Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ontmoet die techies: Marinka

Marinka-webTeen Marinka Naudé se kantoormuur hang `n swartraam foto met die volgende aanhaling:

“Service excellence can be attained
if we constantly strive to perfection
and care enough to do our very best in every day”

Diegene wat haar ken, sal weet dat sy voortdurend aan die rondhardloop is, in `n vergadering of omring deur `n hoop dokumente. Daar is geen twyfel dat sy soveel moontlik probeer uitrig in een dag nie. Op papier is sy die Hoof: IT Finansies en Administrasie en verantwoordelik vir die bestuur, toepassing van finansiële beleid, koördinering, beplanning, begrotings, bestuur en administrasie van personeel-, bedryf- en kapitaalfondse. Maar op die ou end strek dit veel wyer.

`n Gefaalde poging weens verwarring oor die sperdatum, om by die Kaapse Technikon in te skryf vir Voedseldiensbestuur, het, op aanbeveling van `n studente-adviseur,  gelei tot`n splinternuwe kursus, Maatskappyadministrasie. Standerd 6 Rekeningkunde moes vinnig afgestof word en haar loopbaan het onwillekeurig begin. Een van haar gunsteling tydverdrywe is steeds om deur resepteboeke te blaai en natuurlik ook kosmaak – al het syfers destyds die oorhand gekry.

Oor die jare het sy waardevolle ondervinding by `n geoktrooieerde rekenmeester in die suidelike voorstede, `n ouditeursfirma in Worcester waar sakrekenaars soms vlerke gekry het in hete oomblikke en later by `n eiendomsagentskap in die stad, opgedoen. Na hierdie omswerwinge, het sy in 1998 `n pos onder die toe Direkteur Administratiewe Inligtingstelsels, JJJ du Plessis, aanvaar.

Na drie jaar bedank hy en Marinka, ten spyte van noodgedwonge swem in die diepkant, neem die leisels oor van die finansiële deel van sy portefeulje.

“Alles is transaksiegedrewe en `n koste by betrokke.”

Om hierdie rede word sy betrek by feitlik alles wat binne IT aangaan – van die HR-stelsel, personeelplanne en evaluerings tot die bestuur van die telefoonstelsels en alles wat `n finansiele strekking het. Hierdie verskeidenheid van funksies is vir haar die mees vervullende deel van haar werk, omdat dit `n geheelbeeld van die afdeling bied en sy werking daarvan perfek verstaan.

Deeltyds voltooi sy in 2008 haar BTech graad in Besigheidsadministrasie by CPUT en in Maart 2013 ook `n MBA by die US Bestuurskool. Sy baseer haar tesis op die universiteit se menslike hulpbronne-stelsel, met die titel  “An Evaluation of the Oracle HRMS System at the University of Stellenbosch from a User’s Perspective”.

Siende dat Marinka grootgeword het op die plaas, is dit nie verbasend dat sy soveel gelyktydig en  soms onder druk, kan hanteer nie. Sy onthou al die verskeie bedrywighede op die plaas duskant Worcester  – trekkerry tydens parstye, vroegoggend uitstappies mark toe om kortgewasse soos blaarslaai te gaan verkoop en hoe algemeen vloede in die omgewing was vir plaasgemeenskappe.

“Dis `n ander lewe – iets wat vandag se kinders nie ken nie.”

Aanvanklik was sy in `n plaasskool met net 12 kinders – van Sub A tot Standerd 5, met net een onderwyseres. “Ons het almal pouses saamgespeel, want ons was so min.” Later op hoërskool moes sy 6:15 soggens opstaan en na drie verskillende busritte het jy eers by die skool op die dorp uitgekom.

Winkelsentrums en skares is nie haar gunsteling tydverdryf nie. Sy sal veel eerder erens gaan kamp, “white water rafting” doen of met `n mikrovliegtuig die lug in. Selfs duik saam met die haaie is op haar agenda.

Duidelik hou sy van adrenalien – en ook van kleins af as jy na die stories oor temperamentele bulkalfies luister. Op die plaas is hulle stuk-stuk in sessies van tien grootgemaak en moes twee maal `n dag handgevoer word met poeiermelk.

Maar hoe groter, hoe stouter! Keer op keer moes hulle in die middel van die nag uit die tuin gejaag word nadat daar uit die kamp gebreek is. Marinka se broer, Willie, wat destyds in die lugmag was, was `n bietjie meer versigtig vir een oproerige bulkalfie en het eerder maar op `n afstand gestaan en “shoo, shoo!” sonder veel effek. Dalk maar beter so, want Marinka self is al dwarsdeur `n riviertjie gejaag.

Deesdae het sy die bulkalfies verruil vir twee meer rustige en beheerbare katte, Asjas en Trensie.

As kind moes sy op skool Noord-Sotho leer toe hulle in Elsburg vir `n tyd gebly het, maar deesdae is sy voeg sy ook Xhosa by haar lys van tale.

“Ek het so pas my eerste Xhosa kursus klaargemaak by die Taalsentrum) en begin volgende week met die 2de kursus.” Sy het ook al drie Argus wedrenne voltooi, vele massa-stappe soos die Big Walk en hou van muurbal speel.

Een ding is seker, as jy iets vinnig en effektief gedoen wil hê, kan jy maar net tot onder in die gang van IT se tweede vloer drentel, en jy sal gou regkom. “Service excellence” inderdaad.

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.