Borge gee steun aan Matie-atlete wat hoop om aan Olimpiese/Paralimpiese Spele deel te neem : 2016-05-09

HP_borgskap

Drie plaaslike instellings het hul steun gegee aan atlete verbonde aan sportklubs by die Universiteit Stellenbosch (US) wat hoop om aan die Olimpiese of Paralimpiese Spele in Rio deel te neem.

Winelands Radiology, Maties Gimnasium en Kampusgesondheiddienste (KGD) het almal ingestem om die Maties Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid) op verskeie maniere by te staan.

Volgens dr Richard de Villiers, ‘n direkteur van Winelands Radiology, voel hulle geëerd om ‘n vennootskap met Maties Sport en die US aan te gaan om die atlete van die beste moontlike radiologiediens te voorsien by die Coetzenburg Beeldingeenheid (Imaging Unit), wat spesialiseer in die beelding van sportbeserings.

Francois Kotze, bestuurder van Maties Gimnasium, het bygevoeg dat hierdie atlete nog altyd fantastiese ambassadeurs vir hul individuele sportkodes, Maties Sport en die US in die algemeen was.

“Hulle presteer boonop deurlopend op die hoogste vlak en bring talle medaljes terug van internasionale kompetisies. Om gimnasiumlidmaatskappe te borg, is die minste wat ons kan doen om ons steun en waardering te wys.

“Ons glo dat as ons ons fasiliteite aan die atlete beskikbaar stel, ons beduidend kan bydra tot hul algehele fisieke kondisionering en herstel. Dit sal hulle toelaat om op hul voorbereiding te fokus, sonder dat hulle ekstra geld moet vind om vir ‘n gimnasiumlidmaatskap te betaal.”

Dr Pierre Viviers, Senior Direkteur: KGD, het gesê hulle is as ’n erkende diensverskaffer by die Suid-Afrikaanse Sportgeneeskundevereniging geakkrediteer en het al vir 40 jaar ‘n trotse rekord van steun aan Matie-atlete met betrekking tot sportgeneeskunde en fisioterapiedienste.

“Die meeste van hierdie atlete ken die personeel by KGD en dit maak dus sin om die steun voort te sit. Om hulle prestasies as handelsmerkambassadeurs van die US te erken, wil KGD verseker dat hul finale voorbereiding sonder enige mediese struikelblokke plaasvind.”

Sean Surmon, hoof van die HP-eenheid, het verduidelik dat die borgskap in wese aan ‘n groep atlete gegee is wat aan sportklubs by Maties behoort en die potensiaal het om vir die 2016 Olimpiese en Paralimpiese Spele te kwalifiseer (as hulle dit nog nie gedoen het nie).

Die potensiale deelnemers op hierdie tydstip is: Shaun de Jager, Justine Palframan en Victor Hogan (atletiek); Charl du Toit, Anruné Liebenberg, Anika Pretorius, Dyan Buis, Fanie van der Merwe, Ilse Hayes, Arnu Fourie, Reinhardt Hamman en Zanele Situ (Parasport-atletiek); Hendri Herbst (Parasport-swem), Marie Rabie (driekamp), Mariska Strauss (bergfiets), Ernst van Dyk (Parasport-handfiets (pad en tydtoets) en Parasport-atletiek (rolstoelmarathon)) en Roxy Burns (Parasport-baanfietsry).

Surmon het gesê hy is baie dankbaar oor hierdie borge se steun.

“Twee noodsaaklike velde van hoëprestasie-ondersteuning aan atlete in hul Olimpiese/Paralimpiese jaar is krag en kondisionering, en mediese steun.

“Met die hulp van Maties Gimnasium, KGD en Winelands Radiology het ons atlete toegang tot ‘n fasiliteit van wêreldgehalte vir hul oefening en herstel, asook onmiddellike en akkurate diagnose in die geval van beserings. Vinnige diagnose help dat die atleet onmiddellik behandeling ontvang (fisioterapiedienste word ook deur KGD ingesluit) en beteken dat ons die atleet so gou moontlik terug in oefenomgewing kan kry sodat hy/sy hul voorbereiding kan voortsit.”

Onderskrif: Francois Kotze, bestuurder van die Maties Gimnasium, dr Pierre Viviers, Senior Direkteur: Kampusgesondheiddienste, Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, Sean Surmon, Hoof: Maties HP-eenheid, en Carene Valentine, radiografis by Winelands Radiology.

Leave a Reply