{"id":5785,"date":"2025-06-27T17:02:29","date_gmt":"2025-06-27T15:02:29","guid":{"rendered":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/?p=5785"},"modified":"2026-03-16T10:00:14","modified_gmt":"2026-03-16T08:00:14","slug":"breerivier-2025","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/2025\/06\/breerivier-2025\/","title":{"rendered":"Bre\u00ebrivier 2025"},"content":{"rendered":"<h1><b>Bre\u00ebrivier 2025<\/b><\/h1>\n<p><b>Deur Kyanti Greyling<\/b><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cDiewe! Almal van julle is diewe!\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Dit is \u2018n alombekende feit dat Stellenbosch studente \u2018n ho\u00eb waardering het vir wyn, maar nooit het ek gedink sal ek die dag sien dat wyn sal maak dat \u2018n BTK\u2019ner sy toermaters so fel beskuldig nie. Ge\u00efnteresseerd in die rede vir di\u00e9 uitbarsting? Ons storie skop af vroeg een oggend in die Neelsie parkeerterrein\u2026\u00a0<\/span><\/p>\n<h2><strong>Dag 1 \u2013 Rietdakkie padstal<\/strong><\/h2>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Al sit die slaap nog dik in sommige BTK\u2019ners se o\u00eb, kan dit nie die sprankel daaragter verberg nie.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cDink julle rerig ons gaan wynproe?\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cMet toergeld van net R1200? Moenie laf wees nie.\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Verskeie soortgelyke gesprekke spekuleer presies wat die beloofde wyntoer vir ons inhou soos ons wag vir Matthys en Simone Anna-Mart om terug te keer met hopelik meer as niks in die voorheen dolle\u00eb medikit. Hierdie mag dalk nie die Drakensberge wees nie, maar wanneer dit by die BTK kom, het ek nou al geleer: mens weet nooit nie. \u2018n Medikit gepak vir elke moontlike aanval, ongeval &amp; ingeval, was nog nooit \u2018n slegte ding nie.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Aangekom in die Bre\u00ebriviervallei word die res van ons toermaters met vreugdevolle omhelsings gegroet terwyl Lenka met groot verligting vasstel dat Charlize wel nie verslaap het nie, maar net reeds by die beginpunt vir ons gestaan en wag het. Soos al die ander groepe hulle kos onder hul lede verdeel, dink ons liefste toerouers, Tannie Maryke en Oom Rian, \u2018n slim dog slinkse plannetjie uit om hul groepie, Pinotage, \u2018n bietjie gewig te spaar. \u201cHulle weet nie wat ons weet nie,\u201d word daar gefluister terwyl die hele groep se kos summier agterin die Botha bakkie gelaai word \u2013 die bakkie wat nou deur Frederick teruggery word na die eerste aand se slaapplek. Te lui om ons stapskoene aan te trek, doen ek en Marietjie spoedig ons navorsing deur vir Oom Rian te peper met vrae oor die dag se stapterrein en stel ons vinnig vas dat ons maar in ons Crocs kan stap. Dis mos nou al deel van die amptelike BTK drag.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">M\u00fcller is aangestel as slot vir die dag met die uwe aangestel as sy sleutel \u2013 \u2018n keuse grootliks bevraagteken deur meneer die voorsitter, maar in vrede gelaat nadat hy eers moes keer dat s\u00fd sleutel nie vir die dag moes agter stap nie. Nog \u2018n keuse grootliks deur die groep in die algemeen bevraagteken, is Eden se keuse van stapsak. Wel, ek weet nie of ek dit regtig \u2018n stapsak kan noem nie; ek is redelik seker daai sak het nog nooit in sy lewe die woord \u201cstap\u201d gehoor nie. Dit was \u2018n toksak. Op Eden se skouers gelaai soos \u2018n rugsak. Eina. Sterkte, Eden.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Dit het nie lank gevat vir die agterosse om hulself te skei van die res nie. Selfs sonder haar Drakensberge tent van \u2018n re\u00ebnjas op haar rug vat Jada maar haar tyd, jong. Kort voor lank bulder \u2018n uitgerekte \u201cKom aan stappeeeeeers!\u201d van agter af deur die lug. Met groot o\u00eb kyk die agterosse vir M\u00fcller aan. Onge\u00ebrg trek hy sy skouers op en reken \u201cek staan net in vir die voorsitter; sy stem word mos altyd weg.\u201d<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Teen Game Break #1 het die einste bakkie besturende Frederick die groep ingehardloop met sy spiekeries nuwe draftekkies. In die koelte van die blaredak bo ons ruk ek my breipenne uit en luister hoe Carla haar amptelike BTK \u201csnack\u201d rangorde voorlees: (1) sjokolade, (2) pretzels, (3) grondboontjies &amp; rosyntjies, (4) melkbotteltjies. Nou ja, daar het julle dit uit die mond van die kosdogter haarself. So gepraat van kos \u2013 sou jy \u2018n roosterkoek wat jy langs die pad in \u2018n bossie weggesteek vind, vertrou? Dit is die vraag op Matthys se lippe nadat Frederick soos wat ons stap een uit die bos uitpluk en dikgelukkig daaraan begin eet.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Al het ons nie ver gestap nie voel die middagete worsbroodjies soos \u2018n wolkie op my tong. Daar word vinnig besef dat die tamatiesous nie s\u00f3 streng gerasioneer hoef te word nie \u2013 \u201cdie bottel moet op asb!\u201d vra die wat daaraan dra \u2013 en so word daar gou sommer aan broodjies met n\u00e9t tamatiesous op gesmul (M\u00fcller het opinies hieroor). Enige steeds oorblywende tamatiesous word aan die Wraakkaptein, Drian, geskenk en gou drentel eerstetoeriste met rooi tamatiesouswange terug in ons geselskap in. Die ewig betwiste vraag oor watter geur Game die beste is, word onder die enigste koelte afdakkie vurig gedebatteer. Ongeag waar jy staan met di\u00e9 saak, een ding is verseker, s\u00ea M\u00fcller: die beste Game in Stellenbosch is by Game te vinde.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Op die deuntjie van Meisie Meisie daal ons neer in die vallei en verkyk ons aan die wingerdblare, bont verkleur asof \u2018n kleuter nie mooi kon besluit watter kryt om te gebruik nie en sommer iets van alles aangewend het. Die meer opgewasse landbou studente lig ons in dat baie van di\u00e9 mooi in werklikheid deur \u2018n siekte veroorsaak word en ons stel net weereens vas dat die Here se skepping in elke fase, lewe of dood, beeldskoon is.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Eindelik aangekom by die Botha huishouding word skiet oopgemaak tot die groot opwinding van rifr\u00fbe Demi en Tunzi wat saam met die manne tussen die dames rondbaljaar op soek na \u2018n sleemaat. Ons verbeel ons vir \u2018n oomblik dat ons nie op \u2018n staptoer is nie en hardloop almal deur die Bothas se storte \u2013 slegs 2 minute elk n\u00e8, dames! Met skoon hare en warm voete wandel ons oor die pad na Rietdakkie toe en moet ek myself uitdruklik herinner dat dit wel die eerste aand van toer is en ni\u00e9 die laaste nie, want die toneel wat voor my afspeel, is een van uiterse bederf: sommige sit salig op die stoep, glase wyn en koppies warm sjokolade in die hand, en peusel aan dadels, gedroogte pere en perskes terwyl ander padel speel op die gras of op stelte rondjanter. Liggies is gestring tussen die bome en \u2018n vuurtjie knetter vriendelik voort. Die tente is opgeslaan in die padstal se agterplaas, onder \u2018n lae blaredak wat die prentjie van \u2018n geheime tuin, weggesteek in die woud van \u2018n sprokie namaak. Die kwynende winterlig val in sagte pienk en oranje op die berge wat ons van alle kante magies en groot omring. Ek draai en draai en draai totdat ek lighoofdig raak in \u2018n poging om al die mooi van ons Vader se skepping in te neem.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">In my draaiery vang my oog die tafel swaargelaai onder roosterkoek, botter, kaas en wortelkoekkonfyt (!!) en blitsvinnig kom my draaiery tot \u2018n einde. Kos. Nog beter \u2013 Botha kos. Ek het al genoeg van Carla se bakprojekte geproe om te weet dat d\u00e1\u00e1i roosterkoeke my lewe gaan verander. Tannie Maryke en Oom Rian deel die storie van geloof, hoop en liefde wat die fondasie van Rietdakkie vorm asook hul gesegde: \u201cWe are blessed to be a blessing.\u201d Wat \u2018n se\u00ebning is dit nie om op so \u2018n spesiale plek in die gemeenskap wat die Here ons elkeen mee voorsien het, te verkeer nie.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ek was reg. Die roosterkoek het my lewe verander. Ek is seker joune ook, indien jy op toer was. Indien nie \u2013 shame. Klim n\u00f3\u00fa in jou kar en vat die afdraai Rietdakkie toe. Jy sal nie spyt wees nie. (Bring sommer vir my een terug asseblief en dankie.) Carla, wie die volgende dag moet terugkeer Stellies toe vir \u2018n chemie vraestel, vliet wraggies tussendeur \u2018n laaste bietjie swottery met \u2018n groot glimlag tussen die bondel honger studente rond en maak seker dat almal oorgenoeg warm sop en vars roosterkoek in hul mae kry.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Nadat Drian en M\u00fcller klaar baklei het oor wie waar op die seil mag slee, open die toer se items. Oorweldig deur die groot oomblik \u201cspoel [SW se] gedagtes soos \u2018n skottelgoedwasser rond\u201d, maar eindelik haal hy Van Wyk Johannes Joubert Louw se woorde aan met die fynste aanvoeling wat slegs toegeskryf kan word aan jare se bestudering van digkuns. Luigi sit vanaand \u2018n kop korter as Mario, wie wil weet \u201cwhat is the word when it is gaar but still firm?\u201d waarop Luigi uit volle bors lostrek met ABBA se \u201cAndante Andante\u201d. Marialle vergeet so \u2018n bietjie hoe Jill begin \u2013 seker maar al die \u201cshots shots, shots shots shots\u201d wat sy geneem het. Die hoogtepunt van die aand m\u00f3\u00e9t egter toegeken word aan die revolusion\u00eare Candice met haar stokkielekker en gebreekte Kway zip wat met haar hele hart net wil weet \u201cHow can I help <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">you<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\">?\u201d.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Met hekels kom dit aan die lig dat SW van M\u00fcller versoek om sy kinders met sy wysheid te baar, Drian sou huil oor die Drakensberge, Kyanti se breiwerk vir haar baie seksiepunte verdien en Jada nou dalk nie kan sing nie, maar wel kan suip. Ons bevestig ook dat Kehan nie gemaak is vir die myne nie, dat Tanya aangestel is as Kyanti se Tydelike K\u00earel op toer en dat ons in oorvloed lewe met 28 mans en 33 dames op toer.\u00a0<\/span><\/p>\n<h2>Dag 2 \u2013 die dro\u00eb rivier<\/h2>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Koud. Die algemene konsensus onder die groep as jy gevra het hoe ons geslaap het. Dis natuurlik uitsluitend Carla, Frederick en ons liewe toerouers wat warm in hul knus beddens oorkant die pad geslaap het. Hulle is natuurlik nie wakkergesing deur die stokers se geesdriftige weergawes van \u201cHasie, hoekom is jou stert so kort\u201d, \u201cPadda moet gaan opsit by sy nooi in die vlei\u201d, en Shrek se \u201cBeliever\u201d nie, so. Jy kan besluit wie\u2019t nou eintlik iets misgeloop hier.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Oor BTK pap met mini malvalekkers in word daar bespreek wat die mees aanvaarbare verloop van aksie sal wees in die geval dat jou pel \u2018n onderbroek benodig en jy slegs \u2018n addisionele vuil een byderhand het \u2013 dop jy hom binneste buite om, of trek jy self die vuil een aan en bied hom jou huidige skoner een aan? Indien jy wonder wie hierdie gesprekspunt by ontbyt aangeknoop het \u2013 natuurlik niemand anders nie as die BTK meisies.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Johannes verjaar, maar die dames is duidelik nog effe aan die slaap en wens hom baie entoesiasties geluk deur die mans se verjaarsdagliedjie te sing. Moenie bekommer nie, Cozette sorg vir \u2018n behoorlike gelukwensing met \u2018n private optrede van die regte lied kort daarna. Dis tjat koud en my hande word summier onder my Tydelike K\u00earel, Tanya, se kieliebakke ingedruk om die bloedvloei na my vingers te herstel. Oom Rian spoor ons aan om so \u2018n bietjie die moontlike verteenwoordiging van die Heilige Gees deur wyn in die Bybel uit te pluis. Ons bied ongelukkig \u2018n paar siekes vaarwel, maar met Carla, TJ en Tiaan se afskeid verwelkom ons ook vir Johannes in die groep. Slot Christof word \u2018n kombinasieslot toegeken en so stap Tanya en Jada vir die dag agter.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">SW prikkel ons nuuskierigheid toe hy aankondig dat daar klomp Lekker Dinge vir die dag beplan is, maar dat dit beteken dat ons <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">asseblief moet bybly<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> en nie moet ronddrentel nie \u2013 \u2018n dapper poging om die onmoontlike van die BTK te vra. Drian bring egter sy kant deur op en af op die treinspoor langs die groep te draf en in Matthys se woorde ons \u201caan te spoor.\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Getrou aan sy woord lei meneer die voorsitter ons kort voor lank deur die ingang van Lekker Ding #1, die Botha kelder, waar ons onsself in die Bolandse weergawe van Willy Wonka se sjokoladefabriek bevind. Dis nuwe terrein di\u00e9, maar BTK\u2019ners weet mos van klim. Met pype wat kruis en dwars oor ons koppe en teen die mure konkel, klim en klouter ons met behulp van lere en metaal loopgange oor die massiewe masjinerie. Te danke aan ons persoonlike toergidse kom die studente van Stellenbosch eindelik so \u2018n bietjie meer te wete van die wyn wat ons so graag geniet. Ons stel ook vas dat indien daar nou ooit die perfekte plek was om wegkruipertjie te speel, hierdie kelder heelbo aan die lys sou wees.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Die BTK kan baie dinge doen, maar klaarblyklik is grootpaaie oorsteek nie een van hulle nie. Genadiglik is dit baie duidelik dat ons so vaardig soos die hoender in Crossy Road is en stop karre en trokke dood sodat ons veilig oor die pad kan kom \u2013 \u2018n baie belangrike taak, want aan die ander kant van di\u00e9 pad wag die Botha \u201creal magic\u201d spaza winkel waar meer as een BTK\u2019ner inhardloop om \u2018n vergete tandeborsel te vervang.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ons roete neem ons volgende deur die hekke van Bosjes, tot in die bekende Bosjes Kapel. Onder leiding van Oom Rian weerklink \u201cIn die Hemel is die Heer\u201d tussen die glasmure en grond ons onsself weer in die glorie van ons Vader. Voor die boom wat die Boom van Goed en Kwaad verteenwoordig, voel ek weer klein soos ek opnuut bewusword van die grootheid van my Vader en sy genade.\u00a0\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Lekker Ding #2 doen hom voor in die vorm van koffie en \u2018n soetigheid, geborg deur die BTK, in Bosjes se tuine. Wiskunde sommetjies word vinnig gedoen om te sien hoeveel mense moet saamspan om die maksimum voordeel uit di\u00e9 geleentheid te put. Terwyl tentseile eenkant l\u00ea en droogbak, strek ons soos bakvissies uit in die son. Dit is in hierdie toestand van absolute tevredenheid dat Karli tot die gevolgtrekking kom dat om medisyne te drink eintlik is soos om Smarties te sluk.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ons los ons stapsakke agter en vertrek op \u2018n sirkelroete vir middagete. Marialle moedig die agterosse met soveel woema op die ukelele aan dat haar vingers begin bloei en die groep wat reeds \u2018n ent agter die res is, teenstrydig met haar intensie, moet stop dat Tone haar vingers kan dokter. Gevolglik begin die agterosse \u2018n drafstappie aanpak om die res in te haal, net om te besef dat arme Eden se voete, wat meer pleisters as voet is, dit nie kan volhou nie. Nou ja, as hulle gaan agter wees kan hulle netsowel met gees agter wees en so begin die Taylor Swift \u201csing-a-long\u201d sessie van die dekade. Middagete word voorberei op die wal van \u2018n groot dam wat praatjies van kleilat en glip en gly ontlok. Groepie Muskadel het tot die verbasing van almal anders broodjies oor aan die einde van middagete. Groepie Pinotage het deur twyfelagtige eksperimentering vasgestel dat salamisap dien as goeie sous vir dro\u00eb brood.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Die skeptiese o\u00eb wat SW tegemoetkom met die aanwysing van ons kampplek vir die aand word blitsig vervang met vreugdevolle juiging met die aankondiging van Lekker Ding #3: ons benzyne bottels kan vanaand maar weer styftoe in die stokers se sakke bly slaap \u2013 SW se ouers is op pad en ons gaan n\u00f3\u00fa braai.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">In \u2018n poging om \u2018n koue stort n\u00e1 sononder vry te spring, hardloop Anna, Marialle en hierdie einste sketsskrywer in die rigting van die veronderstelde badplek in die rivier. Ek het geweet iets is woes verkeerd toe ek al begin \u00f3pdraend hardloop en daar steeds geen rivier onder my voete was nie \u2013 waar ek vandaan kom, vloei riviere nie opdraend nie. Terughardloop in die rigting waarvandaan ons gekom het. Die son hang al gevaarlik laag oor die berge. Vind \u2018n bruggie waaroor ons voorheen laat spaander het. Brug beteken rivier, n\u00e8? Wel, as \u2018n stroom so breed soos my hand en so diep soos die voorste lid van my pinkie tel as \u2018n rivier, dan ja. Bel vir SW.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cSW, die rivier het opgedroog.\u201d<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cDit kan nie wees nie. Is julle seker?\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cEk weet hoe water lyk, SW. Hier\u2019s <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">niks<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\">.\u201d<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cDis nou jammer. Sterkte, dames.\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Dankie, Tanya se wet wipes.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Onder \u2018n koe\u00eblronde volmaan so groot hy sluk jou in, val ons weg aan die feesmaal van boereworsrolle met smoor wat die Zeemans vir ons voorberei het. Nes ons begin dink die lewe word nie beter as aandete om die vuur met iemand wat rondtokkel op \u2018n kitaar nie, word koeksisters onthul as nagereg.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Items skop af met Hans (of was dit nou Mans?) wat verklaar dat hy effens benoud, bietjie paniekerig, dalk versigting, maar NOOIT bang is nie.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">En toe.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">EN TOE.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Die item van die jaar. Moontlik van ons leeftyd. \u2018n Item 1 jaar en 5 maande in wording. Dit begin met Simi-simi Simson en \u2018n sak. Dit eindig met \u2018n haarknipper in Lize en Taylor se hande en SW se krulle op die grond. M\u00fcller spring sommer ook in die ry en spog gou met \u2018n vars buzz cut.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Drian, die jar, neuk Bottelstoor legendaries vinnig op deur binne 30 sekondes te verklap waarvandaan hy bel. Johan, die sopraan, lewer \u2018n opvoering van \u201cJolene\u201d wat jou\u00a0 \u2018n traan of twee sal laat pik (so tussendeur die rondrol van die lag). Die afsterwe van Pappie Matthys se vrou sien spoedig die geboorte van Matthys-Masuips-Mavapes. Die eerstetoeris manne herinner ons mooi om \u2018n selfie of twee vas te vang tydens jou veldies. Stefani kla dat \u201cniemand die emmer wil skop nie\u201d en begin so langs die treinspoor ondersoek instel in Ouma se \u201caftreeplan\u201d. Plathond Johannes kraai koning oor veghond Kehan, maar eers nadat die slee behoorlik verreneweer is. Post-toasties sien \u2018n angsbevange Kyanti wat regtig hoop Pieter kom gou huis toe, want fluisterings van \u2018n blou yskas word nou al hardop gespreek.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Tydens hekels versoek Karli van al die dames om nou al hulle weerstand teen hoofpyn op te bou vir hulle swangerdae deur \u201cminder pille te pop\u201d. Almal se monde val oop vir \u2013\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cEdelagbare Oom Rian, wat het Drian bedoel toe hy s\u00ea \u2018ek het gisteraand vir Emile oopbek gesoen\u2019?\u201d<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201c\u2026 Edelagbare Oom Rian \u2013 did I stutter?\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ons sak salig weg in ons slaap daai aand met die vreugdevolle gelag van Carla Botha wat helder deur die naglug klingel en ons kom gerusstel dat sy weer terug onder ons geledere is, presies waar sy behoort.\u00a0<\/span><\/p>\n<h2><b>Dag 3<\/b><\/h2>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cMy oom se motor is \u2018n ou masjien\u2026\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u2018n Oggendvuurtjie is luuks vir BTK\u2019ners wat gewoond is aan die baba vlamme van benzyne bottels. Dit begin te blyk dat \u201cluuks\u201d die slagspreuk van hierdie toer word.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Te midde die dames se kamp-opslaanery word daar bespiegel presies wanneer jy nou eintlik agter is met die hele proses. Marietjie verklaar dat dit eintlik doodeenvoudig is: solank Lenka Visagie se tent nog staan, is jy fine. Sodra Lenka Visagie se tent gesak is, d\u00e1n het jy moeilikheid.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Slot Pieter vind sy sleutels in Carla en Cozette en arms vol vars naartjies word gegryp vir padkos. (Wys vir my nog \u2018n BTK stap waar vars vrugte op dag 3 opgelewer word. Ek sal wag.)\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u2018n Paar BTK eenhede se stap later gooi ons ons sakke sonder \u2018n tweede gedagte agterop twee tamaai groot trokke en klouter spoedig agterna om \u2018n goeie sitplek te kry. Di\u00e9 wat nog gestaan en ginnegaap het, moet maar tevrede wees met \u2018n sitplek in die middel en \u2018n goeie rondte \u201cslap tjips\u201d. Dis eers so \u2018n paar kilo\u2019s in die rit in dat iemand dit goeddink om te vra waarheen die trokke ons nou eintlik neem. Ons wil darem net weet waarheen ons ontvoer word, jy weet?\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ons ontvoerders blyk toe die Lategans van Bergzicht plaas te wees en ek dink ek praat vir die groep wanneer ek s\u00ea dat ons met liefde weer deur die Lategans ontvoer sal word. Ek weet nogal nie van baie ontvoerders wat jou met gratis koffie en beskuit begroet nie. Jada het wel helfte van my koffie op my uitgegooi te midde die chaos van \u2018n BTK groepfoto, soveel so dat ek en Anna in die Lategans se voortuin gestaan en stort het, maar nou ja. Dit is dan nou ook hier wat ons vir Frederick verruil vir Viljoen en voortwaartsmars, maters, ons het nog \u2018n plaas om te verken!\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Bergzicht is een van die min wynplase met botteleringstoerusting en ons loop verby kratte wyn van Ernie Els, Koelenhof en nog te meer wat wag om gebottel te word. Villa en sy wyndief vaar bietjie by die vate in om vir almal van Bergzicht se Pinotage te laat proe. Dit is egter waar die Bergzicht wynproe eindig; ongelukkig mag ons die oudste Port in die land (wat al vir 30 jaar in hulle vate l\u00ea) slegs besigtig. Mag ons eendag genoeg geld h\u00ea om so \u2018n bottel te bekostig.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ons vertrek (steeds sakkeloos!) op \u2018n sirkelroete oor die plaas. Ek bevind myself weereens in verwondering oor die veerkragtigheid van die Here se skepping en die boodskap van hoop wat dit ewig dra: die heuwels om ons l\u00ea nog swart n\u00e1 die brand waaronder dit minder as 3 maande gelede deurgeloop het en tog is die nuwe wit en pers blomme wat reeds die grond oortrek hul gebrande voorgangers se eweknie. Die meisies is vinnig om hulle hare met hierdie tekens van hoop en nuwe lewe te versier en so dra ons die hoop van die Here in meer as net ons harte saam met ons terug. Dis egter nie net die BTK <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">meisies<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> wat so die blommetjies langs die pad pluk nie. Ek het \u2018n vo\u00ebltjie hoor fluit dat \u2018n sekere voorsitter sy eie blomme-pluk aksie aangegaan het om vir mejuffrou Burger BTK dans toe te vra .\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Blomme in die hare wals ons by Country Sjiek se trou venue in waar mini burgers, vars sap en water, koffie en koekies ons inwag. (Ek kom graag terug na die gesprek wat ek aan die begin van hierdie skets [*kortverhaal] aangehaal het \u2013 al hierdie vir slegs R1200? Moenie laf wees nie. Mense het hulle harte en hande verseker vir die BTK oopgemaak op <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">hierdie<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> toer.) Nadat Ren\u00e9 haar danspassies op die amfiteaterverhoog gedemonstreer het, klim ons vir oulaas in blinde vertroue agterop die trokke vir \u2018n laaste rondte \u201cslap tjips\u201d terwyl die hele As Jy Sing album luidkeels opgevoer word. Ek moet bieg, di\u00e9 rit het effens meer hobbelrig as die voriges geword; ek het bietjie gegiggel toe ek sien hoe geharde, gesoute BTK\u2019ners spring om hulle boude te beskerm wanneer daar net te vinnig oor \u2018n klip of twee gejaag word. Dit is nou, totdat my eie boude dit gevoel het nadat ek \u2018n meter of wat in die lug in gebons het soos ons oor \u2018n besonderse groot klip geshnoll het. Kom ons s\u00ea maar net my ogies was nie die enigste blou ding aan my lyf n\u00e1 daai trokrit nie.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Van die trokke afgeklim word wawiele op die gras gedoen; Lenka demonstreer vir almal waarom sy die gimnas in die groep is en ek waarom \u201cdoen \u2018n ordentlike wawiel\u201d letterlik op my lepellys (\u201cbucketlist\u201d) vir die jaar is. Dit voel nou al soos tradisie dat die dames iewers halfpad deur \u2018n toerdag \u2018n harewas sessie langs \u2018n rivier hou. Ons volgende rivierkruising verloop geensins anders nie.\u00a0 Spoedig word die salon oopgemaak en bioafbreekbare sjampoe en conditioner van stasie tot stasie aangegee. Tanya blink uit in haar pos as Kyanti se Tydelike K\u00earel met \u2018n baie billike ruggiekrap terwyl ons wag vir die laastes om af te droog voor ons aanstap.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Op, op, op klim ons in die berge in. In die verte blink die waterval waarnatoe ons sou stap as dit nie vir ons verlengde kuiertjie by Country Sjiek was nie. Niemand voel egter ingedoen nie; almal stem soos een man saam dat die gratis salami en pesto burgers 100% die regte keuse was. Arme Christof wat al vandat ons van die trokke afgeklim het per Oom Rian se instruksies met \u2018n boks vol wynbottels in sy hande stap, word eindelik deur Drian afgelos. Opgepraat na \u2018n lang dag van stories spin, skop \u2018n speletjie af waarin niemand om de dood aan \u2018n dier wat met \u2018n \u201cu\u201d begin, buiten \u2018n uil, kon dink nie. Die dinkskrum word kortgeknip deur SW wat die hele groep tot stilstand bring, vir Drian \u2018n stok in die hand stop en hom aan die woord stel vir \u2018n vinnige motiveringspraatjie. Vasoortuig dat skiet nou oopgemaak gaan word, sit al die ouens suutjies en versigtig hulle sakke neer en skuifel-skuifel nader aan die naaste dame. Dit is, totdat Drian daar lostrek met die motiveringskreet van die jaar:<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cWeet julle wat? Julle is almal wille honde \u2013 WILLE HONDE! Hoor julle my? Julle kan enigiets doen, want julle, is wille. Honde. WILLE HONDE!!\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Beter kon SW dit nie s\u00ea nie, Drian. Voorwaartsmars, manne.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">In die kwynende lig merk die einste Drian later op dat die Heilige Gees (die wyn) nou nogal swaar word. Nou ja, en so stap \u2018n paar BTK\u2019ners dus met \u2018n bottel wyn elk in die hand verder. Tot almal se groot verligting bring SW die dag se stap tot \u2018n einde nes die son oor die berg se rand wegglip en die donker van die nag ons omvou. Aand nommer een van self moet kosmaak, bring saam met hom al die chaos van \u201chet iemand ons derde pak pasta gezop?\u201d en \u201cwie\u2019t ons tweede pot?\u201d Bestanddele word by eerstetoeriste, wie se eerste fokus by die wraakkonsert l\u00ea, gesmeek en met tyd hang die reuk van bacon en pesto pasta in die koue berglug. Dit is ook dan nou hier, presies in die middel van die toer, liewe leser, waar die eersgenoemde diefstal geskied het, want terwyl Wraakkaptein Drian die laaste uitkykkring gelei het, het die kosgroepies elkeen \u2018n bottel Heilige Gees geskenk gekry by Oom Rian en summier ook opgedrink. Die einste bottels waaraan Drian berg op so swaar gedra het. Dit is met die ontdekking dat \u2018n ieder en \u2018n elk van di\u00e9 bottels wyn sonder hom deur die groepe dolleeg gedrink is dat Drian se ontstelde stem deur die naglug getrek het \u2013\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cDiewe! Almal van julle is diewe!\u201d<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Dit kon erger wees, Drian. Dit kon j\u00f3\u00fa sak, in plaas van Villa s\u2019n, wees waarin Oom Rian skelmpies al die le\u00eb wynbottels gelaai het.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ek moet oop kaarte speel hier: ek is steeds nie 100% seker wat geklap het in die wraakkonsert nie, maar ek deel wat ek wel kon vasstel: \u2018n Waatlemoen het op Isaac Newton se kop geval en skielik maak dinge nie mooi sin nie. \u2018n Een-been Usain Bolt hinkepink agter sy runaway bride Nina aan en Frederick verklaar sy liefde aan Cozette (hulle hoef nie te bekommer oor Carla nie, sy s\u00ea dan al ewig vir Frederick hoe oulik haar vriendinne is). Die vegan besluit dat varktjoppies tog dan nou te lekker lyk om nee te s\u00ea en die vo\u00eblverskrikker wat bang is vir mielies prewel elke vyf sekondes \u2018n beteuterde, vreesbevange \u201cmielie\u201d. Kathonde en hondkatte dwaal die hele plek rond en die krieketspeler kry nie die dekselse runaway bride gebat nie. Eindelik ontdek ou Newton die wette van&#8230; emosies? In my ervaring volg emosies nie enige wette of handleidings nie en as hulle doen, kon ek tot op hede nog nie self uitpluis hoe hulle werk nie, maar laat weet my as jy dalk kon.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">SW verloor amper \u2018n oog gedurende \u201cTwo suckers on a stick\u201d danksy Stefan se onbeheerbare behoefte aan roomys. Gedroggie skrik vir influencer Charlize en Kazakhstani Drian diep in die donker in. Die BTK meisies herinner ons weereens dat die BTK manne die meisies se gebrek aan fiemiese laaik. Villa word omtrent verhoog toe gesleep om te item, net om man alleen gelaat te word deur Drian wat in \u2018n absolute lagbui verval toe Villa onwetend vir Klippies vermoor deur aan te kondig dat hulle besig was om hom \u201cin die water te skiet\u201d. Stoute Wouter Kabouter maak weer sy verskyning om die aand mee af te eindig.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Hekels is vanaand kort en kragtig. Anna hou vol dat mens in die wildernes moet \u201ckapitaliseer op elke toilet wat jy vind\u201d en Stefan berou die afwesigheid van sy \u201crubberduck Janu\u201d by die middag se rivieroorsteking.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Almal kruip in hulle tente in vir \u2018n heerlike nagsrus op die warmste aand van die toer. Wel, amper almal, maar meer hieroor m\u00f4re.\u00a0<\/span><\/p>\n<h2><b>Dag 4<\/b><\/h2>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">In die luukse verloop van hierdie toer is opstaantyd vir alle toeriste vanoggend eers 08:00. Die opwinding van nog \u2018n dag se stap tussen ons geliefkoosde berge sorg egter dat \u2018n hele klompie mense reeds hul tente ooprits met die eerste sonstrale wat oor die grond naderkruip. Gevolglik is die stokers \u2018n paar sopraanstemme ryker met die wakkersing van die laatslapers. Na \u2018n paar floppe aan die Pinotage potte vasgebrand het, smul \u2018n hele paar gelukkige siele aan kosdogter Carla se meesterstuk ham, kaas en blatjang geroosterde toebroodjies.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Noem dit maar my en Marietjie se \u201cseries of unfortunate events\u201d, want een oomblik is dit aand en smul ons aan ons pesto pasta, die volgende het \u2018n vreemde vlaag naarheid ons heelaand in sy greep, dwaal ons beide uit radeloosheid middernag op die berg rond, het ons boggerol geslaap en sit ek en Slabbert toe nou in die oggendson en sluk saam aan \u2018n walglike, flou konkoksie nadat sy die medikit van ALLE Rehydrate beroof het. Nie een van ons weet wat die siekte voorafgegaan het nie, maar ons altwee weet wat volg: \u2018n <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">baie<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> lang dag van stap.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Die egtheid waarmee 60 stemme daardie oggend tussen rotswande ge-eggo het in lofprysing van die Here sal my altyd bybly. Die eenvoud van \u2018n stem wat verklaar dat sy eienaar se hart aan die Here behoort, het die betekenis van lofsang in my hart kom herdefinie\u00ebr. Oom Rian en Tannie Maryke lei hierna die nagmaal in en Ren\u00e9 deel met ons die belangrikheid en kosbaarheid van gemeenskap.<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Slot Villa kies sonder huiwering vir sleutel Drian, maar hmm, wag, dit kan nie reg wees nie. Die skaterlag wat volg, bevestig hierdie vermoede. Drian is onbe\u00efndruk \u2013 met die laggery, nie sy verkiesing tot sleutel nie. Inteendeel, hy het hard gestry teen die regime, maar moes maar vrede maak dat sy toekoms nie in sleutel-wees l\u00ea nie. Toe sy eerste keuse nie uitwerk nie raak Villa sommer voorbarig en begin vir hom \u2018n hele bos sleutels kies totdat SW tussendeur sy gelag en gehyg na asem dit regkry om hom te beperk tot \u2018n kombinasie slot.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Na \u2018n paar kettie-skiet lesse van Oom Rian val ons in die pad. Met geen plek in sy sak nie, stap Trevor sommer met \u2018n pot in die hand voort. Tannie Maryke vermaak ons met stories van haar Nerina dae waar hulle die Eendrag manne geteister het deur stroop op hulle fietssale te gooi. Die beste was egter toe hulle al Eendrag se vurke met deurskynende, bitter aalwyn naelpolitoer bedek het, soveel so dat die manne die arme kombuispersoneel behoorlik laat hoor het hoe sleg die kos is \u2013 en toe ewe kwaai terug ingelig is hoe voel nonsens hulle is. Lekker, Tannie Maryke!!<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Toe SW nog <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">voor<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> middagete aandring dat ALMAL \u2018n bottel Game aanmaak, of jy nou lus het of nie, moes ons geweet het \u2013 na \u2018n ellelange stuk son-stap op die jeep track verander SW se \u201clekker plat stuk\u201d hopeloos te vinnig in \u2018n lekker opdraend stuk. By verspoelde rivierpaaie op (en genadiglik later af) kruip Villa se slotgroepie \u2018n goeie 15 minute agter die res. Vir eens toe SW oor die radio vra wie dan nou \u201cso baie praat dat julle so stadig stap\u201d en of dit \u201calweer Kyanti is\u201d, kon ek met alle eerlikheid s\u00ea nee, want my woorde was, miskien vir die eerste keer ooit, bitter min. Stap nadat jy siek was, is nie snaaks nie. Ek het daai dag al my lewensbesluite bevraagteken.<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Die beloofde waterval kon nie gou genoeg binne sig kom nie. \u2018n Uitbundige gejuig en die neersmyt van stapskoene en -sakke gee vinnig aanleiding tot groot watersports. Nadat Pieter die diepe waters getoets het, volg die res agterna met groot spronge, bomme en flips. Seer voete word in die koel water ge-ys en sweterige hemde skoongewas. So sit ons vir \u2018n oomblik waar die water oor die rotse val, af, af, af ondertoe, ewig aan die vloei om die volgende draai, in die volgende poel, na die volgende mens wat \u2018n stukkie ewigheid daarin sal sien. Middagslapies en middagbroodjies in die middagson rond die watervalstop mooi af.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Vanaand slaap ons by \u2018n kampterrein met storte, maar wag! Voordat ons in die luuks lekker mensgemaakte watervalle kan klim, moet damesskiet eers geskied, want die son hang al gevaarlik naby aan die hoogste bergkrone. Alle o\u00eb is op Anna en sy weet dit. Sy geniet die spanning wat sy skep. Haar tone krul van die lekkerkry, ek kan dit sommer <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">sien<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\">. Haar mondhoeke trek staaadig op in \u2018n grinnik. Dames skuifel-skuifel solank nader aan hul gekose teiken. Anna kyk \u2018n laaste keer om haar rond. Neem die meisies in hul wegspringposisies in. Skep asem.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cSKIET IS OOP!!!\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Nog voor haar woorde ophou weergalm, daal chaos op die kampterrein neer. Daar word oor tente gespring en om bome gekoes. Die paar wat dit gewaag het om eers te gaan stort, kom met handdoeke om die hare en seep in die hand daaruit gepyl. Dis net gras wat vlieg soos hakke grond tref en sleemaats omgeduik word. In al hierdie wanorde is daar een stukkie kalm; SW stap doodluiters vir Lize weg, mingespin met die toneel om hom. Dit is, totdat Cozette mik-mik om hom te intercept. SW gooi \u2018n vuil gluur.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cJy DURF dit nie.\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Na die chaos kalmeer, blyk dit dat een sleemaat nie genoeg is vir Viljoen nie, want kort nadat Anna hom geskiet het, kondig Drian luidkeels aan dat \u201cVilla nog up for grabs is!\u201d Die storttyd krimp intussen al hoe meer en na \u2018n streng \u201cEEN minuut storte, dames!\u201d van SW laat spaander almal ablusie blokke toe. Betyds hare gewas (ek weet <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">fisies<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> nie hoe nie), dasse geknoop en rokkies oor die kop getrek, word foto\u2019s in die laaste stukkie goue lig geneem. Marialle kry wonder bo wonder \u2018n damesskiet rokkie opgetoor nadat sy haar uitrusting by die huis vergeet het en die eerstetoerismanne vou vir hulle dasse uit hulle BTK nekdoekies. Netjies, manne.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Alles Wat Lekker Is is op die spyskaart vir vanaand \u2013 of wel, vir groepie Muskadel is dit net Alles Wat Is, want iewers langs die pad het hulle biltong verlore gegaan. Ons almal weet egter dat ons hier by die BTK altyd deel en kort voor lank is genoeg biltong donasies ingeneem om weer die Lekker in Alles Wat Lekker Is terug te sit. \u2018n Spesiale dankie aan JJ wat sy persoonlike biltong aan sy groep geskenk het.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Item geskiedenis is gemaak met wat meneer die voorsitter self beskryf het as \u201cdie beste weergawe tot dusver\u201d van Salom\u00e9 (no takesies backsies, SW). Met Anna en die ukelele in die middel lisp-sing die spulletjie voort met rooi BTK nekdoekies op al die verkeerdste maniere om hul koppe geknoop. Die ster van die hele aff\u00eare is egter loshande Tanya wat haar kop elke paar sekondes onwillekeurig ruk en haar hande uit n\u00earens uit laat opskiet om van ritme af te klap. Troepe buit so hard uit dat Matthys later sy eie broer blou yskas, maar nie voordat Sigaret die hond \u201cVape\u201d herdoop word en Johannes \u2018n entoesiastiese \u201ctjoef tjoef\u201d uitkry nie. K-k-k-kajuitknaap Ch-Ch-Ch-Christof haak op b-b-b-bietjie m-m-m-meer as n-n-n-net sy k\u2019s vas. Lighthouse vereis \u2018n paar addisionele \u201csteps\u201d weens wesenlike lengteverskille tussen die bemanning en die lighuis. Vriendin skop af met Pieter wat die vraag op almal se gedagtes uitroep \u2013\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cJissie, Matthys, is jy nou by Maties of Virgin?\u201d<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">So bespreek die vriendinne hoe die BTK meisies wragtig kan innoveer met Country Sjiek se handeroom wat spoedig \u2018n paar dro\u00eb bene gedokter het, en dat Brendan dalk mooi, maar sy broer die eintlike \u201ccatch\u201d is.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Met ligte harte en swaar ooglede kruip ons almal vir oulaas by ons tente in om beskutting teen die koue Bre\u00ebrivierlug in ons slaapsakke te soek.\u00a0<\/span><\/p>\n<h2><b>Dag 5<\/b><\/h2>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Hoe klink Eet-Sum-Mors en kondensmelk vir ontbyt?\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Dis \u2018n groot oggend, want Anna word 21 en dis tyd om \u2018n paar legendes maan toe te stuur. Eersdaags bied ons vir Taylor, Trevor, Michelle en Carina vaarwel. Elkeen herinner ons van hoe kosbaar ons tyd met die BTK is en getuig van presies hoe ver hierdie vriendskappe ons nog in die lewe sal dra.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Oom Rian se oggendboodskap kom in die vorm van \u2018n vraag: hoe weet mens dat iemand <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">die een<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> is? Ek sal jok as ek s\u00ea dat almal se o\u00eb op hierdie oomblik nie onmiddellik in SW en Lize se rigting geskiet het nie. Alhoewel sy nou nie vir ons \u2018n presiese resep kan gee nie, spoor Lize ons aan om iemand te vind wat weet dat n\u00f3g hulle n\u00f3g jy perfek is en dat net Jesus jou heel kan maak. Jada deel ook weer die eeue oue waarheid: hardloop so vinnig as wat jy kan na Jesus toe en as iemand kan byhou, stel jouself voor. Stefan is slot en word die eer van \u2018n trippelslot toegeken. Dit is egter nie hierdie outoeris se eerste, tweede of derde rodeo nie en twee van sy sleutels is lankal, soos hy s\u00ea, \u201creeds deur hulleself aangestel\u201d \u2013 Kyanti en Tanya. Anna sluit vir die dag aan by die trio.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Toerpa wees sorg dat Oom Rian vanoggend seker die meeste Vadersdagdrukkies van sy lewe ontvang, maar di\u00e9 dag bring daarmee saam ook \u2018n unieke probleem: Spur neem nie besprekings nie. Eish. Die slotgroepie stap ekstra stadig agter die res aan soos Anna deur 3 Spurs se bestuurders werk om terrash gere\u00ebl te kry. Intussen sit SW se pa se motorfiets vas in die modder en help die manne om dit uit te stoot terwyl die oom vir ons inlig presies h\u00f3\u00e9 ver agter ons nou eintlik is. Dankie, Oom. Altyd goed vir die gemoedere. Met behulp van Stefan die plaaslike Paarl jeug pastoor en nog 6 oproepe is ons terrash bestelling uiteindelik geplaas.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ek moes al sleutels laat sny, maar hierdie sleutel moes gou ook leer spoorsny synde ons langvergete mede-BTK\u2019ners se voetspore al bewyse van hulle deurtog deur die veldblomme was. Gelukkig sorg \u2018n draadheining dat die groep bietjie moet brieke aanslaan en haal ons eindelik in. Carla ruk tot almal se bewondering \u2018n blik Pringles uit wat na 4 dae nog heel is. Die brieke is nog skaars na die heining gelig of hulle word weer aangeslaan: Eden het Drian se stapsandale <\/span><i><span style=\"font-weight: 400\">letterlik<\/span><\/i><span style=\"font-weight: 400\"> middeldeur gestap. Dis egter niks wat \u2018n paar lae insulation tape nie kan red nie en gou doen ons soos Stefan s\u00ea en \u201cmake like a tree and leaf.\u201d Die groep neem doelbewus (volgens SW) \u2018n verkeerde afdraai om toe te laat (volgens SW) dat die agterosse die res inhaal (volgens SW). By die treinspoor neem ons vir oulaas \u2018n Game breuk waar almal se beste snack en sokkie game sommer ook uitgeruk word. Jy weet jy\u2019t lekker ge\u00ebet op toer as al die beste snacks eers op dag 5 uitgeruk word; dis net Kiri kasies, biltong en sjokolade waar jy kyk.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Opgekikker en reg om die busbestuurder te groet, klim ons op die treinspoor, maar hierdie is nie net enige treinspoor nie, o nee; hi\u00e9rdie is Die Treinspoor Wat Tot In Ewigheid Aangaan. Dit neem nie lank vir die groep om ordentlik uit te sprei oor die lengte van die spoor nie. Toe Stefan iewers opkyk van die eindelose dwarsl\u00eaers onder sy voete en sien dat daar weereens absoluut niemand in sig is nie, merk hy doodluiters op dat die res alweer spoorloos verdwyn het. Ons skep later asem in die skaduwee van \u2018n tonnel en sommige bespiegel hoe ver weg die einde is waarop SW hul verseker:\u201cdis net om die draai.\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Die regte vraag is nou: hoe ver weg is die draai?<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">My brein hou daarvan om lukrake dinge te tel &#8211; die hoeveelheid trappe na my kriminele reg 314 klaskamer, die hoeveelheid slukke in \u2018n small 18 cappucino. Ek het probeer met die dwarsl\u00eaers van daai spoor, maar vrekkit, ek het myself woes deurmekaar getel. Die spoor het later tot \u2018n einde gekom en st\u00e9\u00e9ds was SW se draai nie in sig nie. Dit is eers etlike BTK eenhede later dat die vae verre beeld van ons bus \u2018n werklikheid word. Na \u2018n gentleman\u2019s race wat die stof laat staan, word deodorant en wet wipes vrylik in die bus rondgestuur ter voorbereiding van ons toetrede terug in beskawing.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Terrash buite op die Spur se stoep beteken ons speel in die spuitfonteine terwyl ons wag vir die kos. Binnekort roei die roeiers en kom Johan eerste met Kehan kort op sy hakke. Te gou is dit tyd om ons liewe toerouers te groet en terug te keer bus toe. \u2018n Kort rit later is dit weer bekende ou Simonsberg en Stellenboschberg wat teen die blou lug l\u00ea. Bus afgepak en toermaters gegroet, is nog \u2018n toer verstreke.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Met die lang wintervakansie wat nou vir die meerderheid voorl\u00ea, mag dit dalk \u2018n rukkie wees voor ons mekaar weer sien, maar ons troos onsself aan die feit dat die BTK dans reeds in week 1 van die nuwe semester vir ons l\u00ea en wag. Intussen, koester ons die herinneringe wat ons op hierdie toer gemaak het saam met al die wyshede wat ons geleer het diep in ons harte. Tussen die gasvryheid, vrygewigheid en liefde van die Bre\u00ebrivier mense en ou Candice het ek regtig op hierdie toer geleer hoe om te vra:<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">\u201cHow can I help you?\u201d<\/span><\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Bre\u00ebrivier 2025 Deur Kyanti Greyling \u201cDiewe! Almal van julle is diewe!\u201d\u00a0 Dit is \u2018n alombekende feit dat Stellenbosch studente \u2018n ho\u00eb waardering het vir wyn, maar nooit het ek gedink sal ek die dag sien dat wyn sal maak dat \u2018n BTK\u2019ner sy toermaters so fel beskuldig nie. Ge\u00efnteresseerd in die rede vir di\u00e9 uitbarsting? [&hellip;]<\/p>\n","protected":false},"author":2496,"featured_media":0,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[23771],"tags":[],"class_list":["post-5785","post","type-post","status-publish","format-standard","hentry","category-sketse"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/5785","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/users\/2496"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=5785"}],"version-history":[{"count":4,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/5785\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":5848,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/5785\/revisions\/5848"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=5785"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=5785"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=5785"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}