Madiba: ʼn Leier van statuur

Die oorwinning oor apartheid behoort aan almal wat dié stelsel help beëindig het, maar die grootste besielende figuur van die stryd daarteen was ongetwyfeld oudpres. Nelson Mandela. Sy voorbeeld en die ontberings wat hy deurgegaan het, het mense in die donkerste ure moed gegee.

Hy het gestaan vir demokrasie en geregtigheid, selfs toe dit tot sy eie nadeel was. Sy lewe is gekenmerk deur respek vir en verdraagsaamheid teenoor mense se standpunte, taal, kultuur en godsdiens.

Meer as enige monument of straatnaam, is die beste eerbewys aan Madiba die Grondwet wat ons land in 1996 gekry het. ‘n Mens sou dit as die Madiba-grondwet kon bestempel. Dit was hy wat Suid-Afrika se oorgang van apartheid na demokrasie gelei en beslag aan ‘n nuwe en vrye Suid-Afrika gegee het. Dit vervat sy waardes, sy siening en respek vir diversiteit en vir die universele regte van elke mens in ons land.

Die beste manier om die Madiba-nalatenskap te huldig, is om die Grondwet te beskerm en te handhaaf. Die land sal ‘n veel beter plek wees as daar meer omvattend uitvoering aan die Grondwet gegee word. Hier dink ʼn mens veral aan die sosiaal-ekonomiese bepalings van die menseregtehandves – onder meer op behuising, werk en kos – wat ons gebroke menswaardigheid in Suid-Afrika kan help herstel.

Die reg op basiese en verdere onderwys maak deel van die Grondwet uit, en hierin het Mandela ook self ‘n voorbeeld gestel. Sy toewyding aan onderwys maak van hom ‘n rolmodel vir alle dosente en studente, onderwysers en leerders. Dit is hierdie oortuiging wat hom op ‘n keer laat sê het, “Onderwys is die beste manier om die wêreld te verander.”

Dit is onder meer hierdie ingesteldheid waaraan die Universiteit Stellenbosch in 1996 erkenning gegee het met die toekenning van ‘n eredoktorsgraad in die wysbegeerte aan Madiba.

Maties het destyds gesê hy het ‘n lewende simbool geword van bemagtiging deur studie, van vrede en versoening deur onderhandeling, en van respek vir daardie waardes wat ‘n regverdige en menslike samelewing moontlik maak. Daarmee stem ek saam, en dít is hoekom ons eer aan Madiba betoon.

Hy het ons nog ʼn groot geskenk gegee: die statuur en kaliber van sy leierskap wat vir komende generasies ‘n toonbeeld sal bly. Die kaliber leierskap wat Madiba konsekwent oor die jare getoon het, laat hom kop en skouers bo andere uittroon.

Nie net het hy vir 27 jaar in ‘n tronksel rotsvas gebly in sy strewe vir die vryheid en waardigheid van alle mense nie. As ʼn mens terugdink aan die stormagtige tydperk in die aanloop tot die 1994-verkiesing – die oomblikke waarin ons land op die randjie van die afgrond van burgeroorlog gewankel het: die slag van Boipatong en die sluipmoord op Chris Hani, om maar twee te noem — was dit Madiba wat gemoedere kon laat bedaar en alkante toe die brose vrede kon bewaar.

Juis weens sy sterk leierskap kon hy opponerende groepe sover kry om toegewings te maak. En dít is hoekom hy aansien by deursnee-Suid-Afrikaners geniet en nie deur slegs een groep hoog aangeslaan word nie.

In ‘n tyd waarin jongmense goeie leierskap soek, hoef hulle net na sy voorbeeld te kyk vir inspirasie en ʼn inklusiewe toekomsvisie wat ons land so nodig het. In hierdie tyd van rou moet ons boodskap aan die jeug wees om die waardes, benadering en leierskapstatuur van Mandela na te streef. Daardeur kan ons ʼn waardevolle belegging in ʼn toekoms van vreedsame samesyn in geregtigheid maak.

  • Lewer gerus hieronder kommentaar, of gesels op Twitter met my @RusselBotman. Ek sien uit daarna om van jou te hoor.