‘Breek die pilare van verlede af’ sê die jeug by US se Jeugdagvieringe
“Gebruik die gereedskap van nederigheid en raak ontslae van trots, eiewaan en eiegeregtigheid. Laat ons – die jeug van vandag – ons eie verlede skep. In 2030 moet mense kan praat van 16 Junie 2010 en nie die een van 1976 nie.”
Dit was die woorde van een van die sprekers by die Jeugdagvieringe by die Universiteit Stellenbosch (US). Sylvester Nogada, wat onlangs hoërskool klaargemaak het en nou werk by Kuyasa (‘n plaaslike nie-regerings organisasie in Khayamandi), was een van vier sprekers by die vieringe wat in die Konservatorium op die US-kampus gehou is. Hy het ook jong mense gevra om “die verantwoordelikheid om skanse af te breek aan te gryp om sodoende een te word”. Hy het ook benadruk dat sonder aksie niks gedoen sal word om kohesie in Stellenbosch te verbeter nie.
Roxanne George, ‘n Graad 10-leerder van Cloetesville, het gesê die tyd is hier om “verder as ras, kultuur en voorkoms te kyk”. “Hoe kan ons Suid-Afrika ‘n beter plek maak as ons verby mekaar kyk? As ons nie begin om probleme op te los nie, wie sal?”
Die ander twee sprekers, Renier Marais, ‘n matriekleerder van Paul Roos Gimnasium en Otniel Jooste, ‘n derdejaar teologie student van Jamestown, het ook die nodigheid vir insluiting, aanvaarding en sosiale kohesie binne die groter Stellenbosch beaam. “Ons moet uit ons gemaksones kom. Ons keuses bepaal ons toekoms,” het Otniel gesê.
Renier het ‘n aanhaling van Mahatma Ghandi gebruik om sy punt oor te dra. Hy het versoek dat jongmense die “pilare van die verlede moet afbreek.”
”Jong mense moet die verandering wees wat hulle wil sien. Ons moet dieselfde doelwit asook empatie vir ander hê.”
Prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, het gesê vandag se geleentheid mag dalk “onbelangrik” voorkom in vergelyking met die Sokkerwêreldbeker, maar dat die lewe nie stilstaan in 2010 nie. “Die Wêreldbeker is die gevolg van pogings deur gewone mense. In 1976 het ‘n ander lewensgrootte geleentheid plaasgevind – een met diepgaande komplikasies wat deur gewone jong mense aangevuur was.”
Hy het die gehoor aangeraai om “lojaal te wees teenoor julle land”. Hy het ook gesê dat die toekoms van die land afhang van jong mense. “Die bal is in die hande van die jeug.”
Hy het afgesluit deur te sê dat die tema van die dag – “Maak die kring weier” – ‘n refleksie is van die behoefte aan inklusiwiteit, sosiale kohesie en ‘n idealistiese uitkyk op die lewe.
“Ons is verby die stryd van die verlede – dit is klaar. Ons moet versoen, ‘n beter toekoms bou en werk aan sosiale kohesie.”
Vir die Flickr-album: http://www.flickr.com/photos/stellenboschuniversity/sets/72157624156949033/
Vir die YouTube video: http://www.youtube.com/watch?v=RjDMmp2aAb0

Plaas u kommentaar