[:en]
Die Fonds Neerlandistiek Suider-Afrika aan die Universiteit Stellenbosch stel vir 2025 bedrae aan Suider-Afrikaanse navorsers beskikbaar ter ondersteuning van publikasies, die organisering van wetenskaplike byeenkomste en die aankoop van onderrighulpmiddele op die gebied van die Neerlandistiek.
Publikasiesubsidie oor die Neerlandistiek
‘n Ruim bedrag is beskikbaar om as subsidies (nie as voorskotte nie) regstreeks aan uitgewers uit te betaal. Net boeke en artikels van vakwetenskaplike aard en proefskrifte oor die Neerlandistiek wat vir publikasie aanvaar is, sal oorweeg word. Die lopende koste van navorsing word nie befonds nie.
Voorrang word gegee aan die subsidiëring van publikasies op die gebied van Afrikaanse of Nederlandse Taalkunde en Taalbeheersing (waaronder inbegryp word teksuitgawes), by voorkeur werke oor Afrikaans wat betrekking het op die sinkroniese of diakroniese verband tussen Afrikaans en Nederlands. Publikasies oor die Nederlandse letterkunde waarin die verband tussen Nederlands en Afrikaans aan die orde kom, sal ook voorrang geniet.
Die aansoek moet die doelstelling, die inhoudsopgawe en ‘n samevatting van 5000 woorde van die boek bevat, vergesel van keurdersverslae en ‘n brief van die uitgewer waarin ‘n kosteberaming en motivering vir die nodigheid van die subsidie vervat word, ‘n onderneming gegee word om die werk te publiseer en die verskyningsdatum (laatstens agtien maande na die keerdatum van die aansoek) vermeld word. Boeke wat voor die keerdatum van die aansoek verskyn het, kwalifiseer nie.
‘n Uitbetaling sal gedoen word nadat ‘n eksemplaar van die gepubliseerde werk aan die Fonds verskaf is.
Kongresse en simposia oor die Neerlandistiek
Subsidie vir die reël van plaaslike kongresse of simposia oor die Neerlandistiek is beskikbaar. Die aansoek moet die program van die voorgestelde byeenkoms bevat met vermelding van die doel daarvan, die koste, die reëlingskomitee, die referaattitels en die referente wat optree. Die reis- en verblyfkoste van referente wat by dergelike byeenkomste optree, asook kongresbywoning plaaslik of in die buiteland, kom nie in aanmerking nie.
Hulpmiddele vir die onderrig van die Neerlandistiek
Ondersteuning word gegee aan die aankoop van literatuur en programmatuur wat regstreeks op die onderrig van die Neerlandistiek betrekking het. Die aard, die benutting (bv. getal studente wat bereik word) en die koste van die hulpmiddele moet duidelik in die aansoek gespesifiseer word. Die aankoop van rekenaarapparatuur en literatuur vir navorsing word nie ondersteun nie.
Buitengewone aansoeke
Goed gemotiveerde buitengewone aansoeke wat nie binne die bostaande kategorieë val nie, sal oorweeg word.
Afgesien van die besonderhede wat onder elke kategorie vereis word, moet die aansoeker ‘n kort curriculum vitae insluit. Slegs wetenskaplike publikasies (geen resensies of populêre artikels nie) van die afgelope twee jaar moet vermeld word.
Aansoekers moet ook aandui of hulle vir die spesifieke behoefte steun uit ander bronne gevra het, of hulle met sodanige versoeke suksesvol was, en, indien wel, wat die bedrag van hierdie steun is.
Skriftelike aansoeke moet aan die volgende adres gerig word:
Me. Willemien Engelbrecht
Departement Afrikaans en Nederlands
Stellenbosch Universiteit
Privaatsak X1
MATIELAND
7602
Tel. (021) 808-2158
E-pos: wae@sun.ac.za
Aansoeke per e-pos is voldoende.
FNSA-lede:
Dr Alfred Schaffer (Voorsitter)
Prof Anthea van Jaarsveld
Prof Frank Hendricks
Prof Thys Human
Me Willemien Engelbrecht (Sekretaris)
[:]

