Universiteite se rol in die stryd om vroueregte

Suid-Afrika vier vanjaar 20 jaar van demokrasie, en nuwe wetgewing om geslagsgelykheid te bevorder is aan die kom. Maar wat is die ware stand van sake wat vroueregte betref, en watter rol kan universiteite hierin speel?

Ná ons land se eerste vrye verkiesing in 1994 word gelykheid tussen die geslagte sowel as vroueregte formeel in Suid-Afrika erken. Ons nuwe Grondwet, wat in 1996 aanvaar is, weerspieël hierdie verandering. Dit bevat ’n Handves van Regte met ’n klousule oor gelykheid, wat bepaald onbillike diskriminasie op gronde soos gender (“geslagtelikheid”), geslag en seksuele oriëntasie verbied.

Die verandering word verder vasgelê in daaropvolgende wetgewing, waaronder die Wet op Diensbillikheid van 1998, wat “gesinsverantwoordelikheid” byvoeg by die lys gronde waarop enige “onbillike diskriminasie” verbied word. Boonop het dié wet regstellende aksie vir “aangewese groepe”, synde “swart mense, vroue (van alle ‘rasse’) en mense met gestremdhede”, ingestel.

Die jongste ontwikkeling in dié verband was toe die Wetsontwerp op Vrouebemagtiging en Geslagsgelykheid onlangs deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is. Die wetsontwerp beoog dat vroue minstens 50% van besluitnemingsposte in die land sal beklee. Voorts is dit daarop toegespits om vroue se toegang tot onderwys, opleiding en vaardigheidsontwikkeling te verbeter, hul voortplantingsgesondheid te beskerm, en diskriminasie en skadelike praktyke soos geslagsgebaseerde geweld uit te skakel.

Die verbetering van die status van vroue in Suid-Afrika het die land se eerste demokraties verkose president, wyle Nelson Mandela (1918-2013), na aan die hart gelê. Hy kry tereg die eer daarvoor dat hy ná die 1994-verkiesing die weg na vrouebemagtiging gebaan het. By die eerste sitting van Suid-Afrika se nuwe Parlement in 1994 het Madiba gesê: “Vryheid is slegs haalbaar indien vroue van alle vorme van onderdrukking bevry word.” Daarbenewens, het hy bygevoeg, moet vroue “bemagtig word om op gelyke voet met enige ander lid van die samelewing aan alle aspekte van die lewe deel te neem”.

Die persentasie vroue in die land se Parlement het vertiendubbel van voor die 1994-verkiesing tot net daarna – van 2,7% tot 27%. Deesdae staan hierdie syfer op 44%, terwyl 42% van kabinetslede vroue is. Dít plaas die Suid-Afrikaanse wetgewer en kabinet onder die tien mees verteenwoordigende ter wêreld.

As ’n mens egter die algehele indiensnemingstatistieke van Suid-Afrika van nader bekyk, kom ’n ander prentjie aan die lig. Hoewel vroue die helfte van die bevolking uitmaak, is hulle swak verteenwoordig op bestuursvlak.

Volgens die Kommissie vir Diensbillikheid maak vroue 43% van die geskoolde arbeidsmag, 42% van professioneel gekwalifiseerdes, 30% van senior bestuurders en 20% van topbestuur uit. Die tendens is duidelik: hoe hoër op by die werkplek, hoe minder vroue.

Hoe sien universiteite daar uit? Eerstens moet daar billikheidshalwe gesê word dat daar sedert 1994 groter klem op gelyke geleenthede vir vroue in die hoër onderwys val. Daar is nóú gewis meer vrouestudente, vrouepersoneel en vrouebestuurders by universiteite as vantevore.

Volgens die Raad op Hoër Onderwys het die land se getal vrouestudente van 409 000 in 2006 tot 543 000 in 2011 gestyg. Aan die ander kant het die getal manstudente egter óók toegeneem. En wat van die personeel en senior bestuur van universiteite? Die tendens is min of meer dieselfde. Ja, daar is meer vroue, maar daar is ook meer mans, so die verhouding bly onveranderd. Dit is egter op die hoër posvlakke wat dit veral merkbaar word dat mans veel beter verteenwoordig is as vroue.

Hoe staan sake elders op ons vasteland? Volgens HERS-SA, die Suid-Afrikaanse tak van die Hoëronderwyshulpbrondiens van die VSA, toon die statistieke ’n “soortgelyke patroon in ander dele van Afrika, waaronder Nigerië, Ghana, Uganda, Tanzanië, Kenia, Malawi, Zambië, Mosambiek en Zimbabwe”. Die organisasie meen “die hoogste persentasie vroue is in die laagste akademiese poste en op die laagste posvlakke in steundepartemente”.

Dít is ook die prentjie wêreldwyd. In Amerika maak vroue 57% van alle universiteitstudente uit, dog slegs 26% van volprofessore, 23% van universiteitsvoorsitters en 14% van voorsittersampte by instellings wat doktorsgrade toeken.

Maar, hoewel die antwoorde voor die hand blyk te wees, waarom is die onderverteenwoordiging van vroue – veral in leiersposte – ’n probleem? Hoofsaaklik om twee redes: Dit is onbillik, en dit impliseer die onderaanwending van die mensdom se volle vermoë. Eersgenoemde is onuitstaanbaar, en laasgenoemde kan ons kwalik bekostig in die lig van die behoefte aan versnelde menslike ontwikkeling die wêreld oor.

Die Withuisprojek het in 2009 reeds gesê die bemagtiging van vroue om leiersrolle in hoëronderwysinstellings te vervul, strek veel verder as blote syfers. Die organisasie het aangevoer dat die “teenwoordigheid – of afwesigheid – van vroulike akademiese leiers verreikende gevolge kan hê vir die instellings self, dog ook vir die omvang van navorsing en kennis wat ons almal raak”.

Die mensdom is ’n enkele spesie wat hierdie enkele planeet van ons bewoon. Die groot uitdagings waarvoor ons op hierdie punt in ons geskiedenis te staan kom – die bestuur van aardverwarming en klimaatsverandering, die strewe na groter sosio-ekonomiese gelykheid, die vermindering van gewapende konflik, ensovoorts – is op sigself ingewikkeld en veeleisend genoeg. Ons kan nie bekostig om onsself te kortwiek deur nie ál ons menslike hulpbronne ten volle te benut nie.

Die hoër onderwys is ’n baie belangrike terrein in die stryd om die bevordering van vroue – en in verskeie opsigte hou dit veral met die verskillende funksies van die universiteit verband.

Die universiteit speel eerstens ’n pedagogiese rol om jongmense op ’n deurslaggewende stadium van hul lewens te vorm. Hierdie jongmense moet gelei word om krities te dink en bestaande praktyke met betrekking tot vroue se posisie in die samelewing opnuut in oënskou te neem.

Tweedens vervul die universiteit ’n belangrike rol in die skep van nuwe kennis. Dít beïnvloed dan weer staatsbeleid op verskeie vlakke.

Laastens is universiteite ook deel van die samelewing, en behoort hulle dus sinvol met gemeenskappe om te gaan. Dít is waar hoëronderwysinstellings ’n invloed behoort te hê wat vroue se status in die samelewing betref.

Die Universiteit Stellenbosch het verlede jaar ’n nuwe visiestelling aanvaar. Een van ons hoofdoelwitte is om meer inklusief te word. Ons institusionele kultuur behoort alle personeel en studente, ongeag hul gender, geslag of seksuele oriëntasie, te verwelkom en te bemagtig.

Kom ons belê in die bemagtiging van alle mense deur onderwys. Maar laat ons ook die proses daarná oordeelkundig bestuur sodat vrouebevordering nie aan die toeval oorgelaat word nie, maar op alle vlakke ’n hupstoot kry deurdat ons meer inklusief word.

  • Hierdie artikel is ’n geredigeerde weergawe van my toespraak by die Universiteit van Aberdeen in Skotland se Internasionale Vrouedagkonferensie op 7 Maart 2014.
Tagged , , , , , , , , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *