Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




Brosjure help navorsers op opwindende pad


Of jy ‘n navorser is wat jou tegnologie wil lisensieer, of jy wil ‘n nuwe onderneming gegrond op jou navorsing begin, is InnovUS daar om jou te help. Hierdie volfiliaal tegnologie-oordragmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US) het nou ‘n brosjure gepubliseer om navorsers op hierdie opwindende pad te help.

“Ons het begrip daarvoor dat navorsers op hul spesialisgebiede wil konsentreer en dit nie altyd maklik is om hierdie indrukwekkende en werklik merkwaardige deurbrake blootstelling in die mark te gee nie. Hierdie brosjure verskaf waardevolle inligting oor die kernaspekte van innovasie – van patente, sakeplanne en maatskappy-inligting tot die oorbrugging van die gaping tussen navorsing en die bekendstelling daarvan in die mark, asook regs- en belastingkwessies. Dit is ‘n samevoeging van die ervaring van leiers op hul onderskeie gebiede,” sê Me Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte: InnovUS.

Me Nel sê hulle glo hierdie gids sal ‘n nuttige hulpbron wees vir enige navorser of entrepreneur wat die kommersialisering van ‘n idee oorweeg. “Die onderwerpe is met die grootste sorg gekies ten einde ‘n breë oorsig oor en ‘n praktiese grondslag vir innovasie te verskaf, hoewel baie spesifieke raad egter nodig is vir elke kommersiële transaksie. Ek rig graag ‘n spesiale uitnodiging aan die navorsers en personeel van die Universiteit Stellenbosch om jul uitvindings bekend te maak en ‘n kultuur van entrepreneurskap op die kampus te vestig. Uitvinders kan gerus wees dat InnovUS se ervare personeel hul intellektuele eiendom sal beskerm en ooreenkomste sal beding wat uiteindelik tot die uitvinder se finansiële voordeel sal lei.

“As ons wetenskap in die mark aanwend tot voordeel van ons mense, word ons ‘n tersaaklike Universiteit wat hoop bring en ‘n bydrae lewer tot die Suid-Afrikaanse samelewing en op die vasteland van Afrika.”

Volgens prof Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Direkteur: Bedryf en Finansies, is daar eers die groot idee en dan volg innovasie. Maar om jou idee te ontwikkel en te patenteer kan ‘n uiters uitdagende proses wees. “Daarom het InnovUS die kundigheid van ‘n wye spektrum bedryfsleiers bymekaargebring en dit in hierdie publikasie saamgestel. Ons vertrou julle sal hierdie inligting benut en aansluit by die groeiende geledere van ons baanbreker-uitvinders en -navorsers.

“Graag rig ek dan ook ‘n uitnodiging aan Matie-alumni wat leiers op hul gebiede is om by InnovUS betrokke te raak as sakeadviseurs, medebeleggers of direksielede in ons opwindende portefeulje afwentelmaatskappye. Ons het baie nuwe en opwindende inisiatiewe op die tafel en nooi julle uit om by ons aan te sluit en hierdie ondernemings te ondersteun.”

Hierdie brosjure is ook aanlyn (http://www.innovus.co.za/media/forms2010/InnovUS%20Elektroniese%20Gids%202010.pdf) of in gedrukte formaat verkrygbaar by die InnovUS- kantoor by De Beerstraat 15, Stellenbosch. Skakel gerus 021 808 3826 vir verdere inligting.


Plaas u kommentaar

*