Maties ry in Cape Epic : 2017-05-04
Vir Nicky Gilliomee en CP van Wyk kon die pas afgelope Absa Cape Epic nie meer uiteenlopend gewees het nie albei Maties het egter ‘n wonderlike tyd by dié meerdaagse bergfietstoer gehad.
Gilliomee het die Cape Epic saam met die legendariese Hannele Steyn aangepak. Steyn is die enigste vrou wat al 14 Cape Epic-toere voltooi het. Sy is een van net vier jaers wat elke Epic sedert 2004 begin en klaar gemaak het. “Dit was die mees ongelooflike ervaring om saam met Hannele in die Cape Epic te ry. Ons het nog nooit voorheen so iets saam gedoen nie en ons albei was baie onseker oor wat om te verwag. Dit was ook net my tweede Cape Epic. Die doel was om Hannele te help om haar 14de Epic te voltooi. Ons het versigtig en konserwatief gery elke dag. Om saam met Hannele agt dae op my bergfiets te spandeer was baie spesiaal. Dit was ‘n ware voorreg om saam met haar te ry. Sy ‘n rolmodel. Sy het haar Suid-Afrika klere in sewe verskillende sporte! Ek is ‘n feminis en om dus saam met ‘n vrou soos Hannele te kon ry was ‘n eer,” het Gilliomee gesê.
Soos Gilliomee het Van Wyk enkele weke voor die Cape Epic eers gehoor dat hulle gaan deelneem. Dit was Van Wyk se eerste Cape Epic. “Dit was een hengse ervaring. Dit het begin met groot opwinding en baie toeskouers op Meerendal. Daar was drie helikopters in die lug en dit is iets waaraan mens nie sommer gewoond is nie. Met die verloop van die agt dae het dit gevoel of ek omtrent elke berg in en rondom Hermanus, Greyton en Elgin gesien en uitgeklim het! Daar was baie hoogte- en laagtepunte. Elke dag het die opstaan en regmaak vir die skof moeiliker geraak en meer motivering was nodig. Daar was selfs die oomblikke wat ek gewonder het wat is ek besig om aan myself te doen! Ons is egter daagliks beloon met van die ongelooflikste roetes en uitsigte wat alles die moeite werd gemaak het. Die hoeveelheid ondersteuning langs die roetes en algehele atmosfeer by die eindpunt en tussen die ryers is wat sal verseker dat ek beslis weer aan die Epic sal deelneem.”