Nuwe sokkersentrum gee SA jeug hoop
Met die bekendstelling van sy ultramoderne Sokkersentrum by Lentelus, het die Universiteit Stellenbosch (US) gister menige hart aan die klop en voet aan die dribbel gesit. Die Stellenbosse Sokkersentrum, wat deel uitmaak van die FIFA 2010-erflatingsprojek, sal as basis dien vir die Universiteit se Jeugsportinisiatief, wat daarop gemik is om jong talent deur sokker te ontwikkel.
Dié projek is in pas met die US se strategiese fokus om van Suid-Afrika en die vasteland se grootste uitdagings die hoof te bied, en skep hoop vir kinders met ‘n lewendige belangstelling in ‘the beautiful game’.
In hierdie eerste fase van die projek is ‘n kunsgrasveld van volle grootte en Futsal- (vyf-aan-‘n-kant-sokker-) bane wat deur FIFA goedgekeur is, aangelê. Dít bied jeug van die omliggende gemeenskappe ‘n veilige dog stimulerende omgewing. Hierdie geriewe sal binnekort deur grasvelde, sandbane (vir strandsokker), en uiteindelik ‘n volledige paviljoen, opgeknapte aantrekkamers en’n konferensiesentrum aangevul word ten einde ‘n sentrale sokkerspilpunt vir die groter Bolandgemeenskap te skep.
“Die Sentrum is die hoeksteen van ons Stellenbosch 2010-veldtog wat sedert Junie verlede jaar ‘n aantal sokkerverwante bedrywighede oor die hele kampus en in die gemeenskap bevorder. Dit was ons doel om betekenisvol by te dra tot ’n suksesvolle Wêreldbeker en ons het beslis in daardie doel geslaag,” het prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel tydens Dinsdag se openingseremonie gesê. Prof Smith staan ook aan die hoof van sport aan die Universiteit.
“Die Jeug Sportinisiatief wat skakel met die Sokkerakademie en skole in die gemeenskap sal kinders en mense met gestremdhede help om hul vaardighede te ontwikkel. Ons sal ook op die uitkyk wees vir talent wat die Nederlanders in die toekoms kan klop. Ons sal in elk geval die Brasiliane en Argentyne wen,” het prof Smith laggend bygevoeg.
Met verwysing na die geel en rooi strafkaarte in sokker het prof Smith gesê: “Ons moet onsself waarsku om nie laks te raak nadat die Wêreldbeker se babalas Maandag tot ‘n einde gekom het nie en terug te val in ons ou gewoontes nie. Ons moet bou op die sosiale resultate en harder werk om sosiale samehorigheid te bevorder.”
“Selfbelang moet ‘n rooikaart kyr. Ons is nie hier vir ons eie belang nie. Ons moet probeer om ons tyd, energie en vermoëns te inversteer in toekomstige generasies.”
Prof Smith het ook ‘n groen kaart bygevoer en gesê die Universiteit sal voortgaan met ontwikkeling, die oordrag van kennis en die bemagtiging van gemeenskappe.
Uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, raadsheer Cyril Jooste, het die Universiteit bedank vir die wêreldklas sokkerveld. “Deur in ‘n projek soos hierdie te investeer wys die Universiteit dat hy homself verbind tot die toekoms van ons kinders. Julle kan verseker wees van die munisipaliteit se voortgesette ondersteuning van die projek.”’
Mnr. Coby Greeff, hoof van die ministerie van Kultuursake en Sport, het dié gevoel gedeel: “Dit is ‘n goeie voorbeeld van hoe venootskappe ‘n waardevolle rol kan speel om sosiale samehorigheid in die provinsie te vestig en seker te maak ons kinders het ‘n alternatief tot die kwessies waarmee hulle elke dag in hul gemeenskappe te make het. Sport kan beslis ‘n alternatief wees.”
Die Sentrum is egter meer as net ‘n sportprojek: Dit sal kinders ook akademiese en lewensvaardigheidsopleiding bied deur ‘n vennootskap tussen die US se Sportprestasie-instituut (SUSPI) en ‘n Duitse maatskaplikeverantwoordelikheidsorganisasie, Stars of Tomorrow. By hierdie naskoolse program sal spesialisopvoeders, afrigters en nagraadse studente leerders wat akademies sukkel bykomende studiehulp, gespesialiseerde lewensvaardigheidsopleiding en sokkerlesse gee.
“Ons wil hê die Stellenbosse Sokkersentrum moet ‘n spilpunt word vir sokker sowel as vir maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap,” sê me Gugu Ntuli, Hoofuitvoerende Beampte van SUSPI. “Of dit nou die naskoolse program, ons akademie vir talentvolle jeug, of ons ontwikkelingsinisiatief vir meisies en kinders met gestremdhede is – ons oorkoepelende doel is om ‘n holistiese sokkerervaring te bied wat wyer as sport strek en jong mense ook met sterk sosiale en akademiese vaardighede toerus.”
Mnr. Joseph Jacobs, voorsitter van die plaaslike sokkervereniging, sê die sentrum is ‘n teken van hoop vir die gemeenskap van Stellenbosch. “Deur hierdie sentrum gaan die Universiteit help om spelers holisties te ontwikkel – spelers wat leiers op en af van die veld sal wees.”
Hoewel die projek altyd onlosmaaklik aan Stellenbosch verbind sal wees, verken die Universiteit ook samewerkingsmoontlikhede met bestaande Afrika-vennootuniversiteite en professionele sokkerklubs om die Lentelusmodel in ander Afrika-lande te dupliseer. “Ons glo die Jeugsportinisiatief kan ‘n model vir Afrika-universiteite wees sodat ook húlle agente vir verandering in hul omliggende gemeenskappe kan word om ‘n tasbare verskil te maak,” sê Smith. “Menige kind is vasgevang in ‘n lewe van armoede. As ons dié kringloop wil breek, is dit noodsaaklik dat ons hul sosiale, fisiese en akademiese vermoëns ontwikkel. Hiervoor is daar kwalik ‘n beter werktuig as die kragtige, verenigende medium van sport.”
Foto: Me Jackie Wiese, Direkteur: Matiessport, prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, en Raadsheer CyrilJooste,Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch.
- Vir ‘n video oor die geleentheid: http://www.youtube.com/watch?v=-W1T_jUxBfI
- Vir foto’s van die geleentheid: www.flickr.com/photos/stellenboschuniversity/sets/72157624309752621.
- Vir meer inligting oor die Sentrum of enige van sy programme, besoek www.stellenbosch2010.com of skakel 021 808 9109.

Plaas u kommentaar