Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Fnuik ransomware: Rugsteun jou data

Die vernielsugtige ransom-wurm Petya het laasweek verwoesting regoor die wêreld gesaai en vele kritiese dienste onderbreek. Ongelukkig raak dit toenemend meer moeilik om hierdie tipe aanvalle te vermy, aangesien kuberkriminele slimmer raak en al meer inisiatief aan die dag lê. Hoewel daar maniere is om te voorkom dat jy in die ransomware-slaggat trap, is daar een ding wat jou sonder twyfel sal beskerm. En dis nie te tegnies of te moeilik om te doen nie.

Rugsteun jou data eenmaal ʼn week. Ja, dis ʼn vervelige, sieldodende, administratiewe taak en ons almal haat admin ewe veel – maar deur net dit te doen, verseker jy dat jou data veilig is. Selfs al word jou rekenaar oorgeneem deur ransomware of enige ander malware, het jy ekstra weergawes daarvan beskikbaar elders.

Hier is ʼn paar vinnige wenke om jou te help:

  1. Kies een dag in die week wat jou pas en skeduleer ʼn afspraak in jou dagboek om ʼn weeklikse rugsteun te doen. 
  2. Probeer om nie oor vorige rugsteundokumente te skryf nie.  Maak eerder opeenvolgende kopieë in verskeie vouers op jou eksterne hardeskyf of netwerkspasie met elkeen se datum as beskrywing. Indien enige van die dokumente korrup word, sal daar altyd ʼn vorige weergawe beskikbaar wees. 
  3. Gaan gereeld jou rugsteun-medium na en maak seker dat dit nog in ʼn werkende toestand is en jy toegang tot jou dokumente kan kry. 
  4. Gebruik meer as een rugsteun-medium, byvoorbeeld jou netwerkspasie EN ʼn eksterne hardeskyf. 

Waar moet jy jou data rugsteun?

  1. Elke personeellid het toegang tot sy/haar eie netwerkspasie (gewoonlik die h-skyf) waar jy ʼn vasgestelde hoeveelheid data gratis kan stoor. Jy het 1GB tot jou beskikking om die mees kritiese dokumente te stoor. Die spasie kan ook vermeerder word teen ʼn ekstra koste van R10-00 per 1GB. Jou netwerkspasie is ook beskikbaar via die web by storage.sun.ac.za indien jy nie op kampus is nie.
  2. Departementele netwerkspasie (gewoonlik die g-skyf). Die departementele netwerkspasie kan gebruik word vir leêrs wat deur meer as een persoon gebruik word en 15GB word aan elke departement toegeken. SharePoint kan ook deur groepe gebruik word om dokumente te deel.
  3. OneDrive bied 5TB stoorspasie per personeellid. Hierdie diens is beskikbaar via die Office365 suite. https://portal.office.com/
  4. Indien jy verkies om jou data naby te hou, kry vir jou ʼn eksterne hardeskyf. Moet nooit belangrike data op ʼn flitsskyf stoor nie – die enigste doel daarvan is om data van een toestel na ʼn ander te skuif. Dis nie ʼn betroubare rugsteun-medium nie. Maak ook seker dat jou rugsteun-mediums elders gebêre word of in ʼn kluis (nie in jou kantoor nie). Indien jy US-dokumente op ʼn eksterne hardeskyf stoor, MOET dit met ʼn wagwoord beveilig word of enkripteer word. Hou ook in gedagte dat indien jy die wagwoord verloor, IT nie jou data weer sal kan opspoor nie.
  5. Laastens kan jy ook jou data in die wolk stoor. OneDrive is een voorbeeld van wolkberging, maar GoogleDrive of Dropbox is ander opsies. Wolkberging is slegs vir persoonlike gebruik en nie vir enige akademiese of sensitiewe data nie. Onthou ook dat, indien jy meer as een toestel het, jou data op alle toestelle sinkroniseer moet word en kostes noodwendig betrokke is. 

Vir meer wenke en hoe om Windows se outomatiese rugsteun-funksie te aktiveer, lees gerus op www.backblaze.com.

 

Tags: ,

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.