Momentum van kardinale belang : 2017-02-27

MAties celebrates a well deserved try – 2017 Varsity Cup, presented by Steinhoff, FNB and STEERS. Monday 13 February 2017
FNB MATIES vs FNB NWU-Puk at the Danie Craven Stadium, Stellenbosch, Western Cape
Photo by: Liam Hamer Nel
Na vier wedstryde in die Varsitybeker-rugbyreeks is Maties bo-aan die punteleer.
Maties en Shimlas het albei 14 punte na vier wedstryde, maar Maties is eerste danksy ‘n beter punteverskil. Na die nederlaag teen Tukkies in Pretoria, het Maties met Wits, Pukke en NMMU afgereken.
Braam Venter, kaptein teen Pukke en binnesenter vir Maties, glo dit was baie belangrik om momentum te bou met die drie agtereenvolgende tuiswedstryde. “Behalwe vir die momentum wat ons as span opgebou het met die seges, help dit ook baie met die spelers se selfvertroue met drie weg-wedstryde wat nou wag. Dit was ook nie net belangrik om die drie wedstryde te wen nie, maar ons wou ook baie graag voor ons tuisskare seges behaal.”
Sedert die eerste wedstryd teen Tukkies het verskeie Maties-spelers al beserings opgedoen. Venter was juis kaptein teen Pukke omdat Beyers de Villiers moes uittree nadat hy harsingsskudding teen Tukkies opgedoen het en Craig Barry toe teen Wits beseer is. Gelukkig het Venter die kapteins-ongeluk tot ‘n einde gebring en Barry was weer die afgelope week in aksie.
“Dit breek wel die momentum as daar gereeld beserings in verskillende posisies is, maar die ouens wat van die plaasvervangerbank kom is meer as gereed en bevoeg om die beseerde speler te vervang. Ons is bevoorreg met heelwat diepte in ons groep.”
Maties se volgende wedstryd is Maandag teen Ikeys op die Green Mile. Vir albei spanne is dit altyd meer as net nog ‘n wedstryd. “Wat voorheen gebeur het en tellings van die verlede beteken niks. Almal bring iets ekstra vir die wedstryd,” het Venter beslis gesê.
Na die wedstryd teen Ikeys volg nog twee weg-wedstryde teen Shimlas en CPUT en die laaste wedstryd voor die halfeindronde is in die Danie Craven-stadion teen UJ.