Maties oorheers eerste Varsity Sports-bergfietsuitdaging : 2016-10-03

Photo credit Robert Ward

Photo credit Robert Ward

Fietsryers van die Universiteit Stellenbosch het albei dae van die eerste Varsity Sports-bergfietsuitdaging wat die afgelope naweek in die Kaapse Wynlande aangebied is, oorheers.

Maties het hard gewerk op dag een en moes Sondag net hul voorsprong verdedig om seker te maak dat hulle met die louere wegstap. Die finale uitslag het die Stellenbosch-studente se oorheersing weerspieël: Maties se kumulatiewe tyd oor die twee dae was 4:47.50, met UP-Tuks in die tweede plek (4:53.33) en die Universiteit van Kaapstad derde (4:56.14).

Die Maties se spankaptein, CP van Wyk, en Ian Lategan het Sondag eerste oor die wenstreep gery met “Dis altyd lente in die Boland” wat in die agtergrond speel. Hul derde spanmaat was Jacques Lloyd.

Van Wyk het die resies geniet en dink hulle het goed as ‘n span saamgewerk. Hy is baie opgewonde oor hierdie geleentheid vir studente-fietsryers om uit te blink.

Maties se vrouespan – wat bestaan het uit Vera Adrian, Mariske Strauss en Nicky Giliomee – het die wenstreep saam oorgesteek en was baie entoesiasties oor die ervaring.

“Dit was ‘n ongelooflike resies in ‘n baie mooi omgewing en dit was baie lekker om in hierdie formaat saam te ry,” het hulle gesê. Hulle tyd oor twee dae was 5:32.34, met UP-Tuks in die tweede plek (6:26.28).

Maties Sport-bestuurder Candice Appollis William is baie trots op die Maties-fietsryers. Die Matiespan het vroeër vanjaar ook die USSA-kompetisie gewen en het nou hul reputasie as een van die beste universiteitsfietsryklubs in die land bevestig.

“Die manier waarop hulle die kompetisie oorheers het, bewys dat ons hoëprestasie-fietsryprogram werk,” het sy gesê.

Sean Surmon, hoof van Maties Sport se Hoëprestasie-eenheid, was ook by die La Paris-wynlandgoed om die fietsryers te verwelkom.

“Hierdie fietsryers is uitstekende ambassadeurs vir Maties Sport,” het hy gesê.

Alumni en ander ryers kon ook aan die kompetisie deelneem en ‘n universiteit benoem om punte vir daardie universiteit te verdien. Maties het hierdie kompetisie ook gewen.

Photo credit Robert Ward

Photo credit Robert Ward

Leave a Reply