Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Beteken SMS-taal die einde van goeie taalgebruik?

 

Volgens die akademikus, linguis en politiese kommentator, John McWhorter, was mense se praat- en skryftaal nog altyd verskillend. Om ʼn SMS te stuur, is eintlik om met jou vingers te praat. (kyk sy praatjie onder)

 

ʼn Mens kan nie SMS-taal met ʼn werklike taal vergelyk nie. Dis glad nie dieselfde verskynsel nie, sê McWhorter. SMSe het hul eie taal en dis reg so. Geskrewe en praattaal is al sedert antieke tye twee verskillende goed. 

Kyk byvoorbeeld na taal in klassieke tekste. Dis nie hoe mense gepraat het nie. Net so sal mense nie skielik praat en skryf soos hulle SMS nie. Of dit is wat McWhorter glo. Volgens hom is daar geen bewys dat SMS-taal skryfvaardighede benadeel nie.

Daar is egter akademici wat met hom verskil. Die onderwerp van SMS-taal, en veral studente se vermoë om behoorlik te kan skryf, is ʼn hete onderwerp in personeelkamers, akademiese instellings en in die media. 

In haar artikel, “Flipping the Switch”, verwys Kristen Turner na die agteruitgang van die kwaliteit van studente se werk en hoe informele, elektroniese taal geleidelik geskrewe werk binnegedring het. Onderwysers en dosente mag ook van hierdie verskynsel getuig. 

In informele, elektroniese taal, word woorde verkort weens beperkte beskikbare karakters. Twitter laat byvoorbeeld net 140 karakters toe. Letters of woorde word vervang deur syfers, omdat dit korter is. (byvoorbeeld 2, in plaas van too) Meer jargon-terme word gebruik, byvoorbeeld bae of on fleek. Leestekens en hoofletters word weggelaat.

John Sutherland, emeritus professor emeritus by University College London het 2000 families bestudeer en opgemerk dat 86% van die ouers die meeste van die terme wat hulle kinders in elektroniese media gebruik, glad nie verstaan nie. Dis ook van pas dat hy na SMS-taal verwys as “barbed wire for an older generation”. Sodra die ouer generasie die taal begin verstaan, beweeg die jeug aan en ontwikkel iets nuuts en onverstaanbaar.

En dan is daar autocorrect. Ons hoef nie meer te kan spel nie, ons toestelle spel en tik namens ons. Gegewe bogenoemde, is dit moeilik om te glo dat informele, elektroniese taal nie tog ʼn invloed op die skryfvaardighede van studente sal hê nie.

ʼn Derde groep argumenteer dat SMS-taal bloot aandui dat die taal groei en verander. David Crystal, skrywer van Txtng: The Gr8 Db8, glo dit voeg ʼn nuwe dimensie by taal.

Wat is jou ondervinding in die klaskamer met studente of jou kinders by die huis? Behoort ons bekommerd te wees of is ons maar net onnodig paranoïes?

[BRONNE/SOURCES: http://ideas.time.comhttp://blogginghel.blogspot.co.zahttp://www.dailymail.co.uk]

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.