{"id":5791,"date":"2025-03-27T17:03:50","date_gmt":"2025-03-27T15:03:50","guid":{"rendered":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/?p=5791"},"modified":"2026-03-16T10:00:46","modified_gmt":"2026-03-16T08:00:46","slug":"drakensberge-2025","status":"publish","type":"post","link":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/2025\/03\/drakensberge-2025\/","title":{"rendered":"Drakensberge 2025"},"content":{"rendered":"<h1><span style=\"font-weight: 400\">Drakensberge 2025<\/span><\/h1>\n<p><strong><i>Deur Inge Botes<\/i><\/strong><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">As Stellenboschberg jou ho\u00ebrskoolmeisie is, is die Drakensberge jou trouvrou. Stellenboschberg is alledaags, jy sien dit in die verbygang, sy vereis nie veel opoffering nie. Ukhahlamba is \u2018n ongemaklike dag se reis met min slaap. Sy is hemelho\u00eb pieke en diep valleie en jy sal moet klim in wind en weer. Haar vlaktes bloos in kosmos en die taal van haar mense klink anders as waaraan jy gewoond is. Sy is nie \u2018n berg wat jy in die verbygang groet nie, en as jy doen is jy \u2018n dwaas.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Baie woorde sal net geraas wees in \u2018n skets oor die Drakensberge, want haar skoonheid laat jou stil. As ek mag voortgaan met hierdie metafoor, dat die Drakensberge soos \u2018n bruid is, dan is sy een wat elke vrou droom om te wees en elke man droom om te wen. Ek glo die staptoer vra die vraag: \u201chet ek wat dit vat?\u201d\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ons het almal foto\u2019s geneem op hierdie toer, en as jy nie het nie, was jy \u00earens in een of jy het gevra dat iemand die w\u00eareld om jou vir jou vasvang. Foto\u2019s is net frustrasies, want dan kom jy by die huis en die mis omring jou nie en die hoogtes laat nie jou binneste wemel nie en jou bobene kramp nie en die donkies stap nie meer nederig verby jou nie. Met baie goeie rede onderwerp God ons aan hierdie frustrasie, en dit is heimwee.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Heimwee vat die leisels van jou wil en beweeg vasberade in die moeilikheid in. Daar waar lafhartigheid wil onthou hoe jy nie jou vingers kon voel toe jy in die plato se storm moes tent opslaan nie, kom heimwee en maak jou \u2018n ridder wat s\u00ea dit maak nie saak nie. Daar waar selfsug jou wil herinner aan \u2018n warm stort, gemaklike bed en jou ma se kos, kom rig heimwee jou hart na \u2018n altaar van ongebytelde klip in die bergstrome waar jy jou lewe in die koue water verloor. Die broodjies wat jou naaste in haar wapperende tent vir jou gesmeer het in die liggaamshitte-dreigende re\u00ebn smaak beter as Kersfees se hoofgereg en die hardheid van die berg waarop jy slaap sluit die hemele vir jou oop soos Jakob se kopkussing by Bet-el. En jy onthou jy is net stof. En jy onthou dat God onthou jy is net stof. En jy RUS. Heimwee is verlange wat maak dat jy wil belowe om terug te kom na hierdie plek wat jou hart gesteel het.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Stellenboschberg is bekend vir haar vals pieke. En dis opwindend want die objektief is om die toppunt te bereik, so jy klim daardie vals pieke en vergewe haar 7 maal dat sy vir jou gejok het. Jy voel mos die moeite werd as jy by die laaste piek kom en weet dis nou klaar, en \u2018n sekere tipe self-tevredenheid kom oor jou soos jy in jou slaapsak klim, en Maandag vertel jy al jou vriende jy het Stellenboschberg gepiek en hulle klap jou oor die skouer. Maar die Drakensberge is w\u00earelde anders, die objektief is nie eers om te piek nie, is dit? Die objektief is om jouself te verloor. \u2018n Tipe oorgee vloed jou binneste. Die ekstases is nie meer wat jou dryf nie, maar \u2018n stop-in-jou-spoor verwondering vir die watervalle wat sy ontsluier vir jou o\u00eb alleen.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">En as jy wel \u2018n piek in die Drakensberge bereik, kyk jy na die valleie onder jou met minder hoogmoed en dieper ontsag, want jy sien dat die groewe van die aarde onder jou die groewe van God se eie vingerafdruk is, en jy word nederig deur bloot te besef jy het die voorreg om dit te verken.\u00a0<\/span><\/p>\n<p><span style=\"font-weight: 400\">Ek skryf nie oor die verhale van die April toer nie, want dit leef aan in die heimwee van die stappers en die Drakensberge hou haar bemindes soos mirrebossies teen haar bors. As jy die stories wil hoor, ry bus vir 22 ure en begin klim, en dalk, wanneer jy stil genoeg is, sal jy hoor hoe sy begin praat van \u2018n groep jong, skarlaken-gevlekte BTKaners wat ontdek het, hulle het wat dit vat.\u00a0<\/span><\/p>\n","protected":false},"excerpt":{"rendered":"<p>Drakensberge 2025 Deur Inge Botes As Stellenboschberg jou ho\u00ebrskoolmeisie is, is die Drakensberge jou trouvrou. Stellenboschberg is alledaags, jy sien dit in die verbygang, sy vereis nie veel opoffering nie. Ukhahlamba is \u2018n ongemaklike dag se reis met min slaap. Sy is hemelho\u00eb pieke en diep valleie en jy sal moet klim in wind en [&hellip;]<\/p>\n","protected":false},"author":2496,"featured_media":0,"comment_status":"closed","ping_status":"closed","sticky":false,"template":"","format":"standard","meta":{"footnotes":""},"categories":[23771],"tags":[],"class_list":["post-5791","post","type-post","status-publish","format-standard","hentry","category-sketse"],"_links":{"self":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/5791","targetHints":{"allow":["GET"]}}],"collection":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts"}],"about":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/types\/post"}],"author":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/users\/2496"}],"replies":[{"embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/comments?post=5791"}],"version-history":[{"count":2,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/5791\/revisions"}],"predecessor-version":[{"id":5815,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/posts\/5791\/revisions\/5815"}],"wp:attachment":[{"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/media?parent=5791"}],"wp:term":[{"taxonomy":"category","embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/categories?post=5791"},{"taxonomy":"post_tag","embeddable":true,"href":"https:\/\/blogs.sun.ac.za\/btk\/wp-json\/wp\/v2\/tags?post=5791"}],"curies":[{"name":"wp","href":"https:\/\/api.w.org\/{rel}","templated":true}]}}