Nuwe Maties-krieketkaptein Erasmus slaggereed vir uitdaging : 2016-10-31

Dié voor hom het diepspore by Steinhoff Maties Krieket getrap, maar die nuwe kaptein wil egter meer as net in hul voetspore volg; Gerhard Erasmus is vasbeslote om sy eie stempel af te druk.

Erasmus is pas aangewys as Maties-krieketkaptein vir die nuwe seisoen. Dewald Botha en Emile Kriek was die afgelope paar seisoene die leiers in die span. “Emile en Dewald was nie net goeie leiers nie. Hulle was ook briljante spelers en goeie mense. Hulle was die toonbeeld van goeie studente wees. Hulle het hard gewerk, hard geoefen en hard geswot!” het Erasmus gesê.

Volgens Erasmus is dit egter nou belangrik dat die sogenaamde nuwe generasie Maties hul eie kultuur vind en vestig. “Ons wil natuurlik voortbou op die tradisies wat reeds deur die jare gevestig is, maar ons is nogal ‘n jong groep spelers en dit gaan belangrik wees om ons eie kultuur te vestig en ons stempel op ‘n unieke manier af te druk. Dit is ons eerste uitdaging.”

Erasmus is ‘n tweede jaar LLB-student en speel sedert sy eerste jaar vir Maties. “Om ‘n speler-student by Maties te wees is wonderlik. Wat Maties vir Maties bied verseker dat mens hier wil wees.”

Oor kaptein wees, is Erasmus passievol. “Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg om Maties se kaptein te wees. Leierskap kom natuurlik vir my. Kapteinskap is ‘n aangename verantwoordelikheid. Ek speel beter as ek kaptein van ‘n span is…dit is waar ek hoort.”

Krieket is deel van Maties Sport se Hoë Prestasie-program en volgens Erasmus maak dit ‘n enorme verskil. “Dit is noodsaaklik om ‘n HP-program te hê. Maties se HP-program is alles omvattend en veral Grant van Velden se rol as kondisioneringsafrigter, is van onskatbare waarde.”

Die nuwe Boland-klubkrieketliga het reeds begin.

Leave a Reply