US vier Erfenisdag saam met gemeenskap van Railton in Swellendam
Die Universiteit Stellenbosch (US) vier vanjaar Erfenisdag saam met die gemeenskap van Railton in Swellendam. Die geleentheid, op 24 September, dien ook as die bekendmaking van ’n spesiale navorsingsverslag wat in Swellendam en spesifiek Railton gedoen is.
Railton is ’n arm woongebied wat as gevolg van die Groepsgebiedewet ontwikkel het tot ‘n tuiste vir sowat 20,000 mense, hoofsaaklik bruin inwoners van die dorp.
Die Railton Gemeenskapsassesseringprojek (GAP) is einde 2009 as ’n gesamentlike onderneming van die Railton Stigting in Nederland (’n buitelandse stigting wat toegewy is tot die ontwikkeling van Railton) en die Universiteit Stellenbosch geloods om die geskiedenis van die gebied na te vors en te bepaal wat die behoeftes en die bronne van die gemeenskap is, ten einde ‘n moontlike pad vorentoe uit te stippel, sê dr Jerome Slamat, Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie aan die US.
Prof Tony Naidoo (US) en prof Sandy Lazarus (Universiteit van Wes-Kaapland) is as projekleiers gekontrakteer om die navorsing te doen. Hulle is deur nagraadse studente van die US en lede van die gemeenskap (waarvan sommige studente aan ander universiteite is) bygestaan. Die groep word gelei deur ’n gemeenskapsleier en voormalige skoolhoof, mnr Basil May.
’n Hoogtepunt van die Erfenisdagvieringe is die bekendmaking van die bevindinge van die navorsing. Dít word om 12:00 in die Swellendam Sekondêre Skool se Koshuissaal in Vollenhovenstraat gedoen waar prof Julian Smith, Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel aan die US, die gasspreker sal wees.
Die gemeenskap kry tydens die verrigtinge die geleentheid om insette te lewer wat betref die voorlopige bevindinge, sê dr Slamat. “Dit is ’n baie belangrike geleentheid aangesien die Railton Stigting hul toekomstige ondersteuning van gemeenskapsprojekte op die resultate van die navorsing gaan grond,” het hy bygevoeg.
Die Erfenisdagvieringe skop reeds om 08:00 af met ’n kranslegging by die Swellendam Busrampgedenkteken voor die Swellendam munisipale kantore. Dié gedenkteken is opgerig ter herinnering aan die busramp van 1975 toe 28 persone (onderwysers, leerders en die busbestuurder) verdrink het toe die bus waarin hulle na Greyton op pad was in die Sonderendrivier beland het.
“Die kranslegging gaan ook ingespan word as ’n geleentheid om erkenning te gee aan almal wat bygedra het tot die ontwikkeling van Swellendam tot waar dit vandag is. Enigeen sal die geleentheid hê om ’n blom, ruiker of krans by die gedenkteken te lê om hulde te bring aan gestorwe familielede se bydrae tot die dorp se vooruitgang. Die burgemeester van Swellendam en oorlewende van die busramp, mnr Jan Jansen, is die hoofkranslegger,” sê dr Slamat.
Om 10:00 word die Bloemfonteinhuisie in Siegelaarstraat amptelik as ʼn gedenkwaardigheid geopen. Hierdie eenvertrek-woning, wat onlangs gerestoureer is, is in 1922 gebou en word beskou as die laaste oorblywende voorbeeld in Railton van die heersende boustyl in baie dele van Swellendam voordat die gedwonge verskuiwing van mense uit die dorp plaasgevind het. Die huisie is vernoem na die eerste eienaars, Jack en Anna Bloemfontein. Die huis gaan voortaan as ‘n museum gebruik word.
By hierdie geleentheid sal dr Slamat ʼn gelukwensing namens die US oordra – volgens hom “’n besondere eer en ’n bewys van die vertroue wat die gemeenskap in die US stel”.
Die Caledon Marimba-orkes sal die gaste met musiek vermaak waarna ’n optog, onder leiding van die Progress Kersfeeskoor, vanaf die Bloemfonteinhuisie na die Swellendam Sekondêre Skool, sal plaasvind waar die navorsingsresultate bekendgemaak sal word. Tydens hierdie geleentheid sal dans- en musiekitems deur jong mense van die kontrei gelewer word.
• Kontak me Deidre Sauls (082 476 7078) en mnr Basil May (021 951 4915/084 583 3811) vir meer inligting.

Plaas u kommentaar