US alumnus wen internasionale prys
Prof John Dugard, ‘n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), is een van drie ontvangers van die 2010 Gruber Foundation International Justice prys. Prof Dugard ontvang die prys vir sy voorspraak vir die menseregte van onderdrukte groepe, regstelselhervorming en die ontwikkeling van internasionale reg as ‘n manier om menseregte te beskerm.
Prof Dugard, tesame met ‘n regter van Australië en ‘n organisasie genaamd die Indian Law Resource Centre, sal die $500 000 prys deel wat toegeken word deur die Peter and Patricia Gruber Foundation.
Die Gruber Justice-prys word toegeken aan individue of organisasies wie se bydraes geregtigheid bevorder. Die prys erken individuele pogings en moedig ook verdere bevorderings in die gebied aan.
Prof Dugard, ‘n advokaat, skrywer en dosent, het sy regsloopbaan begin gedurende die apartheidsera en is tans ‘n professor in regte by die Sentrum vir Menseregte by die Universiteit van Pretoria. Deur sy skrywe en lesings en as ‘n advokaat in die howe, het hy die ongeregtigheid van apartheid aangevat. Hy het ook deelgeneem aan die konstitusionele onderhandelings wat tot die aanneem van ‘n konstitusie gebaseer op menseregte in post-apartheid Suid-Afrika gelei het. As ‘n dosent was hy nou betrokke by die ontwikkeling van jong menseregte prokureurs wat voortgegaan het om slagoffers van apartheid te verteenwoordig, apartheidswette aan te vat en gehelp het om wette te handhaaf.
Hy het regsgrade van die Universiteit Stellenbosch en Cambridge Universiteit en het vanaf 1978 tot 1990 as direkteur van die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Toegepaste Regstudies gedien. Sedert die val van apartheid was hy steeds aktief betrokke in die veld van menseregte deur ‘n lid van die VN se Internasionale Regskommissie in 1997 te word en het ook gedien as die VN se spesiale rapporteur in diplomatiese beskerming (2000-2006). Hy het ook gedien as ad hoc regter in die Internasionale Hof van Justisie van 2002-2008 asook spesiale rapporteur van menseregte in die Palestynse-gebiede (2001-8).
Prof Dugard was ook voorsitter van die Public International Law by die Universiteit van Leiden vanaf 1998 tot 2006, dekaan en regsprofessor by die Universiteit van die Witwatersrand en het besoekende posisies beklee in Australië, Engeland en by verskeie universiteite in Amerika, ondermeer Princeton, Duke, UC Berkeley en die Universiteit van Pennsilvanië. Hy het verskeie eredoktersgrade in die regte van die Universiteit van Kaapstad, Universiteit van Pretoria, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en van die Universiteit van die Witwatersrand. Hy het verskeie boeke geskryf oor apartheid, menseregte en internasionale regstelsels en was medeskrywer van verskeie regshandboeke.
“Die manier hoe die mees kwesbaarste mense in die samelewing behandel word kan ‘n teken wees van ons menslikheid. Te gereeld is dit nie hoe dinge gebeur nie en die behoeftes van kwesbare gemeenskappe word dan geïgnoreer,” sê regter Arthur Chaskalson, voorsitter van die Gruber Justice pryskomittee.
“Die betrokkenheid van hierdie jaar se Justice prys ontvangers is in skerp kontras tot hierdie. Dit reflekteer die toegewyde menslikheid van drie prys ontvangers van drie verskillende kontinente. Michael Kirby, John Dugard and The Indian Law Resource Centre wys wat is moontlik wanneer bekwame, medelydende mense die regstelsel gebruik om mense te help wat nie toegang het tot die volle spektrum van individuele regte wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar nie.”
• Vir meer inligting oor die Gruber pryse besoek http://www.gruberprizes.org of http://www.facebook.com/gruberprizes.

Plaas u kommentaar