Edwill leef sy droom by Maties : 2016-10-27
As ‘n student aan die Universiteit Stellenbosch leef die 19-jarige Edwill van der Merwe sy droom.
“Ek wou nog altyd ‘n Matie gewees het,” vertel die Maties-rugbyspeler met trots.
Van der Merwe het vanjaar sy debuut vir Steinhoff Maties gemaak. Hy speel ook vir die Westelike Provinsie se o.21-span nadat hy verlede jaar deel van die Westelike Provinsie Rugby Instituut gebaseer by die Stellenbosch Akademie vir Sport was. Van der Merwe het reeds verlede jaar begin om Sportwetenskap aan die US te swot.
“Ek moet sê die feit dat ek al verlede jaar ‘n paar vakke kon doen en klaarmaak het vanjaar my lewe soveel makliker gemaak.”
Dit was omtrent ‘n besige jaar vir die Huis Neethling-inwoner. Ná hy sy debuut vir Maties in die Varsitybeker-reeks gemaak het, is hy ook gekies vir die Junior Springbokke. Ofskoon die Suid-Afrikaanse o.20-span nie die beste Junior Wêreld Kampioenskapstoernooi gehad het nie, was dit vir Van der Merwe niks minder nie as baie suksesvol. Hy het nie net een van die beste drieë in die toernooi gedruk nie, maar is ook een van net twee Suid-Afrikaners wat in die toernooi se Droomspan ingesluit is. Die ander speler wat Curwin Bosch.
Van der Merwe het vanjaar grotendeels vir die WP o.21-span gespeel, maar het ook sy debuut vir die WP senior span gemaak in die Curriebeker-reeks se kwalifiserende fase.
“Ek sal nooit my debuut vir Maties vergeet nie. Dit was ongelooflik. En toe om my eerste drie in die Maroon-trui te druk…is iets waarvan ek al gedroom het toe ek 12 jaar oud was en baljoggie in die Danie Craven-stadion vir Maties-wedstryde was. Ek onthou hoe ek oopmond na die spelers gestaar het en net eenvoudig geweet het, ek wil ook eendag daardie trui oor my kop trek.”
Saam met sy Maties-debuut was sy Junior Springbok ervaring die ander hoogtepunt van 2016 vir die blitsige vleuel. “Dit was nie die beste toernooi vir die span nie, maar ek het ongelooflik baie ervaar en geleer. Dit was ‘n trotste oomblik.”
Van der Merwe praat nie net met groot entoesiasme oor Maties Rugby nie. Hy is beslis ‘n trotse sportman en student. “Ek geniet my studies baie. Net soos ek altyd geweet het ek wil vir Maties speel, het ek geweet dat ek Sportwetenskap wil studeer sodat ek ‘n biokinetikus kan word. Dit gaan tot dusver baie goed. Dit is harde werk nie net om te studeer nie, maar om die balans te vind. Ek hou egter van uitdagings en kry ongelooflik baie ondersteuning van Maties Sport se Hoë Prestasie-program. As HP sport word Maties Rugby op ‘n hoë vlak bedryf en dit beteken baie. Ek weet ek word blootgestel aan net die beste.”
Van der Merwe is as die WP o.21 se Speler van die Jaar aangewys by die WP Rugby-toekennings en is Maties se Jongspeler van die Jaar.