’n Nuwe logo vir die Universiteit Stellenbosch – gereelde vrae

empty

empty

COVID-19 het groot koste-implikasies; waarom nóú ’n nuwe logo bekend stel?

Die nuwe logo spruit uit ’n proses wat meer as twee jaar gelede, nog voor COVID-19, begin het. Niemand kon voorsien dat dit met die pandemie sou saamval nie.

Die Rektoraat het in 2017 ’n geïntegreerde kommunikasiestrategie vir die Universiteit Stellenbosch (US) goedgekeur. Een van die doelwitte van die strategie was om ’n sterk handelsmerkreputasie vir die instelling te bou wat met die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 sou strook.

Die eerste stap om dít te bereik, was ’n oudit van visuele kontakpunte oor die hele kampus in 2017, gevolg deur ’n handelsmerkwaardasie en -opvattingsoudit in 2019. Dít het aan die lig gebring dat die US-handelsmerk oor tyd verwater het: Verskillende omgewings van die Universiteit het in daardie stadium meer as 170 verskillende logo’s gebruik. Die Rektoraat het gevolglik besluit om ’n eenvormige handelsmerk te aanvaar om ’n meer konsekwente beeld aan ons gehore oor te dra.

ʼn Oudit het aan die lig gebring dat meer as 170 verskillende logo’s in verskillende US-omgewings gebruik is, wat die Universiteit se handelsmerk verwater het.

Nóg ’n rede waarom ons die handelsmerkprojek aangepak het, is omdat die US, soos alle organisasies, voortdurend ontwikkel en verander. Die US van vandag is nie meer die instelling wat 21 jaar gelede die ‘S’-blaarlogo bekend gestel het nie. Die nuwe logo is ’n kreatiewe weerspieëling van die veranderinge waardeur ons is, waar ons nóú is en waarheen ons graag volgende wil gaan. Dit beeld die Universiteit uit as relevant vir die mense van ons land, vasteland en die res van die wêreld; ’n toonaangewende wêreldklasuniversiteit wat sinvol tot die vooruitgang van die mensdom bydra.

Wat kos die nuwe handelsmerk?

Die eerste projekfases (oudits en opnames) is uit die begroting van die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking betaal, en die daaropvolgende fase (handelsmerkontwikkeling en -ontwerp) is uit die US se Strategiese Fonds gefinansier. Ons het daarin geslaag om alle koste binne die goedgekeurde begroting te hou, en sal voortgaan om die projek kostedoeltreffend te bestuur.

Noudat die nuwe logo onthul is, sal die handelsmerkagentskap (Boomtown) en Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking se handelsmerkspan ’n handelsmerkhandleiding en -gereedskapstel saamstel, wat onder meer template sal bevat wat alle Universiteitsentiteite kan gebruik. Om mee te begin, sal die nuwe logo op ons verskillende digitale platforms aangebring word, wat betreklik goedkoop sal wees. Namate die US se ander kontakpunte met die publiek dan bygewerk of vervang moet word, sal ons die nuwe logo stelselmatig infaseer, waarvoor die betrokke fakulteite of steundienste uit hulle eie begrotings sal betaal.

Om ’n eenvormige logo te hê sal uiteindelik koste bespaar, want ons sal net een visuele identiteit in stand hoef te hou, in plaas van meer as 170.

 

Wie het die nuwe logo ontwerp?

Die nuwe logo-ontwerp is ’n direkte weerspieëling van die terugvoer wat ons gedurende ’n uitgebreide oorlegplegingsproses van studente, fakulteite, personeellede, alumni, Raadslede sowel as die algemene Stellenbosse gemeenskap ontvang het. Met ons belanghebbendes se kommentaar as rigsnoer het die US se handelsmerkspan, personeel van die Departement Visuele Kunste en die ontwerpagentskap, Boomtown, die nuwe logo met die hulp van ʼn gesoute eksterne kreatiewe raadgewer ontwerp.

Wie is in die proses geraadpleeg?

Die omvattende oorlegplegingsproses het uit twee fases bestaan – een voor logo-ontwerp (tot en met November 2020), en die ander nadat die ontwerpspan ’n paar logo-opsies geskep het (in Januarie en Februarie 2021).

Voordat werk aan die ontwerp begin het, is 17 aanlyn oorlegplegingsessies met die US se personeel, studente en alumni gehou. Daarna is personeel, studente, alumni en Raadslede ook genooi om aan ’n elektroniese opname deel te neem. Altesaam 1 075 belanghebbendes het aan hierdie oorlegplegingsfase deelgeneem. Die bevindinge is in ’n verslag saamgevat, en het die grondslag van die ontwerp-opdrag uitgemaak.

Nadat die ontwerpspan met drie opsies vorendag gekom het, is die Universiteit se personeel, studente, alumni, Raadslede, Raadskomiteelede en die algemene Stellenbosse gemeenskap wéér geraadpleeg. Dié keer wou ons bepaal watter van die drie ontwerpe die US se strategiese en handelsmerkdoelwitte die beste sal bereik. Altesaam 2 025 belanghebbendes het aan hierdie oorlegplegingsfase deelgeneem.

’n Totaal van 3 100 belanghebbendes het dus die US se nuwe logo help ontwikkel en ontwerp.

Watter proses is gevolg om die nuwe logo goed te keur?

Die US se gewone, voorgeskrewe goedkeuringsproses is gevolg. Voordat die nuwe logo op 13 April 2021 vir goedkeuring aan die Raad voorgelê is, het dit voor die Rektoraat sowel as die Institusionele Forum en Senaat – die US se statutêre liggame – gedien. Dít is op sy beurt voorafgegaan deur ’n uitgebreide oorlegplegingsproses met al die vernaamste belanghebbendegroepe (sien hierbo).

Sal die nuwe logo op die Universiteit se kleurbaadjies en sportdrag gebruik word?

Die nuwe logo is die US se handelsmerk vir skakeling met die publiek en is die kern van ons visuele identiteit. Dit sal op alle bemarkings- en institusionele kommunikasie, Universiteitsdrag (kleurbaadjies, sportdrag, ensovoorts) en handelsware gebruik word.

Is maroen steeds die vernaamste handelsmerkkleur?

Ons belanghebbendes het in die handelsmerkwaardasie aangedui dat maroen, meer as enige ander kleur, die US van sy mededingers onderskei. Daarom is dit as die US se vernaamste handelsmerkkleur behou.

Nietemin bevat die nuwe logo ook goud, wat die ontwerp ophelder en die US se toewyding aan uitnemendheid simboliseer. En na gelang van waar ons die logo aanwend, sal ’n uitgebreide kleurpalet met aardse kleure gebruik word, wat die natuurskoon rondom die Universiteit sal weerspieël.

Hoe raak die nuwe logo die US se leuse?

Belanghebbendes was baie beslis daaroor dat die institusionele leuse wat vir die US se Eeufees ontwikkel is, naamlik “forward together, sonke siya phambili, saam vorentoe”, behou moes word. Die algemene gevoel was dat dit die US se missie akkuraat weergee (’n “navorsingsintensiewe universiteit wat uitmuntende studente lok, talentvolle personeel aanstel en ’n wêreldklasomgewing bied; ’n plek wat met die wêreld verbind is en gemeenskappe plaaslik, op die vasteland en in die res van die wêreld verryk en transformeer”).

Die isiXhosa-frase is effens aangepas van “masiye phambili” na “sonke siya phambili” nadat isiXhosa-taalkenners aangedui het dat laasgenoemde ’n akkurater vertaling is van “saam vorentoe”.

Wat was die denke agter die nuwe US-logo-ontwerp?

Belanghebbendes het in die raadplegende proses gesê hulle soek:

  • ’n eenvoudige en moderne, maar ook treffende en gesofistikeerde ontwerp wat by ’n akademiese instelling van wêreldkaliber pas;
  • ’n abstrakte ontwerp om kultuursensitiwiteite te vermy, sowel as ’n element van ‘beweging’ om voortdurende transformasie te weerspieël; en
  • ’n balans tussen erfenis en tradisie enersyds en ’n toekomsgerigtheid andersyds, om steeds herkenbaar te wees, maar ook te toon na watter tipe toekoms die US streef.

Die eindproduk is ’n moderne en gestroomlynde, dog klassieke en elegante ontwerp. Dit is ook leesbaar, duidelik en herkenbaar. Dat die ‘U’ en ‘S’ van ‘Universiteit Stellenbosch’ in ’n enkele visuele element vervat is, maak die logo boonop besonder geskik vir digitale toepassings.

Hoe beeld die ontwerp die US se verbintenis met Afrika uit?

Die nuwe logo is ’n visuele weerspieëling van die US se Visie 2040, naamlik om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder.

Die logo-ontwerp beeld hierdie verbintenis met Afrika uit deur die ritmiese effek van die ‘S’-lyne. Die voortdurende vloei en beweging van die lyne simboliseer die warmte, lewenskrag en polsende energie van ons vasteland, en die dinamiese kreatiwiteit van die US en sy mense.

Daar word ook voorgestel dat die logo in Afrika-geïnspireerde uitlegte en ontwerpe gebruik word wat die kenmerkende patrone, lewendige kleure en beelde van ons vasteland bevat.

Waarom word die tale in die logo nou juis in daardie volgorde gebruik?

As ’n nasionale bate streef die US na inklusiewe meertaligheid. Die Universiteit gebruik die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, waar die instelling geleë is, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa.

Die volgorde van die tale in die logo verteenwoordig nie enige tipe rangorde nie – nie een taal is belangriker as die ander nie. Simbolies beskou, is die volgorde nietemin sinvol: Afrikaans (“Universiteit”) is die grondslag en stel die oorsprong van die US voor; die isiXhosa-woord “iYunivesithi” in die middel weerspieël die US se toenemende diversiteit, terwyl die Engelse “University” op internasionalisering en die US se verbondenheid met die res van die wêreld dui.

Verander die logo nou die Universiteit se amptelike naam?

Nee. Ons naam bly soos dit in ons Statuut aangedui word, in sowel gesproke as geskrewe vorm, naamlik “Universiteit Stellenbosch” in Afrikaans, “iYunivesithi yaseStellenbosch” in isiXhosa en “Stellenbosch University” in Engels.

Wat is volgende vir die handelsmerkprojek?

Die Raad se goedkeuring van die nuwe logo op 13 April 2021 was die eerste groot mylpaal in die ontwikkeling van die US se nuwe visuele identiteit.

Die logo sal nou as ’n handelsmerk geregistreer word.

Ons sal ook ’n omvattende en geïntegreerde visuele identiteitstelsel ontwikkel. Hierdie stelsel sal uit ’n handleiding en gereedskapstel bestaan wat riglyne sal bied oor hoe om die nuwe logo aan te wend, sowel as template wat alle Universiteitsomgewings sal kan gebruik. Dit sal waarskynlik ’n paar maande duur om gereed te kry.

Wanneer word die nuwe logo amptelik bekend gestel, en wanneer kan ek dit begin gebruik?

Sodra die nuwe logo as ’n handelsmerk geregistreer en die visuele identiteitstelsel ontwikkel is, sal daar ’n amptelike bekendstelling wees, waarna ons die logo sal begin implementeer. Intussen bly die huidige US- (Eeufees-)logo in gebruik.

Hoe sal ek op hoogte gehou word van ontwikkelings met betrekking tot die nuwe handelsmerk?

Die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking sal die jongste nuus oor die handelsmerk op die US se tuisblad en in e-nuusbriewe en massa-e-posse publiseer.