2011

Die begin van 2011 merk ‘n groot jaar vir die BTK. Van ‘n baie besige uitstappiekalender tot ongelooflike toere is als deel van wat ‘n BTKaner kan verwag.

Nie minder as 28 uitstappies onder leiding van die bekwame uitstappieleiers word beplan nie. Dit sluit in rustige daguitstappies, avontuuruitstappies, naweekuitstappies en amptelik vir die eerste keer bergfietsuitstappies. Daguitstappies wissel hierdie jaar van meer uitdagende stappe tot rustige wandelings. ‘n Paar uitstappies wat uitstaan is Somerset Sneeukop, die hoogste berg in die omgewing, Matroosberg, die Doringrivier witwater roei asook die skilderagtige Oak Valley vir die bergfietsentosiaste.

2011 merk baie eerstes vir die BTK. Maar een wat verseker uitstaan is feit dat lede kan uitsien na 2 toere in die wintervakansie! Maart vakansie besoek ons die Knysna-bos en volg die asemrowende Outeniqua roete. En dan, die veelbesproke Drakensberge maak sy terugkeer tot die BTK kalender en word vir die eerste keer in 10 jaar in die winter aangepak. Spaar solank jou geld vir ‘n donsslaapsak en warm baadjie – dit gaan koud wees! Ook in die wintervakansie word die magtige Oranjerivier te voet besoek op die baie afgesonderde en natuurskone gedeelte tussen Onseepkans en Klein Pella.

Vir die van julle wie se tydjie as student amper klaar is wil ek aanmoedig om nie van Stellenbosch af weg te gaan voor jy nie ten minste op een van ons majestueuse berge gestaan het nie. Maak gebruik van die geleenthede wat die BTK bied en kom deel die goeie tye saam met ons.

Stap nou, werk later