Nasionale byeenkoms reuse-sukses vir Maties : 2017-05-04

Met verskeie nasionale rekords en die baie belangrike kwalifiserende tye vir die Wêreldbyeenkoms het Maties se Parasport-atlete van die pas afgelope Suid-Afrikaanse byeenkoms teruggeekeer.

Die nasionale byeenkoms het in Port Elizabeth plaasgevind.

Meer as twee handevol atlete het goue medaljes en kwalifiserende tye behaal. Vir twee van die atlete – legendes Arnu Fourie en Ilse Hayes – was dit hul laaste nasionale byeenkoms.

Beide het hul nommers gewen en gekwalifiseer vir die Wêreldbyeenkoms in London van 14-23 Julie. Dit sal in dieselfde stadion plaasvind as die 2012 Paralimpiese Spele.

Fourie het die 100m en 200m (T44) in onderskeidelik 11.37 en 23.30 sekondes gewen.

Hayes (T13) het ook haar naelloop-nommers – 100 en 200 – gewen, maar wat nog belangriker as die seges was, is haar vordering na ‘n Achilles-besering. “Dit was omtrent ‘n wedloop teen tyd om Ilse reg te hê vir die byeenkoms. Die 100m was haar eerste volle 100m uit die blokke en haar 200m ook. Ons het nie werklik geweet wat om te verwag behalwe dat ons grootste hoop was dat haar Achilles die maksimale impak gaan oorleef. In 100m en 200m het sy met haar goeie tegniek deur die wedloop beïndruk. Hoewel haar tye ver van haar persoonlike beste was, het sy gewys ons kan nou na die volgende fase gaan,” het afrigter Suzanne Ferreria het gesê. Hayes se tye in die 100 en 200 was 12.40 en 26.45 onderskeidelik.

Dyan Buis (T38) en Anruné Liebenberg (T44) het albei drie goue medaljes gewen in die naellope. “Dyan het drie goeie tegniese wedlope gehardloop. Sy tye was ook goed. Met die 400m het hy letterlik die wind van voor gehad en dit was ‘n harde wedloop. In al drie wedlope was hy van begin tot einde voor,” het Ferreira vertel.

Oor Liebenberg het sy gesê: “Sy het goeie tegniese wedlope gehardloop, maar sy het al vinniger die seisoen in 200m en 400m gehardloop. Dit was ook vir haar ‘n voorreg en baie spesiaal om die 100m en 200m teen Ilse te hardloop op Ilse se laaste SA byeenkoms.”

Die veldatlete se afrigter Karen le Roux was ook baie tevrede met haar atlete se vertonings. Veteraan Zanele Situ (F54) het gekwalifiseer vir die Wêreldbyeenkoms in drie nommers. “Reinhardt Hamman (F38) het baie naby aan sy persoonlike beste gekom in die spiesgooi net ‘n paar maande na ‘n groot knie operasie,” het Le Roux gesê.

Nog ‘n atleet wat sy terugkeer gemaak het, is Jean Joubert (F44). Hy het vir twee jaar nie deelgeneem nie. Hy het die nasionale rekord in gewigstoot verbeter. “Kerwin Noemdo (F46) is ook in baie goeie vorm en het ‘n persoonlike beste gegooi in die gewigstoot en so sy eie SA rekord verbeter.”

 

 

Leave a Reply