Boonzaaier se ompad in Maties-rugbyspan elke tree die moeitewerd : 2017-05-04

Logan Boonzaaier se storie is nie net een wat bewys dat drome waar word, of dat harde werk beloon word nie, maar ook een dat die strukture wat die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport in plek sit om voornemede en huidige student-atlete te help, werk.

Boonzaaier het pas sy debuut vir Maties in die Varsitybeker-rugbyreeks gemaak. Sy eerste wedstryd in die Maroon-trui is egter net die einde van ‘n baie interessante storie van vasbyt.

“Ek wou bitter graag aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Ek het dus aansoek gedoen vir die SciMathUS-program vir 2015 sodat ek die nodige punte kon verbeter en ek ‘n Matie kon word. SciMathUS het my nie net gehelp om my punte te verbeter en so toelating tot die US te kry nie, maar dit het my ook geleer om beter te prioritiseer. Vir my is om te studeer en my graad te kry die heel belangrikste. Ek wil graag iets bereik in my lewe. Ek wil eendag ‘n goeie werk hê,” het die boorling van Franschhoek vertel.

SciMathUS is ‘n oorbruggingsprogram waartydens leerders ondersteun word om hul matriekresultate in kernvakke te verbeter en sodoende toegang tot universiteit te verkry. Studente volg een van twee kurrikulums​: Wiskunde en Fisiese Wetenskappe en herskryf die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) eksamen in beide vakke; of Wiskunde en Inleiding tot Finansiële Rekeningkunde en Inleiding tot Ekonomie en herskryf die NSS-eksamen in Wiskunde. Die ander twee vakke word deur die US aangebied en geassesseer.

Boonzaaier het toelating gekry en studeer tans BCom Finansiële Rekeningkunde. Boonzaaier het verlede jaar vir PSO in die eerstejaarstoernooi gespeel. Niksvermoedends was dit sy volgende tree na die Maties-rugbyspan. “Alles het nogal onverwags gebeur. Die afrigter van die Maties Young Guns, Christoff Lotter het my gesien speel. Hy bel my toe gebel en sê ek moet saam met die Young Guns kom oefen. Ek kon dit nie glo nie! Deel van Matie wees is vir my om vir Maties rugby te speel. Ek het toe die seisoen vir die Young Guns gespeel. Kort voor die einde van die jaar kry ek toe nog ‘n oproep. Die keer van Coach Hawies (Fourie, afrigter van Maties). Hy het my gevra of ek sal belangstel om vir die Varsitybeker-span te kom speel. Sal ek belangstel!? Ek kon dit nie glo nie. Nog ‘n droom wat waar geword het. Ek gee alle eer aan God vir die wonderlike manier waarop dinge in my lewe gebeur.”

Leave a Reply