Deel in ons sosiale netwerke by:            
      




Kenners gee oop toegang die groen lig


Publiseer eerder jou navorsing in ‘n ooptoegang-bewaarplek of -joernaal as om die tradisionele roete van joernale wat aangekoop of net op subskripsie beskikbaar is, te volg.

Dít was die raad deur akademici van die Universiteit Stellenbosch (US) en ander kenners gister [Woensdag 20 Oktober 2010) aan deelnemers in die Biblioteek en Inligtingsdiens se Seminaar oor Oop Toegang tot Inligting. Oop toegang is ʼn relatiewe nuwe verspreidingskanaal wat publikasie op die internet behels, en verleen aan gebruikers kostelose gebruiksreg.

“Oop toegang is die enigste manier om mense te bereik wat die inligting benodig, maar dit nie kan bekostig nie,” het prof Wolfgang Preisner, Hoof van Mediese Virologie in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, gesê.

Hy het ter illustrasie verwys na patoloë en laboratorium-tegnici wat nie ingeteken is op joernale nie, maar via die internet maklik op hoogte kan bly van die jongste bevindinge oor byvoorbeeld die effektiwiteit van MIV-toetse.

Wim Gevers, Mededirekteur: Akademies aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), het gesê oop toegang lewer navorsing van beter gehalte op.

“Ons laat ons MBA-studente hul navorsingsverslae in SUNScholar deponeer, en omdat hulle en hul studieleier weet die hele wêreld kan lees wat hulle geskryf het, kry ons beter werk.”

SUNScholar is die US se ooptoegang-bewaarplek, waartoe enigiemand met ʼn internetverbinding toegang kan kry by https://scholar.sun.ac.za.

Gevers meen ook die voordeel wat ʼn akademikus trek uit die feit dat ʼn veel groter gehoor van sy of haar kundigheid kennis neem swaarder weeg as die moontlike tantieme-inkomste langs die tradisionele publikasie-roete.

“As jy ʼn kopie van jou navorsing in SUNScholar deponeer, sal jy vind dit duik maklik op wanneer iemand ʼn internet-soektog doen, byvoorbeeld met Google of Yahoo,” het me Ina Smith, die Biblioteek en Inligtingsdiens se Bestuurder van E-Navorsingsbewaring, gesê.

Mnr Mark Shuttleworth, ʼn internetmiljardêr en voorstander van oopbronprogrammatuur, het in ʼn vooraf-opgeneemde videoboodskap gesê hoe minder mense van jou navorsing weet, hoe minder is dit werd.

“Ons dink graag die beste idees wen, maar in der waarheid wen die idees wat die beste oorgedra word. ʼn Outeur het dit goed gestel. Hy het gesê, ‘My grootste bedreiging is nie dat iemand my materiaal gaan steel nie. My grootste bedreiging is onsigbaarheid’.”

Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, en President van die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en -instellings, het die seminaar, wat regstreeks op die internet vertoon is, as ʼn “mylpaal” bestempel.

Die US het tydens die seminaar die eerste Afrika-universiteit geword wat die Berlyn-verklaring oor Oop Toegang tot Inligting ten opsigte van die Natuur- en Geesteswetenskappe onderteken. Die doel van hierdie internasionale konvensie is om navorsing vrylik en wyd in die samelewing beskikbaar te stel.

Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, het gesê SUNScholar is ʼn waardevolle bron ter bevordering van die ontwikkelingsdoelwitte van die HOOP Projek.

* Vir meer inligting besoek http://oa.sun.ac.za/ vir meer inligting.

Onderskrif 1: Prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), onderteken die Berlyn-verklaring oor Oop Toegang tot Inligting ten opsigte van die Natuur- en Geesteswetenskappe, met me Ellen Tise, Senior Direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens en President van die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en –instellings wat toekyk. (Foto: Anton Jordaan, SSFD). 

Onderskrif 2: Die ooptoegang-verbintenis wat die US aangegaan het. (Foto: Desmond Thompson)

* Klik http://www.youtube.com/watch?v=SlcOa0QJHkg   vir Mark Shuttleworth se video-boodskap van gelukwense aan die US.* Klik http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/4806  vir toegang tot die digitale argief van al die seminar materiaal in SUNScholar.


Plaas u kommentaar

*