Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Google sê Allo

alloGoogle het gegroei van `n maatskappy wat `n soekenjin ontwikkel het, tot een wat nie net tegnologie vir vandag nie, maar ook selfaangedrewe motors en `n virtuele realiteit platform vir die toekoms, ontwikkel.

Rich Miller het in 2011 op die Data Centre Knowledge webwerf genoem dat Google op daardie stadium reeds meer as een miljoen datasentrums regoor die wêreld besit het. Glad nie sleg vir iets wat in 1996 begin het as twee PhD Stanford Universiteitstudente, Larry Page en Sergey Brin, se navorsingsprojek nie.

Op 21 September is ʼn nuwe foongebaseerde kletstoepassing, Allo, bygevoeg tot Google se lys innovasies.

Die bekendstelling van ʼn alleenstaande toepassing wat slegs op mobiele toestelle gebruik kan word en nie integreer kan word met ander nie, het egter almal aan die gons. Daar word gespekuleer dat Allo Google se poging is om ʼn deurbraak in die Indiese mark te maak, ʼn mark wat naas China en Amerika die grootste ter wêreld is. En soos ons weet, is China nie besonder toeganklik vir Westerse tegnologie nie.

Een van die voordele van Google-produkte, is dat dit toeganklik is oor platforms met jou Googlerekening. Dis nie die geval met dié nuutste wonderkind nie. Allo sal jou nie herken as ʼn Google-gebruiker nie. Jy moet van nuuts af registreer as ʼn gebruiker, ook sonder die opsie om jou Gmail-adres te gebruik vir registrasie. Soos Whatsapp, gebruik Allo jou selfoonnommer om jou te herken.

Allo vervang ook nie die minder-suksesvolle Google Hangouts nie. Dit kan nie video-uitsendings hanteer nie en ook nie SMSe stuur nie. Vir video-klets het jy Duo nodig, ʼn addisionele toepassing wat saam met Allo vrygestel is. So hoekom sal jy enigsins Allo installeer? Daar is darem pluspunte.

Google se masjienleer-tegnologie mag die hoofrede wees waarom Allo installasies die week die miljoenmerk verbygesteek het. Allo gebruik Google Assistant, ʼn geïntegreerde, slim soekbot wat deel vorm van jou kletsprogram. Dit stel jou in staat om toegang tot inligting te kry sonder om ʼn ekstra weboortjie oop te maak of jy kan `n privaatboodskap aan die assistent stuur deur @google te tik en ʼn vraag te stel. Dink daaraan as die Siri vir Android, net meer effektief.

Ander handige funksies sluit whisper/shout in – ʼn stukkie sagteware wat jou in staat stel om die teks in jou boodskap se grootte te verander deur die Send-knoppie in te hou en jou vinger op te beweeg. Nie iets wat jou lewe gaan verander nie, maar dalk nuttig as jy haastig is.

As verbale kommunikasie nie jou sterkpunt is nie, bied Allo  ʼn groot versameling plakkerstelle waarmee jy jouself na hartelus visueel kan uitdruk. Die nuwe Ink-funksie laat jou ook toe om te teken of teks op fotos aan te bring.

Op ʼn meer praktiese vlak gebruik Allo Smart Replies, `n funksie wat vir jou dink. Dit voorspel wat jou reaksie kan wees op grond van jou meesgebruikte woorde en frases. Amper soos autocorrect, net slimmer en minder geneig om jou in die verleentheid te stel met verkeerde voorstelle. 

Laastens is daar Incognito mode

Google het vroeër die jaar met die Allo-aankondiging, genoem dat alle boodskappe outomaties uitgevee sou word na ʼn sekere tyd, soos bepaal deur die gebruiker.  

Met die amptelike bekendstelling het Google sy deuntjie verander. Die nuutste is dat Allo alle boodskappe vir ʼn onbepaalde tyd op Google se bedieners sal stoor. Op dié manier kan Google die versamelde data gebruik om produkte te verbeter. As jy dus nie jou boodskappe uitvee nie, sal dit op Google-bedieners bly. Dis aankondiging wat Edward Snowden genoop het om die wêreld teen Allo te waarsku.

Die goeie nuus is dat jy Incognito Mode, wat end-to-end enkripteer is en nie deur Google gestoor word nie, kan gebruik. `n Goeie idee as jy Edward Snowden is of bloot sensitief dat jou data moontlik toeganklik vir ʼn derde party kan wees.

Google Allo kan afgelaai word op die Google Play-winkel.

BRONNE:

https://en.wikipedia.org/wiki/Google_Allo
http://arstechnica.com/gadgets/2016/09/google-allo-is-incomplete-but-assistant-is-the-companys-future/
http://www.pcadvisor.co.uk/new-product/google-android/what-is-google-allo-what-is-google-duo-google-allo-available-now-3640590/
http://arstechnica.com/gadgets/2016/09/google-allos-limitations-explained-in-one-word-india/
http://www.androidauthority.com/google-allo-717745/
http://www.techradar.com/how-to/phone-and-communications/mobile-phones/how-to-use-google-allo-1329437

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.