US vernoem dokumentesentrum na eertydse rektor
Die Dokumentesentrum in die JS Gericke Biblioteek by die Universiteit Stellenbosch is vernoem na ’n vorige US-rektor, prof HB Thom, wat tot 1969 sestien jaar aan die hoof van dié universiteit gestaan het en met sy dood die kanselier was.

Me Ellen Tise, senior direkteur van die US Biblioteek en Inligtingsdiens, en prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier, by die HB Thom-lokaal. (Foto: Anton Jordaan, SSFD)
Die vernoeming het saamgeval met die bekendstelling van ’n volledige katalogus in agt volumes wat deur Lynne Fourie en Marina Brink van die sentrum opgestel is om die Thom-versameling vir toekomstige navorsers te ontsluit.
Die Thom-dokumente – die grootste van die sentrum se meer as 400 versamelings – bestaan uit duisende stukke wat 45 meter rakruimte beslaan.
Ander belangrike versamelings in die sentrum sluit onder meer in dié van ’n aantal voorste Afrikaanse skrywers en digters. Navorsers van oor die wêreld werk op dokumente in die sentrum.
Thom word met die vernoeming gehuldig vir sy rol in die geskiedenis van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens én van die US in die algemeen. Hy het ’n groot aandeel gehad aan die totstandkoming van die sentrum meer as vier dekades gelede.
In sy lang rektorstermyn het die US sterk gegroei, met vier nuwe fakulteite en elf nuwe koshuise. Die studentetal het meer as verdriedubbel tot bykans 7 000. “Niemand op Stellenbosch kan sy nalatenskap miskyk nie,” het prof Russel Botman, die US se rektor en visekanselier, by die vernoemingsgeleentheid gesê.
Dit is volgens Botman belangrik dat ’n nalatenskap soos die Thom-dokumenteversameling bewaar word, “sodat ons daarin kan delf en daaruit kan leer. Só ontwikkel volgende geslagte ’n gevoel vir die evolusie van hul lewenswêreld en hul almal mater.”
Thom het op Stellenbosch en ook in Duitsland en Frankryk gestudeer. Voor hy in 1956 rektor geword het, was hy professor in geskiedenis – en skrywer van onder meer werke oor Gert Maritz en DF Malan. Ná sy aftrede as rektor was hy agt jaar voorsitter van die destydse Adviserende Raad op Universiteite.
Hy en sy vrou was kinderloos en het ’n sterk trustfonds nagelaat wat vir jare ruim bedrae aan die dokumentesentrum verskaf het. Dié trust het volgens bepalings in die Thoms se testament ook bygedra tot studiebeurse en navorsing by die US en het kleiner bedrae aan enkele ander instansies gegee.
Fondse van buite die Universiteit is noodsaaklik vir die bewaring en instandhouding van versamelings soos dié in die HB Thom-lokaal, het me Ellen Tise, senior direkteur van die US se Biblioteek en Inligtingsdiens, met die vernoeming gesê. Prof Arnold van Zyl, Viserektor: Navorsing, het gesê kennis is die enigste kommoditeit wat nie deur die benutting daarvan verbruik word nie, maar vermeerder.
* Artikel geskryf deur Hans Oosthuizen.
Vir die Rektor se toespraak: http://www.sun.ac.za/university/Management/rektor/docs/HB_ThomKatalogus.pdf


Plaas u kommentaar