Luke sit Schooling-tradisie voort : 2016-10-31
Om ‘n Matie te wees is ietwat van ‘n familie tradisie en een wat Luke Schooling meer as gelukkig was om voort te sit.
Eerste jaar Matie Luke het die voorbeeld van pa Doug, ma Norma en susters Meg en Kimmi gevolg om by die Universitiet Stellenbosch te studeer. “Ek wou nog altyd ‘n Matie wees. My ma het hokkie vir Maties gespeel en ek wou nog altyd haar voorbeeld volg. En nadat ek die afgelope paar seisoene vir Maties in aksie gesien het, het ek met net meer oortuiging geweet ek wil daardie maroen-trui oor my kop trek!”
Schooling is ‘n LLB-student en inwoner van Simonsberg. “Die jaar het baie goed verloop. Ek het beslis die regte besluit oor my studies en Matie-wees geneem.”
Die voormalige SACS-leerling het nie net in hokkie nie, maar ook waterpolo uitgeblink. “Dit is soos hokkie ‘n familie-passie met my pa en susters wat ook waterpolo gespeel het. Maar ek is nie spyt oor die keuse wat ek gemaak het om hokkie bo waterpolo te kies nie.”
Aanhangers van Maties Hokkie is net so bly oor Schooling se keuse. In die eindstryd van die WPGC het Schooling die wendoel aangeteken. Dit was een van ‘n handvol doele wat die jongeling aangeteken het die seisoen, waar jy kon sien sy selfvertoue en spel verbeter met elke wedstryd.
Volgens Schooling is om balans tussen hokkie en studies te vind ‘n interessante proses, maar dat hy baie hulp van sy spanmaats kry. “Ek sien ook wat die ander HP-sportmanne in my koshuis doen. Die feit dat ek hokkie en waterpolo op skool gedoen het en ook op my studies moes fokus, het my so bietjie van ‘n voorsmakie gegee.”
Hokkie is deel van die Maties Sport Hoë Prestasie-program. “Dit was iets wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie. Aan die begin van die jaar kon ek sien hoe die senior ouens vinniger by die intensiteit aanpas. Die HP-program het my baie gehelp met my algemene spel, veral die fisiese oefensessies. Die intensiteit van al die sessies is noodsaaklik vir die sukses van ons hokkie. Dit is ook voordelig om iemand soos Revs (Paul Revington) te hê wat ons help. Dit is ongelooflik om te beleef. ”
Schooling het bygevoeg: “Die afgelope 10 maande was ongelooflik. Nie ‘n enkele iets om oor spyt te wees nie. Jy kry nie beter as Stellenbosch nie… ek is so bly om hier te wees.”