Varsity Netbal het begin! : 2015-09-11
Die Varsity Sports-netbaltoernooi het onlangs begin en van die land se beste netbalspelers sal te siene wees.
’n Nuwe element van vanjaar se toernooi is ‘n sosialemediaveldtog wat daarop gemik is om die wedstryddagervaring meer pret te maak. Die #ShowYourColours-inisiatief is ‘n uitnodiging vir alle universiteitsondersteuners om hul spanne te ondersteun wanneer hulle tuis speel en aan te trek of hulself te versier in hul plaaslike universiteit se kleure. Wenners sal deur die Varsity Sports-span gekies word en op Vrydae aangekondig word. Plaas jou #ShowYourColours-selfies met die ‘hashtags’ #ShowYourColours en #VS Netball op: Twitter: @VarsitysportsSA; Facebook: Facebook/VarsitySportsSA; Instagram: @VarsitysportsSA; YouTube: Varsity Sports SA.
Maties het verlede jaar vierde geëindig en as medekapteine sal Juline Rossouw en Suné Claassens ‘n groot rol speel in hul span se poging om vanjaar selfs nog beter te doen. Rossouw is ‘n voormalige Paarl Gimnasium-leerder wat in 2011 by die Universiteit Stellenbosch (US) ingeskryf het. Sy studeer onderwys. Netbal is haar passie en sy beplan nie om binnekort op te hou speel nie. “Ek dink nie daar is enigiets anders in die wêreld wat my so gelukkig maak soos om tussen daardie vier lyne op die baan te wees nie.” Hierdie verdediger, wat die Proteas in 2013 in die Fast Five-wêreldreeks in Nieu-Seeland verteenwoordig het, speel tans vir Maties, die Kaapse Wynland Senior A-span en die Southern Stings (in die Brutal Fruit-netbalkompetisie).
Claassens, ‘n voormalige Augsburg Landbougimnasium-leerder, het ook in 2011 by die US ingeskryf. Sy is tans besig met ‘n nagraadse diploma in ontwikkelingsfinansies. As senter speel sy vir Maties, die Kaapse Wynland Senior A-span en die Southern Stings. “Netbal is nie net ‘n sport vir my nie, dis ‘n lewenstyl,” sê sy. Sowel Rossouw as Claassens moedig nuwe studente aan om aan te hou met sport terwyl hulle studeer, en daarna. “Dit leer jou om jou tyd te bestuur, hou jou fiks en gesond, bied ‘n blaaskans van jou studies en gee jou die geleentheid om nuwe mense te ontmoet. Om dit alles te kroon, kry jy ook die kans om deel te neem aan iets soos Varsity Netbal,” sê Claassens.
Varsity Netbal-toernooi:
Ander datums: 14 September 19:00 – Maties vs. NWU-Pukke in Potchefstroom. 20 September 13:00 – Maties vs. UJ in Pretoria. 21 September 14:30 – Maties vs. UCT in Pretoria. 28 September 18:00 – Maties vs. VUT in Stellenbosch. 5 Oktober 19:00 – Maties vs. Kovsies in Stellenbosch. 12 Oktober – Semi-finale 19 Oktober – Finaal
Kry jou kaartjies: Laai die Varsity Sports SA Mobile App af en kry een kaartjie. Besoek http://varsitysportssa.com/ en koop kaartjies aanlyn vir R10. Koop kaartjies op die dag vir R20.