ons internasionale besoekers die geleentheid bied om ‘n gemeenskaplike taal te praat. Dit maak ook deel uit van ons gesamentlike Stellenbosch 2010-inisiatief met die plaaslike Munisipaliteit, wat daarop gemik is om sokker in die breë gemeenskap te bevorder. Die sokkerwoordelys bevorder verder veeltaligheid, een van die Universiteit se strategiese doelwitte, en ons beskou dit as deel van ‘n blywende erfenis wat met die Sokker-wêreldbeker verband hou.”
Vir die woordelys wat hoofsaaklik saamgestel is deur geesdriftige sokkerspeler Pumlani Sibula, hoof van die Taalsentrum se Eenheid vir isiXhosa, is daar ‘n wye verskeidenheid bronne geraadpleeg, terwyl insette ook verkry is van die Universiteit se Sportburo, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, sowel as afrigters en sokkerspelers, om maar ‘n paar te noem. Elke inskrywing is verder aan praktiese toetse met plaaslike sokkerspanne onderwerp om die korrekte gebruik en konteks te verseker.
“Die drietalige boekie vier Suid-Afrika en ons suksesse as gasheerland vir die wêreld se beroemdste sokkergebeurtenis, terwyl dit ook die Universiteit se visie vir veeltaligheid bevorder,” sê Ruth Baitsewe, waarnemende direkteur van die Universiteit se Taalsentrum. “Ons wou ‘n akademiese bydrae tot die gebeurtenis lewer, maar terselfdertyd die speelse gevoel behou wat so kenmerkend is van ons eie Stellenbosch 2010-sokkerveldtog.”
En van die treffendste terme of frases wat in die boekie gevind kan word? “Ek het veral gehou van die isiXhosa-weergawe van die woord ‘dribbelaar’, wat met ‘umenzi-mathayithayi’ vertaal is,” merk Baitsewe op. “Dit was ook heel oulik om te sien dat ‘Zakumi’, die naam van ons amptelike gelukbringer, in al drie tale gebruik is – dit wil voorkom asof bepaalde simbole net alle vertaalpogings te bowe gaan.”
Die sokkerboekie (isiGama seSoka/Soccer Terminology/Sokker-terminologie) gaan nou gratis uitgedeel word aan meer as 40 skole in die groter Stellenbosch-gebied, asook aan sleutelsportpersoonlikhede oor die land heen. Sokkerondersteuners wat graag hulle sokkertaal wil opknap, kan die boekie teen R55 by die US se Taalsentrum aankoop. Vir meer inligting skakel gerus die Taalsentrum by 021 808 2155 of besoek www.stellenbosch2010.com.
Vir ‘n video van die bekendstelling: http://www.youtube.com/watch?v=mcVAQ1mpb4A
Vir die Flickr-album: http://www.flickr.com/photos/stellenboschuniversity/sets/72157624076562999/
Foto’s: Anton Jordaan, SSFD

Plaas u kommentaar