USSA-titels vir Maties rugby en fietsry : 2017-07-17

Die Maties-fietsryspan het Woensdag vir die derde agtereenvolgende jaar die USSA-titel gewen na totale oorheersing op die teerpad.

Dit volg op die sukses van die Steinhoff Maties-rugbyspan wat met sy vierde eindstryd die laaste paar jare verlede week in Johannesburg uiteindelik die 2017 USSA-titel verower het.

In Port Elizabeth het die mans- en vroue-fietsryspan die padkompetisie gewen. Gert Heyns en Frances du Toit was in die algehele eerste plek. Maties se ryers het elke skof gewen. Max Sullivan het die groentrui vir beste naelryer gewen en Heyns was die beste klimmer in die toer.

Maties-rugbyspan het Pukke in die eindstryd in die Wits-stadion met 19-13 geklop. Braam Venter en sy span het die week begin met ‘n sege oor CUT met 84-7 en in die halfeindstryd maklik met Shimlas (50-7) afgereken.

Dit was ‘n riller van ‘n eindstryd teen die span van Potchefstroom wat die tuis-universiteit Wits in die halfeindronde uitgeskakel het. Maties was die heeltyd voor in die wedstryd.

“Ek is baie bly en verlig dat ons die eindstryd kon wen. Ons het die laaste paar jaar elke keer naby gekom. Om die titel te wen beteken vir ons baie. Ons kan nou hierop bou vir die res van die WP-liga en wat ons hier geleer het selfs gebruik in volgende jaar se Varsitybeker-toernooi,” het Venter gesê.

Maties is nou die USSA-kampioene vir 15man- en sewesrugby. Venter was ook die kaptein van die sewespan wat die laaste USSA-toernooi vir sewes gewen het. Die USSA-sewesrugbytoernooi is in September vanjaar.

Die rugbyspan is die enigste span wat ‘n titel gewen het verlede week. Die Maties-fietsryspan is tans in Port Elizabeth waar die die span die tweemalige verdedigende kampioen is.

Die Maties-gimnastiekspan het die span kompetisie gewen en algeheel tweede na Pukke geëindig. Die pluimbal- en tennis-span was albei derde.

Ander USSA-uitslae: Gimnastiek 2de; Pluimbal 3de; Tennis 3de; Netbal 5de; Hokkie 5de; Muurbal 5de; Sokker 5de; Golf 6de; Basketbal (vroue) 8ste; Basketbal (mans) 14de.

 

Leave a Reply