Sterk samewerking en vennootskappe sal Afrika se navorsingsuitsette verhoog
Afrika se navorsingsuitsette maak net 0,7 % van die globale totaal. Dit beteken dat die kontinent se kundiges nie genoeg doen om met oplossings vanuit eie bodem te kom om Afrika se probleme te takel nie.
Dit is hieruit duidelik daar is ’n behoefte vir Afrika universiteite om sterk samewerkingsooreenkomste en vennootskappe te smee wat deur institusionele voorneme en wilskrag gedryf word.
Dit was die boodskap van prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) tydens die Afrika Universiteitedag (AUD) vieringe wat in die Wallenbergsentrum in Stellenbosch gehou was.
Die Afrika Universiteitedag, wat elke jaar by die Universiteit Stellenbosch op 12 November gehou word, bied aan navorsers in die gebied die geleentheid om ondervindinge en idees oor Afrika akademiese samewerking te deel. Dié dag is in 2000 ingestel deur die Vereniging van Afrika-universiteite – die hoëronderwysimplementeringsliggaam van die Afrika-unie. Die US het hom by die Vereniging aangesluit deur sedert 2001 jaarliks ʼn streeksgeleentheid oor die voorgestelde tema vir die betrokke jaar aan te bied. Vanjaar se tema is Afrika-universiteite se bydrae tot die verwesenliking van die Millenniumontwikkelingsdoelwitte.
Prof Botman het gesê dit is belangrik vir Afrika universiteite om hul fokus stewig op die kontinent te hou.
Om die probleem van lae deelnamekoers in hoër onderwys aan te spreek het die US ’n Skool vir Nagraadse Studie in die Fakulteit vir Lettere en Sosiale Wetenskappe gestig met die doel om top gehalte nagraadse programme te handhaaf en om navorsing, wat op die probleme van Afrika gefokus is, te koördineer.
Prof Johan Groenewald van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het die afgevaardigdes meer ingelig oor die gesamentlike doktorale opleiding en navorsingnetwerk programme ook bekend as die Vennootskap vir Afrika se Volgende Geslag Akademici (PANGeA). Hierdie programme sal later vandag amptelik geloods word. Dit is ʼn netwerk vir samewerking tussen die US en die universiteite van Botswana, Dar es Salaam, Makerere, Malawi en Nairobi.
PANGeA sal die ontwikkeling van hoër onderwys in Afrika bevorder deur geleenthede te skep vir samewerkende navorsing en kennisuitruiling onder eweknie-instellings, metodologiese ontwikkeling, voltydse doktorale studie en, op langer termyn, die ontwikkeling van gesamentlike doktorale programme.
Volgens prof Groenewald sal studente met ‘n gesamentlike graad van die US en ‘n ander Afrika universiteit baie meer voordele geniet.
Vir die Rektor se toespraak: http://www.sun.ac.za/university/Management/rektor/docs/AfricanUniversityDay.pdf

Plaas u kommentaar