Ekoterapie span ontdek die giere van miere

  • Post author:
  • Post category:News
  • Reading time:3 mins read

Iimbovane het vir groot opwinding gesorg tydens die aanbied van ‘n opleidingsessie oor miere aan die inwoners en dagwerkers van Huis Horison, Stellenbosch.

Die opleidingsessie het op 11 Februarie 2022 plaasgevind en is deur die Ekoterapie span van Huis Horison bygewoon. Hierdie is ‘n klein groepie inwoners en dagwerkers wat hoofsaaklik in die tuine en groentetuine op die perseel werksaam is.

Die opleidingsessie het begin met ‘n kort oorsig oor miere en hulle rol in die natuur – veral die belangrike rol wat miere in die verspreiding van sade en in die belugting van grond speel. Omdat die Ekoterapie span gereeld in die tuine werk, kon hulle heerlik saamgesels en vir die Iimbovane spanlede vertel van die verskeidenheid van insekte en bestuiwers wat hulle al in die tuine opgemerk het.

Daarna was dit tyd om uit te gaan en die span is gevra om verskillende soorte miere te versamel. Dit is gevolg deur ‘n aktiwiteit waar elke persoon ‘n diagram van die mier se liggaamsdele met die korrekte benaming vir elke deel moes voltooi.

Elke persoon is ook voorsien van ‘n mikroskoop en vergrootglas waarmee hulle die miere van nader kon bestudeer en in verskillende spesies sorteer op grond van hoe hulle lyk.

Almal het hulle verkyk aan die fyn haartjies op die miere se lyfies en was baie verras om te vind dat daar meer as een soort mier op die perseel en in die tuine voorkom.

Huis Horison is ‘n werksentrum waar persone met intellektuele gestremhede in ‘n veilige omgewing kan werk en tuis gaan.

Iimbovane (wat ‘miere’ in isiXhosa beteken) is ‘n wetenskapsuitreikprojek van die Universiteit van Stellenbosch wat mierspesies gebruik om skoolleerders en die publiek aan biodiversteit bekend te stel.

Verskillende miere is op die perseel versamel sodat hulle voorkoms bestudeer kon word.

Miere is met behulp van ‘n mikroskopie en vergrootglas van nader te bekyk.